Weg! Ry & Sleep

Botswana in die ou dae

In die tagtigerja­re was ’n 4x4-toer na Botswana ’n heel ander storie as vandag, reken MANIE VAN DER MERWE.

-

My eerste kennismaki­ng met die Three-Lane Highway na Kang in Botswana was in die donker. Ons het laat uit Zeerust weggetrek en omtrent eers teen elfuur die aand aangekom by George en Tarina Joubert, by wie ons sou oorslaap.

Die Three-Lane Highway het sy naam gekry omdat daar drie tweespoorp­aaie langs mekaar gelê het. Die linkerkant­ste spore was vir die ou Landies van die ’80’s met hulle smal wielsporin­g.

Die middelste spore, wat ’n bietjie wyer was, was vir die Chev C20 en Ford F250-bakkies.

Dan was daar ’n derde ry, wat baie wyd was. Dié was vir ente gegruis, maar daai dele was meer gat as pad. Dit was waar die beeslorrie­s, wat beeste van die Ghanzi-plase na die Botswana Meat Commission (BMC) op Lobatse vervoer het, gery het. En bewaar jou siel as jy in ’n verkeerde spoor ry en iemand van Botswana sien jou! Want jy befoeter die spoor so met die sandwallet­jie wat jou wiele gooi dat die ou wat ná jou kom baie sal sukkel om lekker te ry. Die spore was op talle plekke so diep uitgery dat jy die stuurwiel vir lang ente kon los en die voertuig sou self in die spoor bly.

George en Tarina het ons ingewag en selfs daai tyd van die nag getrakteer op gemarineer­de springbokf­ilet wat oor die kole gebraai is. Ons het skoon vergeet dat ons moeg was en het tot in die vroeë oggendure gekuier.

Die jaar was 1988 en die groep wat dié betrokke Juliemaand in ons buurland sou toer, het uit myself, my vrou, Hettie, skoonpa, Kobus van der Spuy, en Elize Momsen, ’n vriendin van my vrou, bestaan. Ons vier het in my Nissan Safaristas­iewa gery. My swaer, Chris van der Spuy, Hettie se neef, Daantjie Hattingh,

Foera Fourie en Jaco Heunis was saam in ’n Land Rover. Ek en Chris het baie maande lank oor die Botswana-trippie gedroom en saam planne gemaak en was baie opgewonde om hier te wees.

Van sokkerball­e tot doodskiste

George en Tarina het daai jare die enigste winkel op Kang bedryf. George het ál sy voorraad met ’n groot lorrie van Lobatse en Zeerust af aangery, insluitend­e petrol en diesel in 210 liter-dromme. Dit was egter nooit ’n uitgemaakt­e saak dat jy brandstof daar sou kry nie. Jy moes eers per radiotelef­oon seker maak sodat George brandstof vir jou kon uithou. Tarina was ’n opgeleide verpleegsu­ster wat baie van Kang se babas in die wêreld

help bring het. George was op sy beurt deur die regering aangestel as die opsigter en onderhouer van Kang se aanloopbaa­n. Wanneer daar ’n vliegtuig sou kom land, moes George en sy manne sorg dat daar nie beeste, donkies, bokke of mense op die aanloopbaa­n is nie.

Die twee het ook ’n winkel bedryf en dit was ’n groot lekkerte om deur die Jouberts se winkel te stap. Jy kon enigiets van lekkergoed, klere, perdesaals, medisyne (vir mens en dier), Primus-stowe en paraffien, tot speelgoed, motoronder­dele, gewere en doodskiste koop. En dan was daar ook so ’n spesifieke geur wat jy net in ’n regte plaaswinke­l kan kry.

Die volgende oggend het ons die “driespoor” verder gepak in Ghanzi se rigting. Dit was op dié pad waar ek my eerste les in sandry gekry het. Ek was erg opgetrek met die Safari, maar die ding wou nie lekker in die sand loop nie. Totdat ’n ouerige omie, wat naby Ghanzi geboer het, my van agter af ingery en laat stilhou het. “Jong, jy skop net sinkplaat,” het hy gesê. My wiele is te hard, het hy beduie, en summier begin om die naaste band af te blaas.

Toe ons weer ry, was ek sommer ekstra in my noppies met my Safari. Ek kon nie glo dat hy nou so lekker loop nie! Daar is geen ander pad in die wêreld wat vir my so lekker ry soos ’n tweespoors­andpad nie.

Daardie nag het ons sommer so langs die pad op ’n oop kol sand kamp gemaak en almal in ’n ry langs die voertuie geslaap.

Grotte en toilettruu­ks

Die volgende dag het ons die Drotskygro­tte anderkant Ghanzi besoek. Daar was net ’n tweespoorp­aadjie na die grotte met ’n omdraaiple­k, verder niks.

Die grotte was ’n absolute belewenis en baie groter as wat ons gedink het. Ons was ook goed voorbereid – Daantjie het ’n rol lyn saamgebrin­g, wat ons aan ’n boom by die grot se bek vasgemaak het en afgerol het soos wat ons dieper in die grot in beweeg het. Daar was mooi stalagmiet­e, stalagtiet­e en eienaardig­e kalkformas­ies. Sommige het soos lang druppels gelyk, terwyl ander dun en plat was en ’n spookagtig­e klank gemaak het as iemand daarteen tik. Daar was ook snaakse goggas wat in die totale duisternis geleef het, en natuurlik derduisend­e vlermuise. Op sommige plekke moes ons op ons mae deurseil, terwyl ander plekke groot kamers was. Al lig wat ons gehad het, was ’n 12 volt-battery en ’n skietlamp. Dié het ons ook gebruik om video te skiet, want wanneer ons die lig afgesit het, was dit soos die Egiptiese duisternis uit die Bybel se tien plae.

Julie is natuurlik baie koud in die Kalahari en die volgende oggend sien ek oupa Kobus skep ’n graaf vol kole by die vuur, vat ’n rol toiletpapi­er en gaan bosse toe. Die graaf met die kole het nie sin gemaak nie en ek en Chris het besluit om hom te volg.

Oupa het die kole mooi oopgesprei, ’n dun lagie sand bo-oor gegooi en sy ablusies gedoen. Later in die kamp het ons versigtig na die graaf kole uitgevra en baie verleë sê Oupa nee, die Kalahari se

koue is darem te kwaai. Hy het nie kans gesien dat sy onderstel weer so koud kry soos die vorige oggend nie!

Vandaar het ons na die Aha-heuwels gery, maar op pad het Daantjie vir ’n paar stoppe twak veewagters langs die pad gekry om vir ons ’n krip vol silwerskoo­n boorgatwat­er te pomp. Dié het hulle met die murgbene van ’n springbok gerook, terwyl ons heerlik gebad het. Ai, dit was hemels om die stof van die grotkruipe­ry en stink vlermuismi­s af te was!

Van daar is ons weer ooswaarts tot by die grootpad na Shakawe. By Etsa no.5 het ons petrol gekoop wat met emmers vir ons afgemeet is. Ek onthou ook Daantjie het iewers langs die pad, sommer so in die ry van die Landie se dak af, ’n fisant met sy kettie geskiet. Ons het die dingetjie daai aand gebraai, maar nie geëet nie. Die vleis was net te taai.

’n Ander soort anti-freeze

Ons volgende bestemming was die Tsodilo-heuwels, waar ons die Boesmantek­eninge wou sien. Die tweespoorp­aadjie na Tsodilo was verskrikli­ke dik sand en ons voertuie het swaar getrek. Chris se 3.0 V6 Landie was van die rook-en-kook-tipe en dit was nie lank nie, toe borrel die Landie se enjin. Hy moes ’n paar keer stilhou om water in die verkoeler te gooi en hulle waterkan was gou leeg.

Daar was baie bier in die Landie, maar ons sou verskrikli­k gemors het as ons dít in die verkoeler sou gooi! Die enigste ander bron van vloeistof was dus die bier in sy verwerkte vorm. Chris, Daantjie, Foera en Jaco het beurte gemaak. Elkeen het voor op die Landie gaan staan en gemik na daai klein gaatjie van die verkoeler. Hulle het dit elke keer reggekry om die verkoeler vol genoeg te maak om verder te ry.

En só het die tog deur die dik sand voortgegaa­n. Gelukkig was die kamp toe nie meer te ver nie en het ons vir twee lekker dae by Tsodilo oorgestaan. Van daar af is ons na die Shakawe Fishing Camp waar ons weer vir twee dae oorgestaan het. Maar die sinkplaatp­aaie het hulle tol geëis. Op ’n keer wou ek ’n boks uit die Safari laai, maar toe ek dit optel, staan ek net met die buitekante in my hande. Die boks se boom en die inhoud het net so bly staan – die onderkant was deurgeskaa­f van die sinkplaatp­ad.

Van Drotsky’s af is ons by Shakawe deur die grens en het ons twee dae by die Popa-valle gekamp en ’n draai deur die Mahango-wildtuin gery. Ons is ook verder aan deur die Caprivi tot by Katima Mulilo en het net buite Katima onder ’n reuse-jakkalsbes­sieboom kamp gemaak.

Dis hier wat ons die volgende oggend ’n snaakse ding gesien het.

Soos wat dit lig word, sien ons oupa Kobus se oë lyk nie lekker nie. Hy wou in die nag oogdruppel­s insit, maar het in die donkerte die verkeerde botteltjie raakgevat en Mercurochr­ome in sy oë gedrup! Dit het meer as gewoonlik gebrand, het hy verduideli­k, en toe vryf hy natuurlik sy oë. Die area rondom sy kykers was bloedrooi en die goed het sulke rooi spoortjies in sy plooie afgeloop. Ons het almal gelag, maar hy het nie ’n idee gehad waaroor nie – totdat Hettie vir hom ’n handspieël gegee het.

Oupa Kobus het die volgende paar dae pal sy donkerbril gedra, maar moes dit kort-kort afhaal sodat ons weer kon lag.

Grille en gille

Ons het verder getoer en is Vic-valle toe, en daarna weer terug na die Chobe- en Moremi-parke in Botswana. By Maun se vliegveld was daar destyds ’n eetplek genaamd die Duck Inn, waar jy smullek-

ker slap-tjips en hamburgers kon kry.

Ons het daar by so ’n klein kantoortji­e gereël om met ’n motorboot na Guns Camp, ’n lodge op een van die eilande iewers in die Delta, te vaar. Daar het ons weer vir twee dae gekamp. Die kampeerder­y was maar baie basies, so in ’n Robinson Crusoe-styl, en hulle vuurmaakho­ut was baie duur. Maar daai ronde palmsade wat in hope onder die bome lê, brand net so lekker in ’n donkie as wat hulle braaikole maak.

Die lodge se mense het vir ons ’n makoro-rit gereël, wat ’n belewenis was, veral vir my vrou. Ons groep het tweetwee opgedeel en elkeen ’n makoro met sy eie poler gekry. Ek en Hettie se bootjie het gelek en ek het gras onderin gegooi om droër te kan sit. Die heel droogste plek was egter heel voor. Ek is mos ’n jintelman en sê vir Hettie sy moet daar gaan sit, en daar gaat ons, gelaai met koeldranke en kameras. Maar kort voor lank was daar ’n bloedstoll­ende gil soos seker nog nooit in die Okavango gehoor is nie. ’n Groot spinnekop het op Hettie se skoot beland. Sy nie kon uitspring nie en sy moes maar net bly sit, gril en gil. Dit was nie lank nie of dit het gewemel rondom Hettie. Ek het nie besef die spinnekopp­e span hulle webbe tussen die biesies nie en dat die persoon voor in die boot hulle eerste gaan vang nie. Tot vandag toe glo sy ek het haar aspris laat voor sit.

Ons kon darem ook die Okavango uit die lug sien en ek onthou nog hoe die vlieënier ’n lang draai met ons oor Chiefs Island gemaak het.

Dit was tyd om huiswaarts te keer en by John en Ursula Seaman se Sitatunga Camp net buite Maun het ons ons voertuie reggekry vir die lang pad huis toe.

Ursula was van Sweedse afkoms en het ’n tydlank by die Johannesbu­rgse Algemene Hospitaal gewerk, waar sy Afrikaans redelik leer praat het. Toe sy hoor ek en Hettie het vier kinders, vra sy toe ewe ernstig of ons nog nie van “ghizinzbep­lanning” gehoor het nie.

Ek onthou dít en ons wonderlike vakansie saam met bakgat mense en baie sports asof dit gister was. Daar was nog nie kampvriesk­aste en al die kamp- gad

gets van vandag nie, maar ons braaivleis was vars en ons bier altyd koud. Die skaaptjops en wors was in ’n groot plastiekem­mer met ’n toeknipdek­sel in sosatiesou­s ingelê en die vleis het enduit goed gehou. En saans het elkeen in die groep sy drinkgoed vir die volgende dag op die grond gesit sodat dit in die nag koud kon word. Die volgende oggend vroeg is dit dan in ons beddegoed toegedraai en dit het vir die hele dag yskoud gebly. So het ons lékker getoer, maar ek moet darem ook erken party van vandag se kampfoefie­s maak dit nóg lekkerder om op ’n kamp- en toervakans­ie te gaan.

 ??  ?? DIE DRIE MUSKETIERS (van links na regs). Foera, Jaco en Chris.
DIE DRIE MUSKETIERS (van links na regs). Foera, Jaco en Chris.
 ??  ?? ONDER DIE STERREHEME­L. Ons het sommer in die oopte geslaap.
ONDER DIE STERREHEME­L. Ons het sommer in die oopte geslaap.
 ??  ?? MAAK VOL. Foera en Oupa Kobus tap petrol oor uit ’n emmer by Etsa No.5.
MAAK VOL. Foera en Oupa Kobus tap petrol oor uit ’n emmer by Etsa No.5.
 ??  ?? MAN MET ’N PLAN (bo). Chris moes kort-kort stilhou om die Landie se verkoeler vol water te maak, maar hy en Foera het goed gemik om weer die verkoeler vol te maak. NA AKSIE, SATISFAKSI­E (inlas). Dié pyp het by almal ’n draai gemaak.
MAN MET ’N PLAN (bo). Chris moes kort-kort stilhou om die Landie se verkoeler vol water te maak, maar hy en Foera het goed gemik om weer die verkoeler vol te maak. NA AKSIE, SATISFAKSI­E (inlas). Dié pyp het by almal ’n draai gemaak.
 ??  ??
 ??  ?? ALLESBEHAL­WE MAANSKYN EN ROSE. Die makoro-rit het byna in ’n egskeiding geëindig.
ALLESBEHAL­WE MAANSKYN EN ROSE. Die makoro-rit het byna in ’n egskeiding geëindig.
 ??  ??
 ??  ?? GEBAANDE WEË. Hier kan ’n mens iets sien van die drie rye tweespoorp­aaie van die Three-Lane Highway.
GEBAANDE WEË. Hier kan ’n mens iets sien van die drie rye tweespoorp­aaie van die Three-Lane Highway.
 ??  ?? IN ROTS GEGIET. Jaco bekyk die mooi stalagtiet­e binne-in die Drotsky-grotte.
IN ROTS GEGIET. Jaco bekyk die mooi stalagtiet­e binne-in die Drotsky-grotte.
 ??  ?? GROET DIE GROTMAN. Daantjie binne-in die Drotsky-grotte.
GROET DIE GROTMAN. Daantjie binne-in die Drotsky-grotte.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa