TRANS-BOTSWANA-TOER.
DAG 1
Ons kry mekaar in Letlhakane, Botswana, en kies dan koers op ’n sandspoorpad tot op die plat vlaktes van die Makgadikgadi-panne, waar ons ’n nag op Kubu-eiland deurbring.
DAG 2
’n Sonsopkoms oor die panne saam met jou koffie en beskuit is iets wat fotograwe nie sommer sal vergeet nie. Ná ontbyt stap ons om die eiland met sy interessante rotsformasies en reuse-kremetartbome. Dan mik ons noordwaarts op ’n tweespoorpad al langs die panne. Ons bestemming – ’n kampplek buite Maun.
DAG 3
Ons bring die oggend in Maun deur, waar ons inkopies doen en brandstof volmaak. Jy kan ook vir ’n uur oor die Okavango-delta vlieg (dis opsioneel en nie in die toerpakket ingesluit nie). Dan val ons in die pad na ons blyplek, op die oewer van een van die delta se hoofkanale.
DAG 4
Ná ’n paar dae se lang rywerk is dit tyd om te ontspan. Ons geniet ’n laat ontbyt in die kamp, wat bekend is vir sy voëllewe. Laatmiddag vat ons ’n bootrit in gemaklike aluminiumsnelbote deur die Okavangodelta se pansteelgebied.
DAG 5
Vandag mik ons na Namibië. Maar eers draai ons van die hoofpad af om die Tsodilokoppies met hulle meer as 3 000 Boesman-tekeninge te besoek. Ons hou piekniek in hierdie wonderwêreld, die hoogste punt in Botswana. Dan is dit verder noord tot by ’n skaduryke oornagkamp op die oewer van die Okavangorivier in Namibië, ons basis vir die volgende drie aande.
DAG 6
Vandag kan almal self besluit wat hulle met die oggend wil maak. Jy kan in die kamp ontspan of die nabygeleë Bwabwata-wildreservaat besoek. Daar is ook ’n rits ander aktiwiteite, soos kanoritte, kulturele toere en hengel naby die kamp. In die laatmiddag gaan ons op ’n bootrit op die Okavango. Al die aktiwiteite, met uitsondering van die bootrit, is vir jou eie rekening.
DAG 7
Ons besoek die Mahango-wildreservaat. Ma- hango spog met vier van die Groot Vyf en is bekend vir sy bastergemsbokke en swartwitpense.
DAG 8
Ons pak kamp op en kies koers via die Zambesi-strook (Caprivi) na ons volgende kamp, op die oewer van die Chobe net buite Kasane in Botswana. Hier sal ons die laaste drie nagte van ons avontuur bly.
DAG 9
Ná ontbyt gaan ons op ’n bustoer na die Victoriaval. Ons geniet ’n piekniekmiddagete, bekyk die omgewing en doen inkopies in die dorpie Victoria Falls. Jy kan avonture soos rekspring en helikopterritte aandurf (dit kos ekstra).
DAG 10
Ons doen ’n wildkykrit op ’n oop safarivoertuig deur die Chobe Nasionale Park, en ’n sonsondergangvaart op die Chobe-rivier. Ons kuier vir oulaas om die kampvuur en deel ons herinneringe.
DAG 11
Ons groet en vertrek na ons verskillende tuistes, maar net tot ons volgende avontuur saam!