Om met die Skoonmense
Alle pasgetroudes sukkel om by die skoonfamilie aan te pas. Ek het in ’n Skotse huis in die Kaap grootgeword en is salig gelos om my eie ding te doen, omring deur ander wat ook ’n effense klap van die windmeul weg het. My man se Sandton-familie is egter presies die teenoorgestelde, en dit het ’n kwaai kopskuif geverg om by hulle in te pas. Liggaamsfunksies word byvoorbeeld nooit bespreek nie. Winde word “fluitklappertjies” genoem, iets wat hulle klaarblyklik nooit doen nie, en dit is ondenkbaar om jou mond met ’n papierservet af te vee in plaas van ’n linnedoek. Die hemel behoed jou as jy so nou en dan sou swets, ’n blêddie gewoonte wat ek ongelukkig by my ma aangeleer het.
Dit is dalk hoekom ek nou nog sukkel om vrede te maak met die verskillende maniere waarop ons families vakansie hou. Ironies genoeg is my eie familie se idee van ’n boendoewegbreek ’n week in ’n luukse kamp in die Krugerwildtuin, met lugverkoeling, kraakvars linne en yskoue skemerkelkies langs ’n swembad. Om die een of ander vreemde rede, verkies die grênd Skoonmense egter om jaarliks vir twee weke in Augustus ’n 4x4 vol toerusting te prop en die stowwerige dele van Botswana in te vaar. Maak dit sin?
Tot dusver toe het my man my probeer oortuig dat dit pret is om te kamp deur staanplekke in spoggerige kampterreine te bespreek. Maar ek het geweet dit is onafwendbaar: Ek sou die een of ander tyd my huweliksplig teenoor hom moes nakom en saam met Die Skoonfamilie gaan kamp.
Vat een vir die span
Nadat hy my verseker het dat daar netjiese geriewe by al die bespreekte kampplekke in die Okavango-delta is, het ons ons kampgoed in die Amarok gelaai en die sowat 3 000 km uit die Kaap uit soontoe aangepak.
Drie dae later het ons by die kampterrein ingetrek. Die son was besig om in skake- rings van ligpers oor die delta te sak. Ons het reeds heelwat olifante gesien, en die lug het daai kenmerkende geur van Afrika-bosveld gehad. Ek was in die sewende hemel.
Ná ’n lang dag in die bakkie, en met my effens swak blaas, het ek uitgesien na die Kruger-styl badkamer, waar ek ’n warm stort sou neem voordat ek in my snoesige slaapsak sou inkruip en met die naggeluide in my ore aan die slaap sou raak. Die Skoonfamilie was egter reeds ’n paar dae lank daar en het al kamp opgeslaan. Ek het uit die Amarok gespring en met my oë na die baksteen-ablusieblok begin soek. Ek het gedink dalk moet ek ’n entjie
loop om dit te kry.
So, waar is die, uhm…?
“Liefie,” het ek met ’n stokstywe glimlag gesê. “Waar is die toilette?” “Daarso,” het hy ingedagte beduie na ’n daklose seilskuiling wat aan die voorkant toerits.
My moed het in my skoene gesak en my kop het geweier om dit te glo. Alles wat ek tot dusver van Die Skoonfamilie geweet het, was ’n leuen. Ek is gekul! Hulle is tog grênd mense wat sekerlik eerder ’n Porta-Potty sal saamsleep as om soos barbare ’n veldtie in die bos te vat? Maar ek was in vyandelike gebied en wou geen swakheid toon nie. Ek het dapper vir die graaf en die “witgoud” gevra, en my bes gedoen om nie ’n “fluit te klap” nie. So stil en diskreet as moontlik. Ek het duim vasgehou dat Die Skoonfamilie, wat skaars 50 meter verder probeer aandete kook het, my nie kan hoor nie.
Glo my, elke keer wat ek daai seil toegerits het, het ek stilweg in opstand gekom oor hoe laag ek noodgedwonge moes daal. Is daar ’n groter verleentheid as om jou nuwe man te vra om vir jou ’n nuwe gat te grawe en die magiese toilettent te skuif omdat die vorige gat oorlopens toe vol is?
Ten minste kan ek nou sê ek ken Die Skoonfamilie intiem (meer as wat ek sou wou), en vir die eerste keer in my lewe weet ek wat dit beteken om régtig te kamp. Dankie vir die waarskuwing, Skat.