Die klimtoets
Met die Ford was dit moontlik om teen 1 500 r/min stadig teen die helling uit te ry. Klein versnellerinsette teen hierdie lae enjinsnelheid het dadelik reaksie getoon. In geen stadium het dit gevoel of hy gaan sukkel nie. As jy van wringkrag hou, gaan jy nie sommer ’n Ranger kan ignoreer nie.
Met die outomatiese ratkas in eerste rat het sy afdraandremhulp perfek gewerk. Geen drama nie, geen probleme nie.
Daarna het ek gou in die Hilux gespring om hom teen die Ranger te vergelyk. ’n 2,8 liter-enjin sal mos meer sukkel as ’n 3,2 liter, of hoe? Wel, toe nie. Trouens, dit was onmoontlik om teen 1 500 r/min enige verskil tussen die Hilux se 450 Nm en die Ranger se 470 Nm aan my bas te voel.
Die volgende was die Amarok. Nou, hy’t nie laestrekratte nie, maar ons weet dat die hidrouliese “glip” van die ratkas se wringkragomsetter hom help, amper soos ’n handratkas waarvan jy die koppelaar laat gly-gly as jy teen ’n steil opdraande wegtrek (dis in leketaal, derhalwe vra ek die nerds om my asseblief nie te kruisig nie).
Dit was egter duidelik dat hy dit nie teen 1 500 r/min kon maak nie. Hy’t eenvoudig stil gaan staan en jy moes die versneller omtrent halfpad wegtrap sodat die enjintoere tot net bo 2 000 r/min kon styg, vanwaar hy die bult uit is. Die 2 liter-enjin, weet ons nou al, kan alles doen wat die res kan doen, maar hy’t net meer enjintoere nodig om die werk te doen.
Sy afdraandremming moes uit die aard van die saak meer ingryp omdat hy nie laestrekratte het nie en dis asof hy aanvanklik te veel spoed optel voordat die stelsel ingryp.
Die Isuzu was fieterjasievry en eerlik. Met hom het dit ook effens meer versneller as met die Hilux en Ranger gekos, maar hy het nogtans maklik daar uitgeklouter. Omdat hy geen afdraandremhulp het nie, moes hy hom maar van die begin af rem. Vir my was dit geen probleem nie, want ek het leer 4x4-bestuur lank voor elektroniese hulpmiddels, maar nuwe 4x4-bestuurders sal hierdie vaardighede moet ontwikkel.