Weg! Ry & Sleep

DIE ANTWOORD

-

DIS ’N GOEIE VRAAG. DIE ANTWOORD IS NATUURLIK SUBJEKTIEF EN HANG AF VAN JOU PERSOONLIK­E KEUSE OF VOORKEUR. MAAR, SOOS JY IN JOU VRAAG VERSOEK, HIER IS DIE 20 BELANGRIKS­TE DINGE WAT JY MOET OORWEEG AS JY TUSSEN ’N GROND- OF DAKTENT MOET KIES:

1. ’n Grondtent moet op ’n plat, gladde en gelyk oppervlak opgeslaan word. ’n Daktent kan gelykgemaa­k word deur jou ryding se wiele op ’n rots of houtstuk te laat rus. Jy kan ook ’n gat grawe vir een van die wiele. 2. Grondtente is in ’n verskeiden­heid groottes beskikbaar: van eenmantent­e tot reuse gesinstent­e. Tente kan ook aan mekaar vasgerits word vir ekstra spasie, soos vir ’n kombuis of badkamer. 3. ’n Daktent kan toegevou en afgeslaan word met die beddegoed binne-in, wat ruimte spaar. Dit slaan ook vinniger op wanneer jy by die volgende kampplek stilhou. 4. In die snerpende koue gaan baie hitte verlore tussen die tentvloer en die grond, terwyl daktente beter teen die koue geïsoleer is. 5. ’n Grondtent is gewoonlik aansienlik goedkoper. 6. As jy ’n gespanne kampeerder is, sal ’n daktent jou uit roofdiere se kloue hou. 7. ’n Daktent hou jou droër as die hemel sy sluise ooptrek. 8. Dis makliker om ’n daktent skoon te hou – binne en buite. Die tent staan nie tussen die stof op die grond nie en die meeste sand skud van jou voete af

wanneer jy teen die leer opklim. 9. Hoewel daar tente op die mark is wat maklik opslaan, slaan ’n daktent oor die algemeen makliker op as grondtente, ook as jy nie genoeg hande het nie en dit op jou eie moet doen. 10. Omdat die daktent permanent op jou dak vasgemaak word, hoef jy dit nie in winderige toestande te beveilig nie. ’n Grondtent moet egter dikwels met penne vasgekap word, wat moeilik is op klipperige terrein. 11. Die meeste daktente is taamlik swaar, wat beteken dat jy ekstra gewig op jou dakrak sit en daarom jou voertuig se swaartepun­t lig. 12. In die meeste gevalle moet ’n daktent op ’n dakrak geïnstalle­er word, wat ekstra koste beteken. 13. Die daktent neem omtrent die hele dakrak in beslag, tot 80%. Wat minder pakplek vir ander dinge los. 14. ’n Daktent sal waarskynli­k jou voertuig

se brandstofv­erbruik opjaag. 15. ’n Daktent maak nagtelike uitstappie­s na die toilet effens meer van ’n uitdaging. 16. Grondtente word oor die algemeen aan meer stampe en stote blootgeste­l en het ’n korter leeftyd as ’n daktent. 17. Dis meestal makliker om grondtente tweedehand­s te verkoop omdat meer mense dit gebruik. 18. Grondtente bied oor die algemeen groter veelsydigh­eid en vryheid wat kampplek betref. (Jou voertuig kan nie altyd tot by die beste staanplek ry nie.) 19. ’n Daktent is ongeriefli­k op ’n wildrit. 20. Daktente werk lekker op boswaens. Dan word baie van die daktent se nadele uitgeskake­l.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa