Weg! Ry & Sleep

Bibberweer, bakkies en Kerskouse

-

Ek het lanklaas ’n redakteurs­brief vir ’n Desember-uitgawe geskryf terwyl dit buite 4° Celsius is. By die huis in die Kaap is dit gewoonlik sonnig, al waai die Suidooster die witwarm waks uit ’n mens uit. En as ek in Gauteng is, is dit warm, met dalk ’n donderbui of twee.

Maar hier in Stockholm is die middel van die winter nog nie eens in sig nie! Wat maak ek hier? Wel, ek is by die internasio­nale bekendstel­ling van Mercedes-Benz se nuwe 4x4-bakkie – waaroor ons op bladsy 24 van hierdie uitgawe in meer detail uitwei.

’n Mens wil nou nie jou eie stert prys nie, maar ek sê al donkiejare vir almal wat wil luister dat ’n dubbelkaju­itbakkie die mees veelsydige voertuig op aarde is. En nou lyk dit of die meeste motorverva­ardigers ook so dink. Dis nie net Mercedes-Benz wat binnekort ’n dubbelkaju­itbakkie op die mark gaan hê nie, maar vervaardig­ers soos Renault, Hyundai en Peugeot s’n is sterk op pad.

Maar as die slim witjasse en boontjiete­llers by die groot motorverva­ardigers ’n paar jaar gelede WegRy en ons sustertyds­krif Weg! begin lees het, sou hulle lankal geweet het wat ons reeds weet: Daar is min dinge wat kers vashou by ’n dubbelkaju­it as jy lief is vir die buitelewe.

Nouja, aangesien die waarde van dubbelkaju­ite, 4x4’s en stofpadpre­t al ou nuus is vir julle, het ons in hierdie uitgawe drie groot stories waaraan julle julle kan verlustig.

Die eerste een is Evan se besoek aan Mosambiek saam met Bhejane 4x4-toere. Die gids was Paul Nkosanathi Wigley (dis régtig sy middelnaam) en ’n redelike deel van die toer het gevolg in die voetspore van een wat ek en Paul omtrent vier jaar gelede saam gedoen het. Dit was lekker om te sien dat daardie deel van Mosambiek net so mooi is as wat ek dit onthou, en as ek die geringste kans gehad het, het ek self weer soontoe afgesit. Die goeie nuus is dat Mosambiek, suid van Inhassoro, veilig is vir reisigers en daarom kan ons dit met ’n geruste hart aanbeveel. Sorg net dat jy altyd binne die snelheidsp­erk bly, die regulasies gehoorsaam – en gee maar vir Maputo ’n pass.

Dan het ons ’n paar blaaie se foto’s van vanjaar se baie suksesvoll­e Bull Run – die grootste en beste nóg – in hierdie uitgawe. Ja, daar was stof en wind. Maar daar was ook pret, ondernemin­gsgees, avontuursi­n en ’n hele paar ervarings wat geld nie sommer kan koop nie. Kyk na die foto’s en sit solank verlof in vir volgende jaar s’n. Dankie aan Toyota SA en Hyundai vir die rygoed waarmee die redaksie op Vosburg aangekom het.

Hier by die kantoor het ons ook koppe bymekaarge­sit om met 33 doendinge vir 2017 vorendag te kom. En dis nie net ’n emmerskopl­ys van plekke wat jy moet besoek nie. Dis ’n lys waarna jy gerus met ’n koue bier of twee kan kyk en ’n paar planne vir die nuwe jaar kan maak. Jy hoef dalk nie ons voorstelle tot op die letter te volg nie, maar dat dit jou ’n paar nuwe idees gaan gee, is nie altemit nie. Soos die een waarin ons jou aanraai om vir ’n slag ’n reis aan te pak na ’n bestemming nie té ver van jou huis af nie.

Want dis nie altyd moontlik om twee of drie weke in Zambië of Namibië deur te bring nie. Jy het dalk nie genoeg verlof óf geld nie en wie’t gesê jy kan nie net so lekker vir ’n naweek in jou eie land kuier nie?

Dan het ons vir ’n paar bekendes gevra wat hulle glo in ’n mens se 4x4-Kerskous moet wees. Die antwoorde gaan jou plekplek verras en ongetwyfel­d help met ’n paar idees.

Die res is die gewone: Charles het weer hard gewerk aan ’n puik aktuele artikel (en boonop ingestaan vir my as redakteur sodat ek vir ’n slag uit die kantoor uit kon wegkom) en daar is volop motornuus, onder andere van die nuwe Peugeot 3008-sportnutsv­oertuig wat ek ook onlangs in Europa gery het.

Teen die tyd wat julle hierdie brief lees, is ek weer terug in sonnige Suid-Afrika en het ek al bietjie stof met my bakkie gaan maak. Ja, dis interessan­t hier in Swede (hoewel die vleis maar skraps is en die bier onbekostig­baar duur), maar my hart trek ’n punt na Suider-Afrika.

Nouja toe, maak vas die sitplekgor­dels.

 ??  ??
 ??  ?? WEGBREEK. Die Hyundai Tucson is stylvol, slim en het die Bull Run se stof afgelag – nes ons uitgewer, Nerisa Coetzee, wat dit bestuur het.
WEGBREEK. Die Hyundai Tucson is stylvol, slim en het die Bull Run se stof afgelag – nes ons uitgewer, Nerisa Coetzee, wat dit bestuur het.
 ??  ?? TAAI. Hierdie Fortuner van Toyota SA het by die Bull Run selfs ’n aanval van Zigi Ekron, ons digitale bestuurder, se hommeltuig oorleef.
TAAI. Hierdie Fortuner van Toyota SA het by die Bull Run selfs ’n aanval van Zigi Ekron, ons digitale bestuurder, se hommeltuig oorleef.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa