Van Orania tot by die seeskilpaaie
In deel twee van EVAN NAUDÉ se reis tussen die mees noordelike dorpe van Suid-Afrika se wes- en ooskus, ry hy van Orania na Kosibaai en ontmoet hy mense met ’n passie vir ou rygoed, die land se geskiedenis en die natuur.
Dis vroegoggend toe ek by Orania uitry. Die lug is vars, maar ’n mens kan voel dit gaan weer ’n warm dag wees, veral nou dat ek van die water af wegdraai. Sedert ek my reis ’n week gelede begin het, was die Oranjerivier nog heeltyd naby. Van sy mond in Alexanderbaai, verby Pella en Kakamas, na Upington, waar hy suidwes swaai verby Orania. Om by my eindbestemming te kom, Kosibaai aan die noordelike kus van KwaZulu-Natal, moet ek nou noordoos oor die Vrystaat ry. En dis langs dié agterpaaie waar ek hoop om nog nuwe plekke en hulle mense te ontdek.
’n Snaakse plek vir ’n koffiepit
Die eerste dorp wat ek kry is Koffiefontein. Al wat ek van Koffiefontein weet, is dat daar ’n hengse gat buite die dorp is en ’n koffiepot-monument by die ingang. En dis genoeg om my nuuskierig te maak. Ek reken ’n biblioteek is ’n goeie bron van kennis en daar is hoeka een in Groot Trekstraat.
“Trekkers het ’n koffiepit in ’n put hier gekry, en daar het dit begin,” sê Tieneke van der Merwe, die dorp se bibliotekaresse, terwyl sy oor haar bril se raam vir my kyk. Haar donker hare is kortgeknip, en haar blou grimering pas by haar brilraam en haar bloes. “Die plaas is eers Koffieput genoem, en toe later Koffiefontein,” sê sy. “En die put is nog daar,” sê sy, “hulle kry nog water daaruit.”
Tieneke vertel die dorp het as ’n boeregemeenskap ontstaan en later is daar diamante ontdek. Vandaar die groot gat buite die dorp. En tydens die Tweede Wêreldoorlog was hier ’n groot interneringskamp vir Italianers, Duitsers en Suid-Afrikaners. Ek kan nie onthou wanneer laas ek in ’n biblioteek was nie, so ek wonder oor ’n moderne biblioteek se rol. “Lees is bietjie baie af deesdae,” vertel Tieneke. “Dis nou net die ou wat nog regtig ’n liefde vir lees het, wat nog weet wat ’n biblioteek is.” Dis nou meestal ’n plek waar skoolkinders bronne vir skooltake kry. “Ons het
drie rekenaars met internet, maar ons verwys hulle nog eerste na die boeke,” glimlag Tieneke. “Ons wag nog vir ons tablets met wifi.”
Al sê sy sy is op haar ouderdom gelukkig in Koffiefontein, verstaan sy die jonger geslag se dilemma. “Vir jongmense om hier te bly is maar moeilik. Werksgeleenthede is min en hier is nie die liggies van die stad se naglewe nie,” sug sy.
Ek verlaat Koffiefontein noordwaarts op die S576-grondpad tot waar dit by die N8 aansluit. Ek draai links, kruis die Modderrivier en draai regs op die Perdeberg-grondpad. Ek hou op dié agterpaaie deur Dealesville en Bultfontein tot in Welkom.
Nostalgie, steak en Fords
Op plattelandse dorpies vind ek dit dikwels makliker om ’n gevoel vir ’n plek en sy mense te kry as in stede. Jy vra eenvoudig by die naaste padstal of koffiewinkel wie die interessante karakters op die dorp is, en voor jy weet gesels jy met iemand soos daai ski-oord-eienaar in die Noord-Kaap ( WegRy #82). Welkom is lankal nie meer ’n plattelandse dorpie nie, en ek is net een aand hier, daarom ek bel ’n vriend wat hier grootgeword het om te hoor waar ek ’n lekker steak kan eet. “Gaan kuier by Louis van der Riet by Mojo’s,” raai hy my aan.
Ek bestel ’n kruisskyf met pikante soetrissies en fetakaas. Ek gaan wag by die kroeg. Op die toonbank lê stapels boeke en teen die agterste muur waar jy gewoonlik rye drankbottels verwag, is daar ’n deurmekaar versameling sierade – speelgoedkarretjies, banknote van ander lande, ’n houtmodel van ’n fregat, Jack Daniels-versamelblikke en, les bes, ’n blou bra. Laat ek nie die kans verspeel om boek te lees by ’n kroeg nie, dink ek, en blaai deur ’n ou Guinness WorldRecords.
Kort ná my steak kom Louis ook daar aan, sy skof in die kombuis nou verby. “Drink jy dié goed?” vra hy en skink vir homself ’n tequila terwyl hy vir my deur ’n ronderaambrilletjie loer. “Ja, maar nie vanaand nie,” keer ek vir môre se vroeg opstaan. Ek vra hom uit oor Welkom. “Welkom in Welkom, ons spoeg in die stof hierso,” sê hy so half skertsend. “Welkom is apaties – is dit die woord? As Steve hier is kom almal. En daai bleskop ou wat die kos maak ... Nataniël,” sê hy en vertel my dat die dorp op die rug van die gebied se mynbedrywighede ontstaan het, maar dat daar moeilikheid met die myne in die laaste jare was. En hy mis die dae voor malls, casino’s en franchises. “Hier is iets soos drie KFC’s! Die k*kste kos in die wêreld,” sê Louis met ’n grynslag. Gelukkig is daar darem nog plekkies soos joune Louis, dink ek toe ek huis toe gaan, waar ’n mens nog nostalgies raak by ’n boek-kroeg. En ’n ordentlike steak eet.
My bestemming vir die volgende dag is Newcastle en dis min of meer ’n reguit lyn oos met grondpaaie tussen Steynsrus, Lindley, Reitz en Warden. Ek het darem al gehoor van Reitz, maar die ander dorpe is plekke waarvan ek moontlik nooit sou gehoor het as ek nie doelbewus die agterpaaie ry nie. Bloot ’n naam op ’n kaart waar ek nie noodwendig sou stop nie. Toe ek egter deur Lindley ry, vang ’n ry klassieke Fords in die vertoonvenster van Lindley Auto langs die petrolstasie my oog.
Die plek behoort aan Paul Fouché, ’n oudhedeversamelaar. In die Toeka-museum langs die skouvloer waar die voertuie staan, is daar ’n indrukwekkende versameling. Van vuurhoutjiedosies en kosblikke, tot strykysters, tikmasjiene en ou Landbouweekblaaie en Huisgenote.
As jong man het Paul sekere dinge begin bymekaarmaak. En sy versameling groei steeds. “Ek het maar altyd ’n oog vir ou emaljeborde gehad en hulle toe begin bymekaargemaak. Nou is die wêreld mal oor dié borde!” sê hy laggend. Al is ’n Huisgenoot van 1964 vir my hóé interessant, is dit eintlik die Fords in die vertrek langsaan wat my aandag boei. Paul vertel hy was ’n vakleerling by ’n Ford-handelaar in die 70’s en dis daar waar sy liefde vir die handelsmerk begin het. “Die Ford-ding was vir my nog altyd naby aan die vel,” vertel hy. “Dis die handelsmerk wat my gegee het wat ek vandag het.”
Hy gaan wys my sy trots: drie Cortina’s en ’n Capri, elkeen perfek gerestoureer. “’n Mens moenie haastig wees as jy aan ’n voertuig werk nie. Dít is die geheim. Daar is nie shortcuts nie, jy moet ’n ding reg doen of glad nie,” sê hy nadat hy verduidelik het hoe lank ’n mens soms vir ’n oorsese onderdeel moet wag. Sy gunsteling is ’n wit 1966
Mk 1 Cortina GT. “Dit het aan ’n ou tannie behoort wat die ding opgery het. Dit was net ’n bondel yster toe ek dit gekry het, ek is die tweede eienaar,” vertel hy. Langsaan staan ’n rooi 1967Mk 2 Cortina GT, ’n geel 1971-Mark 3 Cortina GT en ’n 1971-Capri. “Die ontwerper van daardie dae het seker sy voet iewers in ’n vliegtuigdeur vasgeknyp, want elke kar het vier guages!” skerts Paul terwyl hy my die binneruim wys.
Ek wou nog vir Paul vra hoeveel daai Capri my sal kos, maar ek kry die idee ek gaan nie van die antwoord hou nie, daarom groet ek maar en vat die pad. Nou is Lindley nie meer net ’n naam op ’n kaart nie.
Vaarwel, Vrystaat
Ek druk deur na Reitz en van daar af grondpadlangs na Warden langs die N3. ’n Raps meer as 36 km verder bereik ek Verkykerskop en mik van hier af vir die Normandienpas. Die pas sit feitlik op die grens van die Vrystaat en KwaZuluNatal. Wanneer ek by Die Ark-uitkykpunt stilhou, verwelkom die uitsig oor die wye landskap my in die provinsie. Ek vat my tyd om die pas te geniet en kom net ná sononder in Newcastle aan.
Soos my reis deur die land my ooswaarts gelei het, het die landskap rondom my stadig maar seker meer lewe begin kry. Van die dorre Richtersveld na die druiweboorde van die Noord-Kaap en die mielielande van die Vrystaat. Nou lê skynbaar eindelose groen heuwels voor my. En in KwaZulu-Natal is die natuur en die geskiedenis van die gebied ewe ruig. Die gebied word nie verniet die Slagvelde genoem nie en die natuurskoon staan in kontras met die bloedige geskiedenis wat hier afgespeel het.
