Is die nuwe Navara lig in die broek?
Sommige mense beskuldig die nuwe Nissan Navara daarvan dat hy ’n “vermomde Renault” is, deels vanweë sy kronkelvere agter, wat sommige beweer sy vragdravermoë beïnvloed. Maar is dit regtig die geval? wonder Mic van Zyl.
Die nuwe Nissan D23 Navara is onlangs te midde van groot belangstelling in SuidAfrika bekendgestel. Op sosiale media het dit gegons met positiewe en negatiewe kommentaar oor die Navara.
Baie van die gesprekke gaan oor die feit dat die Navara ’n gesamentlike Nissan-Renaultprojek is. Dit lyk asof min mense besef dat Nissan al vir amper ’n dekade en ’n half deur Renault besit word, en dat die maatskappy al vir járe saamwerk om produkte te ontwikkel en voertuigplatforms te deel oor ’n breë spektrum van modelle.
Blykbaar besef nóg minder mense dat Renault sedert 1999 Dacia Automotive besit, met verskeie Dacia-voertuie wat op Suid-Afrikaanse paaie met Nissan- en Renault-wapens rondry. Dit sluit in die gewilde Renault Duster, die Renault Sandero en, veral, die Nissan NP200-halftonbakkie, wat eintlik ’n Dacia Logan-bakkie is.
Daar is sprake dat Renault dalk self in die nabye toekoms die Renault-weergawe van die D23 hier gaan bekendstel. Wat selfs meer belangwekkend is, is dat Mercedes-Benz van plan is om ’n luukser dubbelkajuitbakkie, wat óók op die D23-platform geskoei is, hier bekend te stel. Dit is omdat Renault-Nissan en Daimler AG (Mercedes-Benz) ’n klein aandeel in mekaar se maatskappye het.
Voel vere vir die vering?
Een brokkie negatiewe kommentaar wat my aandag getrek het, was oor die Navara se nuwe agterste vering. Die D23 het kronkelvere, in teenstelling met die gewone bladvere wat meestal op Suid-Afrikaanse bakkies gesien word. Mense was veral besorg oor hoe die kronkelvere by die agterste as die vragdravermoë sal beïnvloed. Daar is beslis ’n persepsie dat kronkelvere nie soveel vrag kan dra soos bladvere nie, daarom het ek gaan navorsing doen.
Volgens die webwerf van Nissan Australië het die D23dubbelkajuit met bladvere ’n vragdravermoë van 1 147 kg, teenoor die 1 031 kg van die modelle wat kronkelvere het. Onthou egter dat die bladveermodelle ’n kajuitonderstel ( CabChassis) het, wat beteken dat dit nie standaard met ’n vraghouer ( load bin) verkoop word nie, net met ’n passasierskajuit en ’n oop onderstel aan die agterkant.
Handelsmense, wat ’n vlak bak aan die onderstel vasmaak pleks van die gewone laaibak, verkies dit so. Hierdie vlak bakke word so ontwerp dat dit ’n verskeidenheid modulêre staalbok- se vir gereedskap en toerusting kan akkommodeer.
Maar omdat die verskil in vragdravermoë tussen blad- en kronkelveermodelle net 116 kg is, sal jy in der waarheid eintlik dieselfde vragdravermoë hê as jy die gewig van ’n konvensionele laaibak by die kronkelveermodel byreken.
Dis eintlik niks nuuts nie
Hoewel die Navara se agterste kronkelvere groot nuus was in die bakkiebedryf, is dit nie die eerste nutsvoertuig wat hiermee toegerus is nie. Daar was ook al ander bakkies wat die opsie van kronkelvere agter gebied het, soos die Nissan Patrol Y61 in Australië.
Plaaslik is die Land Rover 110 en die 130 Defender net met kronkelvere agter verkoop, en albei kon beslis vrag dra.
Dit is ook ’n gegewe dat bakkies en sportnutsvoertuie met kronkelvere ’n beter ritgehalte bied as hul bladveer-eweknieë, veral by die agterste vere.
Volgende maand sal ek meer uitwei oor die tegniese aspekte van kronkel- en bladvere, en die verskille in vragdravermoë en ritgehalte wat hierdie soort vering bied.
Hoewel die Navara se agterste kronkelvere groot nuus was in die bakkiebedryf, is dit nie die eerste nutsvoertuig wat hiermee toegerus is nie.”