Die kliptoets
Klipbokkop het, soos die naam aandui, nie ’n tekort aan klippe nie. Ons roete was nie langer as 2 km nie, maar in daai afstand klim jy kwaai, met twee skerp haarnaalde waar jy nêrens heen gaan sonder ’n ewenaarslot nie. Dít en goeie grondvryhoogte vir die klippe. Want dit maak nie saak watter mooi lyn jy probeer kies nie, dis nie ’n kwessie van óf jy ’n klip se “ketonk!” iewers onder ’n bakkie gaan hoor nie, maar eerder wannéér jy dit gaan hoor. En nou praat ons nie van die voertuie se treeplanke nie – hulle stamp in elk geval orals – ons praat van die rygoed se pense.
Die Ranger het so stabiel en rustig soos ’n skip gevoel, met klippe en ongelykhede wat niks meer as klein irritasies was nie. Sy wringkrag en grondvryhoogte het hom ’n plesier gemaak, hoewel die hoë, vierkantige enjinkap dit soms moeilik gemaak het om deur smal openinge tussen die rotse deur te mik. Sy Continental Cross Contact AT-bande het gehelp met greep, hoewel ek uit ondervinding weet dat hulle sywande baie kwesbaar is vir klippe.
Die Hilux was effens meer stamperig as die Ranger oor die klippe, maar reeds ’n groot verbetering teenoor sy voorganger, wie se ingenieurs waarskynlik deur ’n bokwa geïnspireer is. Sy pensplaat voorlangs het wel eenkeer die bekende “ketonk!” geskree, maar verder het hy alles moeiteloos hanteer.
Die Isuzu was verbasend stamperig op pad boontoe en af ondertoe. Wat in sy guns getel het, was die puik uitsig wat die bestuurder vorentoe gehad het weens die skuins enjinkap, waarvan jy amper nie bewus was nie. Interessant genoeg skakel sy ewenaarslot na ’n paar minute vanself af, dus moet jy hom maar goed dophou en elke nou en dan weer aanskakel. Ook hy het ’n paar keer “ketonk!” geskree.
Die Amarok het nêrens gestamp terwyl ek hom gery het nie. Dis nogal interessant, want op papier het hy die laagste grondvryhoogte (192 mm), terwyl die Hilux, met die hoogste grondvryhoogte (286 mm), se pens wel ’n keer of wat gestamp het. Wat leer dit jou? Dat jy jou nie altyd teen syfers moet blind staar nie. En dat die vervaardigers baie kreatief kan wees met waar hulle sekere goed meet.
Met die afkomslag was dit soms moeilik om peil te trek op sy afdraandremhulp. Soms het dit gevoel of hy begin weghardloop met jou, waarna jy self moes begin rem het. Dan het dit gevoel of hy homself weer vir ’n rukkie in toom hou. Tot die volgende skerp afdraande. Dis nie ’n reusagtige probleem nie, en ek dink as jy jou tegniek aanpas, behoort jy nie te sukkel nie.