Die volgende oggend is my eerste stop ná Newcastle die Bloedrivier-monument. Hier ontmoet ek vir GJ Grobler, ’n jong man van 23 jaar oud. Sy blou denimbroek en wit Ecko-hemp onderskei hom nie noodwendig van ander in sy generasie nie, maar sy passie vir geskiedenis wel. As boorling van hierdie gebied lê die storie van sy voorvaders hom na aan die hart en al is hy jonk, is hy ’n uitstekende bron van kennis. Hy wys my die museum waar hy my eers oor Zoeloe-geskiedenis wysmaak voordat ons ’n draai by die monument gaan maak. In ’n sirkel staan 64 gietysterossewaens, die naaste wat ek ooit aan ’n regte boerelaer sal kom. “Hierdie is so naby aan die oorspronklike ligging van die laer as moontlik, maar heelwat kleiner as die oorspronklike skaal,” verduidelik GJ. Terwyl ons tussen die waens loop, verduidelik hy stap vir stap hoe die veldslag plaasgevind het. Ek weet nie of dit die ligte briesie of die storie is wat my hoendervleis gee nie.
Ons raak aan die gesels oor die lewe van ’n jongmens in hierdie geweste. Dit grief GJ dat hy in ’n huis met veiligheidshekke en diefwering moet woon, maar hy is nietemin hier gewortel en hy sal die uitdagings vat soos dit kom. “Ek boer omdat dit in my siel is. Ek boer omdat dit deel is van my lewe om vir jou kos te gee,” sê hy en kyk my reguit in die oë.
Ek kruis die Bloedrivier en vat die R63 suidwaarts. Ek hou vinnig stil by Isandlwana, die plek waar die Britte in Januarie 1879 ’n slegte kennismaking met die Zoeloe-nasie gehad het. ’n Mag van 1800 soldate was nie opgewasse teen 20 000 Zoeloekrygers nie en hulle het góéd slae gekry. Sowat 1 300 Britte het gesneuwel, maar net ’n 1 000 Zoeloes. Vandag merk hope wit klippe en gedenkstene waar die Britse grafte lê, maar behalwe vir ’n beeldhouwerk van die Isiqu, ’n Zoeloe-medalje vir dapperheid, sien ek nie gedenktekens vir die impi’s nie.
Van Isandlwana hou ek suid met die R68. Dis ’n lekker teerlint oor heuwel na heuwel en toe dit my later verby Nkandla vat, besef ek watter ander belangrike hoofstuk van die land se geskiedenis tans hier geskryf word.
Dit sous teen die tyd dat ek by ’n vriend in Eshowe se huis aanklop. Later slaan die donderweer die elektrisiteit uit. Ná maande se droogte is die water welkom en bring weer ’n gevoel van hoop vir die toekoms. Hier in die middel van die slagvelde, dink ek, is dit miskien ’n metafoor vir ons land.
Waar skilpaaie swem
Ek spandeer die volgende dag grotendeels in die Hluluwe Umfolozi Nasionale Park. Ek ry van suid na noord deur die park. Anderkant die park vat ek die
R22 na Sodwana, waar ek oornag.
Vroeg die volgende oggend gaan maak ek ’n draai op Sodwana se strand om te sien hoe lyk een van die gewildste skubaduikbestemmings in Suid-Afrika. Dit woel op die strand soos skubaondernemings se bote kliënte op- en aflaai. Eenkant staan ’n groep 4x4’s met leë bootwaens – vissermanne wat al voor sonop uit see toe is. Volgende keer, belowe ek myself, is dit ek, my skubatoerusting en die koraalriwwe.
Op pad terug van die strand af sien ek ’n formidabele stuk beeldhouwerk, in die vorm van ’n middelvinger, langs die pad. Op ’n tafel onder ’n afdak is daar ’n gros kleiner handjies wat elkeen ’n bierbottel vashou. Ek hou stil om ondersoek in te stel.
Dumisani Ncube se Engels is nie watwonders nie en ongelukkig het hy min tande. Boonop praat hy sleeptong, so dis effe moeilik om hom te verstaan. Ek verstaan darem hy is die beeldhouer, en vra wat die betekenis van die middelvingers is. Al wat ek uit hom kry is: “It means f*ck you!” Hy lag met sy klawerbord-tande en lig sy eie middelvinger na my toe. Nou maar toe!
Van Sodwana mik ek noordwaarts. Aanvanklik kies ek ’n sand-tweespoorpaadjie deur inheemse woude wat, volgens Tracks4Africa, tot net duskant die hek na Sibaya-meer lei. Kort nadat ek deur ’n vlak Sodwanarivier ry, raak die tweespoor al hoe meer toegegroei en word ek gedwing om oos na die D1848grondpad af te draai. Gelukkig vat dié pad my gou deur die hek en ek mik dadelik met ’n tweespoorsandpaadjie af na 9 Mile Beach. Dis ’n lieflike rit deur digte woud na ’n ongerepte en byna verlate strand, afgesien van ’n paar vissermanne. Hulle waarsku my dat ek nie my voertuig buite sig moet los nie, daarom stap ek net ’n kort draai op die strand voordat ek weer in my spoor terugry na die pad wat verder noord loop.
Die helder water en spierwit sand is aanloklik vir ’n swem, maar ek durf nie voet in die water sit nie, want hier is heelwat krokodille en seekoeie. Ek koel toe maar in die bakkie af.
Die tweespoor hou noord tot waar dit by die R22 aansluit en kort voor lank kom ek aan by Kosibaai, die laaste dorpie van my reis.
Dis ’n lieflike rit deur digte woud na ’n ongerepte en byna verlate strand, afgesien van ’n paar vissermanne.”
Ek slaap die aand by Kosi Bay Lodge. Ek sien al die hele reis uit na een ding wat uniek is aan hierdie stukkie kuslyn: Elke jaar broei daar hordes seeskilpaaie hier uit. Ek gaan vind uit by ontvangs hoe en waar ek die seeskilpaaie kan sien. Bhanganek, wat deur die Ezemvelo-reservaat bestuur word, is die plek, maar omdat die seisoen feitlik verby is, sal ek vanaand self strand toe moet ry.
Volgens die ontvangsdame werk die storie só: Eers moet ek ’n plaaslike gids R150 betaal om my die pad na Bhanganek te wys (en ook my kar op te pas terwyl ek skilpaaie soek) en van daar vat ’n tweede gids van Ezemvelo my strand af, ook vir R150. Teen R300 is dit waarskynlik die goedkoopste wat dit my sal kos, want ander toere vereis dat daar ’n minimum getal mense in die groep moet wees. Toe stem ek maar in.
Ek ontmoet my gids, Raphael Mkumbuzi, by die lodge se ingangshek. Aanvanklik het ek gedink ek kan Bhanganek self haal met Tracks4Africa op die GPS, maar in die donker sien ek dat Raphael van groot hulp gaan wees. Terwyl hy my deur die doolhof van sandpaaie deur die woud lei, gesels ons oor die lewe. Hy is ’n jong Zoeloe-man van 24 jaar oud. Hy lag vir my toe ek vertel hoeveel ek vir ’n woonstel in die Kaap betaal. Hy het al ’n vrou en kind en ’n vyfslaapkamerhuis wat hy self gebou het. Een van die dae gaan hy sy skipperlisensie kry, sê hy, en dan kan hy toere op die water ook aanbied.
Kort voor lank is ons by die strand waar ons veronderstel is om die tweede gids te ontmoet, maar niemand is in sig nie. Net toe ek, alleen in die donker op ’n verlate strand, oor die affêre begin twyfel, kom daar ’n lang man met ’n neonbaadjie uit die donker nadergestap. Dis my gids, Simanga Mageba.
Ons begin strand af stap. Simanga se flits vee heen en weer oor die strand op soek na neste. Hy waarsku dat ons ’n uur of drie kan stap sonder om iets te sien. Dan, skaars 25 minute se stap verder, trek iets sy aandag. “Jy is gelukkig,” sê Simanga en sy flits se straal hou stil.
In die ligkol steek ’n klein koppie, so groot soos ’n duimnael, uit die sand. Piepklein ogies aanskou die wêreld vir die eerste keer. “Hulle sintuie stoor inligting in hulle geheue oor hierdie plek sodat hulle as volwassenes kan terugkeer om eiers te kom lê,” verdui- delik Simanga. Kort voor lank peul daar ’n horde klein karetskilpadjies uit die nes en begin lomp-lomp in ’n streep af water toe wriemel. Al sukkel die outjies en is daar honger krappe oral rondom ons, mag ons nie met die natuur inmeng nie. Gelukkig is daar hierdie keer min ongevalle.
Ons wag tot die laaste skilpadjies in die vlak water verdwyn. ’n Mens kan nie help om die kleintjies voorspoed toe te wens nie. Eendag, jare van nou af, sal hulle weer na hierdie einste strand terugkeer.
In daardie opsig kan ek met die seeskilpad vereenselwig, want maak nie saak hoe ver en wyd ’n mens reis nie – jy bly hunker na jou geboorteplek. Veral wanneer daardie plek die suidpunt van Afrika is.