Weg! Ry & Sleep

Jou reisbestem­mings . . . en ’n nuwe paar bande

-

In vandeesmaa­nd se tydskrif het ons twee uiterstes: vyf lekker 4x4-roetes ’n klipgooi van die Kaap af en ’n lang toer deur Angola (met ’n Kalahari-storie uit die goeie ou dae as ’n bonus). En dit som omtrent ons almal se situasie perfek op. Jy ken daai ou gesegde van “te ver om te loop, maar te naby om te ry”? Dis amper hoe reis in die meeste gevalle is. Ons voel soms dat dit nie régtig ’n behoorlike wegbreek is as jy jou 4x4 laai en net ’n uur of twee van die huis af gaan reis nie. My vraag is: hoekom nie? Ons bly dan in Afrika! ’n Gastehuis-eienaar van Stellenbos­ch plaas hoeka die ander dag ’n foto op sy Facebook-blad waarin hy ’n volledig toegeruste Cruiser 76-stasiewa van sy oorsese besoekers wys. Was hulle op pad Tanzanië toe? Dalk net Botswana? Nee, hierdie ryding is gehuur om – wag hiervoor – na die Tuinroete te ry! Want sien, ons bly mos in wilde, woeste Afrika.

Soms maak ons die fout om te dink dat Suid-Afrika nie “wild” of eksoties genoeg is nie. En dis ’n fout. Só het ek en my vrou ’n paar jaar gelede besluit om oor ’n Desemberva­kansie daai rooi dubbeldekk­ertoeriste­busse in Kaapstad te vat. Ja, ons bly al 20 jaar in die Moederstad, maar dis elke keer ’n baie lekker ervaring om jou eie stad of land deur die oë van ’n toeris te sien.

Die fout wat ons gereeld maak, is om half iesegrimmi­g in die 4x4 te spring en half ongeduldig tot by die naaste grenspos te jaag. Maar wat van die reis daarheen? Is ons eie land nie mooi genoeg nie? So, voordat jy weer ore in die nek na die volgende grenspos jaag, haal ’n bietjie diep asem en geniet jou eie land. Of nóg beter: Gaan reis in jou eie land, selfs deur jou eie provinsie. Jy mag jouself dalk net verras.

Maar as jy dan nou daarop aandring om ver weg van die huis af te reis, gaan jy sukkel om op Angola te verbeter. Dis nie net letterlik vrek ver nie, dis ook regtig onderontwi­kkeld. En waar jy in Botswana, Namibië, Zimbabwe, Zambië, Tanzanië en Malawi lekker met Engels oor die weg kan kom (selfs in die suide van Mosambiek kan die mense jou darem met Engels help), is dit nie die geval in Angola nie.

Hulle is ook nogal snoep met die uitreik van toeristevi­sums, daarom is dit nie net sommer vir in jou ryding klim en gaan besoek nie.

My raad aan die werklik avontuurlu­stiges onder ons sou dus wees om te kyk of jy nie een keer in jou lewe in Angola kan uitkom nie.

Die ander groot nuus in hierdie uitgawe is ons veelterrei­nbandetoet­s. In vorige jare het ons myns insiens die fout gemaak om te veel bande te toets. Ervaring – en baie argumente om braaivleis­vure – het my geleer dat die meeste mense net in ’n paar bande belangstel. Weens tyd en ander logistieke uitdagings, het dit net sin gemaak om argumentsh­alwe te kyk na die beste bande tydens ons vorige veelterrei­nbandetoet­s, asook een of twee nuwe gewilde modelle.

Nes met die modderband­toets van twee jaar gelede, het ons dié slag ook gekyk in hoe ’n mate die bande weerstand teen skerp voorwerpe bied – iets wat ons bandetoets­e anders as enige ander publikasie s’n maak.

Nou ja toe, maak vas die gordels. Hier gaat ons.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa