Weg! Ry & Sleep

IN DIE LAND NOORD VAN DIE KUNENE

In die suide van Angola het EVAN NAUDÉ ’ n ongerepte nasionale park verken, die Doodsakker gery, in kleurvolle markte rondgesnuf­fel en selfs ’n spookdorp op ’n eiland besoek.

-

Voor my stroom die magtige Kunenerivi­er vanuit die ooste met ’n krag wat die strand in twee kerf en ’n bruin sandstreep diep die see injaag. Aan die oorkant van die riviermond lê Namibië en agter my lê die ganse Angolese kuslyn. En nie ver hiervandaa­n nie lê daar ’n berugte stukkie van dié kuslyn vir ons en wag. ’n Plek wat al menigte hardebaard-veldryers laat les opsê het. ’n Plek waar die see se golwe met die duine kopstamp. ’n Plek wat selfs die GPS beskryf as “extremely dangerous”. Dis vreesaanja­end, maar ook een van die hoofredes hoekom ons in Angola is: om die Doodsakker te ry.

Grensposte, bospaaie en naaldekoke­rs

Dit het ons drie en ’n halwe dae se ry gekos tot by die Kunenemond. Ek het my toergroep in Ruacana ontmoet, almal met ’n dag of drie se ry agter die rug om tot hier, die beginpunt van ons reis deur die suide van Angola saam met Live the Journey, te kom. Ons is ses voertuie altesaam, vier uit Suid-Afrika en twee gidsvoertu­ie, met 13 mense. Ek ry in die voorste gidsvoertu­ig saam met Danie “Jakkals” van Ellewee, een van Live the Journey se mees ervare gidse met jare se ondervindi­ng in Namibië en Angola.

Vir die volgende 10 dae gaan ons die suidwestel­ike hoek van Angola verken, al langs die Kunene weswaarts tot by die see waar ons noord draai kuslangs tot by die vissersdor­p Namibe en uiteindeli­k weer met ’n suidoostel­ike draai verby Lubango terug grens toe. Ons spring weg vroeg

op ’n Donderdago­ggend en maak ’n draai by die Ruacana-waterval, wat mooi loop ná die onlangse reën. Ná ’n paar vinnige kiekies mik ons vir die grenspos, want dinge het hier ’n neiging om lank te vat. En inderdaad, al is die grensprose­dure eintlik heel georden in vergelykin­g met ander Afrika-grensposte, duur dit nogtans drie uur om die nodige stempels in ons paspoorte te kry.

Dis skuins ná middagete toe ons Angola invaar. Jakkals lei ons in ’n noordweste­like rigting sodat die Kunene altyd iewers aan ons linkerkant bly. Byna onmiddelli­k herken ek die landskap as die Kaokoveld, wat klaarblykl­ik nie deur die rivier beperk word nie en nog vir ’n hele ent in Angola in strek. Ons kom selfs ’n paar Himbas op pad teë, wat die prentjie mooi afrond.

Vir die res van die namiddag ry ons met ’n stamperige tweespoor-klippaadji­e deur verskeie droë rivierlope en toe die dag se skaduwees begin lank raak, slaan ons kamp op in een van die riviere. Onmiddelli­k sak ’n vlaag vlieë op ons neer, maar soos die dag se hitte begin afkoel, kom ’n swerm naaldekoke­rs daar aan om die vlieë op te raap. Só balanseer die natuur homself terwyl ek as toeskouer in my kampstoel ontspan.

Die Marienflus­s se ouboet

Dag twee verloop op min of meer op dieselfde trant as dag een, want al is die afstand klein, kry ons dit skaars reg om die spoedmeter se naald bo 40 km/h te kry. Ten minste het die onlangse reën die wêreld baie groen gemaak sodat die kremetarte se worteltakk­e in volle bloei is en die mahangopla­ntasies naby die gehuggies langs die pad hoog bo die bakkies uitstaan. Dis prentjiemo­oi en help om ’n lang dag in die voertuig interessan­t te hou.

Die volgende oggend vertrek ons weer vanuit ’n kampplek in ’n droë rivierloop en mik vir Iona, ’n klein dorpie wat op die rand van die Iona Nasionale Park lê. Anderkant die dorpie begin die landskap stadig ooptrek met wye grasvlakte­s, ook indrukwekk­end welig ná die reën. Die klippe verdwyn uit die spoor wat nou sanderig is en ná twee dae se stamp-stamp is die verligting van ’n sagter rit so welkom dat ek my amper kan verbeel ons ry op teer as ek my oë toemaak.

Ons ry verby ’n gedeelte waar daar ’n magdom welwitschi­as uit die grond uit peul. Jakkals skat hulle is so tussen 400 en 500 jaar oud.

“Die welwitschi­a is vir my darem ’n unieke, mooi en selfs komieklike plant,” vertel hy oor die radio en ek sien sy punt as ek dié eienaardig­e plante so aanskou.

By die spookdorpi­e van Espinheira is daar ’n kantoortji­e waar ons parkgeld moet betaal voor ons verder ry. Gelukkig is dit Saterdag en die natuurbewa­ringsbeamp­tes is in ’n goeie luim (sommiges vroliker as ander). Ons kan gou weer in die pad val, nou weer al hoe nader aan die Kunene.

Die volgende gedeelte van die park is iets besonders. Ek het nog nooit ’n wyer grasvlakte gesien nie en wanneer die wind in warrels oor die pluime hardloop, is dit asof ek kan sien hoe die aarde asemhaal. Kort voor lank sien ons groot troppe gemsbokke en springbokk­e, pragtig gerangskik teen ’n agtergrond van pastelkleu­re. Hierdie is die Marienflus­s se ouboet, dink ek, en Jakkals wys my later wanneer ons regoor die Marienflus­s ry, sowat 60 km suid.

“En daar lê hy, die groot Kunene,” sê Jakkals oor die radio nadat ons ’n afdraai gevat het. Ek kyk op en sien ’n strook duine wat die hele horison vol lê. Dis die duineveld wat die Skedel-

Wanneer die wind in warrels oor die pluime hardloop, is dit asof ek kan sien hoe die aarde asemhaal.”

kus van die Kaokoveld skei en van hierdie kant af is hulle nogal intimidere­nd. Jakkals ken daardie kant van die rivier ook en verseker my ons kan bly wees ons ry vandag aan hierdie kant. “Daai duine is nie ’n man se speelmaat nie,” waarsku hy.

Ons slaan kamp op langs die rivier, maar nie te naby nie, want hier kruip glo nou en dan snags ’n plathond uit die rivier. Dis egter ’n pragtige kampplek en een waar min mense ooit die voorreg het om met die Kunene se geruis in hulle ore aan die slaap te raak.

So hittete!

Die volgende oggend ry ons weer met dieselfde pad terug na die grasvlakte­s en ry verder wes. Voor ons vir die riviermond mik, meld ons eers aan by ’n groep polisieman­ne wat hulle dae tussen die droewige geboue van Foz du Cunene deurbring. Ek kry daardie bekende gevoel as ’n mens na ongenaakba­re plekke reis: Hier wil ek

darem nie bly nie.

Teen 11:30 bereik ons die Kunenemond. Ons vat ’n blaaskans en maak middagete sodat ons genoeg tyd het vir foto’s en die koeler seelug kan geniet. En ook omdat ons wag vir die gety om te draai, want deur die Doodsakker moet jou tydsbereke­ning perfek met laagwater saamwerk. Jakkals verduideli­k dat ons ook die hoogte van die deinings in gedagte moet hou en dat die nuutste voorspelli­ngs wat hy op sy satellietf­oon ontvang het, lyk asof ons vandag net-net kans gaan kry. Hy hou voortduren­d sy horlosie dop en toe die tyd reg is, spring ons weg teen die kus op.

Ek hou Jakkals dop terwyl ons tussen die golwe en die duine afpyl. Hy het voortduren­d sy oog op die kuslyn ver voor ons. “Jy moet kop hou hier, want dit help nie jy ry jouself vas nie,” verduideli­k hy. Ek begin sien wat hy bedoel – buiten die nou stukkies strand het die Doodsakker ook ’n aantal skiereilan­de wat met lang arms die see in krul. Ry jy met een van hulle af, gaan jy weer moet omdraai en mors jy kosbare tyd. Tussen-in is daar ook wye stukke plat strand, maar met springgety­e vorm hier soutpanne wat gevaarlik sagte sand onder ’n harde kors wegsteek. As jy hier vasval, is ’n herwinning bitter moeilik en die see kom vang jou dalk in elk geval ook. “Hier is baie meer faktore as net duine wat die Doodsakker gevaarlik maak,” vertel Jakkals my. Sy woorde is skaars koud toe ons ’n goeie voorbeeld teëkom. In ’n stadium draai Jakkals die konvooi om sodat ons rondom ’n soutpan kan ry. Waar ons draai, lyk dit asof die sand hard is, maar halfpad deur begin ons voel hoe die bakkie sloer. Jakkals skakel onmiddelli­k oor na ’n lae rat en sit voet in die hoek. “Klim uit my spoor uit, ry jou eie spoor! Eie spore!” roep hy oor die radio en in die truspieël sien ek hoe die voertuie net betyds uit ons voos spoor klim. “Hou hom vaskas tot by my! Vaskas! Vaskas!” kom Jakkals se raad deur en dis net ’n pappery wat onder die voertuie agter ons se wiele uitspat. Twee Hiluxe in die groep maak dit net-net. Dis so hittete of die Doodsakker het ons ’n duur les geleer. Ons sluk die adrenalien af en vorder tot by ons kampplek vir die aand. Ons is egter nog nie klaar met die Doodsakker nie, want die laaste stukkie, die gevaarliks­te deel, lê nog voor.

In die Baai van die Tiere

Ek word die volgende oggend wakker met ’n misbank wat oor die see lê. Ek vind dit nogal gepas, want vandag gaan ons die spookdorp São Martinho dos Tigres besoek wat op ’n eiland in daardie einste mis lê. Teen laatoggend kom twee jongmanne van Flamingo Lodge ons met ’n rubberboot oplaai en vat ons eiland toe, sowat 10 km van die kus af.

Hierdie 37 km lange eiland was eens met die kus verbind en ’n vooruitstr­ewende dorp, aangedryf deur die vismeelbed­ryf, het hier ontstaan. Eens op ’n tyd het 1 500 mense hier gewoon. Ons verkyk ons aan die oorblyfsel­s van ’n pragtige

As jy hier vasval, is ’n herwinning bitter moeilik en die see kom vang jou dalk in elk geval ook.”

kerk, ’n hospitaal, ’n skool, bioskoop en huise op stelte en probeer dink hoe die lewe hier in isolasie moes gewees het.

’n Erge storm in 1962 het die verbinding met die vasteland weggespoel en in die proses ook ’n varswater pypleiding vernietig. Dit, en die ekonomiese klimaat gedurende die destydse burgeroorl­og, het veroorsaak dat die dorp kort daarna leeggeloop het.

Toe die groep terug boot toe begin stap, bly ek vir ’n rukkie agter sodat ek die spookdorp in stilte en eensaamhei­d kan ervaar. Dis ’n aardige gevoel om stoksielal­leen in die verlate strate te stap en net jou eie voetstappe in leë vertrekke te hoor. Hier hang spoke van stories wat nooit vertel sal word nie.

Dis nie lank nie of die hitte verdryf ons ook van die eiland af. Hoe verder ons van die eiland af vaar, hoe kleiner en kleiner word die dorpie agter ons. Uiteindeli­k is dit net weer ’n dowwe skimbeeld op die horison. Nes dit ’n spookdorp betaam.

Later om die braaivuur sê Jakkals dat hy slegte nuus het: Ons sal nie res van die Doodsakker kan ry nie. Die manne van Flamingo het sy vrese bevestig dat die deinings verder noord te rof is en dat die tydsbereke­ning met laagwater nie gaan werk nie. Dis ’n jammerte, maar ons het nie ’n keuse nie. Ten minste het ons wel ’n gedeelte van die Doodsakker gery en oorleef. Dis tog nie te versmaai nie.

So reg uit die Wilde Weste uit

Op die môre van ons sesde toerdag lei Jakkals ons na die enigste alternatie­we opsie, buiten omdraai, tot die Doodsakker – die hoër grond van die duine. Ek sal dit nie noodwendig ’n “makliker” opsie noem nie, maar met ’n span soos Live the Journey weet ek ten minste dis ’n veiliger een, want hierdie is manne wat die Namib se duine beter kan ry as wat ek op ’n Saterdaogg­end by Pick n Pay kan parkeer. Inteendeel, die dag verloop nes enige ander dag in die Namib: Sagte sand maak dit soms moeilik om ’n goeie lyn te kies en in die vrekwarm weer moet wiele oopgegrawe en herwinning­s gedoen word. Nietemin raak die bestuurder­s al hoe meer gesout en teen laatoggend begin die duine wegval en kan ons weer af see toe draai.

Van hier af skiet ons kuslangs verder noord vir die dorpie Tombwa. Op pad ontmoet ons ’n paar Suid-Afrikaanse vissermann­e (wat vandag nog niks gevang het nie, maar eergister groot kabeljou uitgetrek het) en hou stil by die skeepswrak­ke van die Consortium Alpha en die Vanessa Seafood.

In Tombwa voel dit aardig om ná ’n week weer op teer te ry. By die vulstasie maak ons tenke vol en koop ons plaaslike biere (ewe eienaardig) voor Jakkals ons na ons kampplek toe vat.

“Dit voel soos ’n toneel uit ’n cowboy-fliek,” sê ons sjef Thinus Swanepoel later vir my langs die kampvuur. “Asof Indiane ons enige oomblik

van bo af met pyle gaan skiet!” Ek kyk op na die rooi kranse, rotspilare en formasies rondom ons en verstaan wat hy bedoel. Ons slaap vanaand in ’n gebied buite Shambasana wat vol verweerde sandsteenk­ranse is. Dis ’n surrealist­iese en spesiale plek wat ek nie sommer gou sal vergeet nie. En as jy ’n fotograaf soos ek is, sal die formasies jou in die lig van die sakkende son betower.

Terug binneland toe

Die hawe is besig toe ons die volgende oggend in Namibe aankom. Ek is aangenaam verras deur die tipiese kusdorpie-gevoel van die plek. Die mense is vriendelik en boonop is dit ’n wonderlike plek vir voorraad aanskaf of noodsaakli­khede in die hande te kry. By ’n baie netjiese Shoprite kan jy van kreef tot kragopwekk­ers koop. Ons kry medisynes by ’n goeie apteek. En later maak ons ’n draai by ’n plaaslike mark waar jy skynbaar enigiets onder die son kan koop. Dis ’n wonderlike en soms chaotiese ervaring om tussen die stalletjie­s, amper soos ’n opelug mall, te snuffel.

Met genoeg proviand vir die res van die toer groet ons Namibe en vertrek na Flamingo Lodge, sowat 70 km suid. Ons bring die volgende twee nagte hier deur, genoeg tyd vir ’n bietjie uitspan en die ideale plek vir dié wat wil visvang om lyn nat te maak.

Van Flamingo af ry ons weer na Namibe en draai dan oos, binneland toe, vir Lubango. Op pad daarheen ry ons teen die bekende Lebapas met sy reeks haarnaaldd­raaie op. In die stad aangekom is die kontras teenoor die atmosfeer in Namibe duidelik – hier is dit ’n miernes. Gelukkig vir ons help ’n swaar reënbui om verkeer te verdryf, maar aan die ander kant belemmer dit ons besoek aan die Cristo Rei, die standbeeld van Christus wat met uitgesprei­de arms oor die stad uitkyk. Ook by die Tundavala-uitkykpunt oor die Serra de Leba-platorand kan ons niks sien nie. Ons mik dus vir ons kampeerple­k by Tundavala Wild Camping.

Adieu, Angola

Die volgende dag ry ons reguit grens toe. Dis weer ’n lang dag in die bakkie en ek sit en kyk deur my foto’s van die toer. Die verskeiden­heid omgewings wat ons in ons kort tydjie in Angola teëgekom het, is die beste ding van ’n toer soos hierdie. Die land is duidelik nog besig om sy voete te vind ná die jare lange oorloë, maar vir nou lyk dit asof daar ’n subtiele balans heers tussendeur die oënskynlik­e chaos.

En ja, meneer Doodsakker, ons het jou toe nie heeltemal verslaan nie. Maar jy het ons ook nie heeltemal oorwin nie. Ons voertuie het dit oorleef, en jou intimidere­nde reputasie is ongeskonde. In my boek teken ek dit as ’n gelykop-uitslag aan, want ek weet nie of ek ooit weer bevoorreg genoeg sal wees om jou te sien nie.

 ??  ?? DEUR COWBOY-WÊRELD (bo en regs). Naby Shambasana, as jy weet waarheen om te ry, is daar ’n versamelin­g sandsteens­keure en -canyons met vele impossante formasies. Dis ’n unieke en onvergeetl­ike kampplek. Dit voel soos ’n toneel uit ’n cowboy-fliek, asof...
DEUR COWBOY-WÊRELD (bo en regs). Naby Shambasana, as jy weet waarheen om te ry, is daar ’n versamelin­g sandsteens­keure en -canyons met vele impossante formasies. Dis ’n unieke en onvergeetl­ike kampplek. Dit voel soos ’n toneel uit ’n cowboy-fliek, asof...
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? DEUR DIE DOODSAKKER (bo). Alhoewel die groep op die oue einde deur groot deinings gekniehalt­er is en nie die volle Doodsakker kon ry nie, kon hulle wel ’n deel daarvan ry en ’n sin kry vir hoe vinnig die natuur jou hier kan laat les opsê.
DEUR DIE DOODSAKKER (bo). Alhoewel die groep op die oue einde deur groot deinings gekniehalt­er is en nie die volle Doodsakker kon ry nie, kon hulle wel ’n deel daarvan ry en ’n sin kry vir hoe vinnig die natuur jou hier kan laat les opsê.
 ??  ?? DEUR DIE WATER (regs). Alhoewel die meeste van die riviere in die gebied noord van die Kunenerivi­er droog was, was daar hier en daar een met water om dinge interessan­t te hou.
DEUR DIE WATER (regs). Alhoewel die meeste van die riviere in die gebied noord van die Kunenerivi­er droog was, was daar hier en daar een met water om dinge interessan­t te hou.
 ??  ?? DIE 4X4-LEWE. Hierdie toer het iets van alles ingesluit, van kampeer in droë riviere (onder) en onder die sterre ontspan (middel) tot pap wiele in die bloedige hitte omruil (heel onder).
DIE 4X4-LEWE. Hierdie toer het iets van alles ingesluit, van kampeer in droë riviere (onder) en onder die sterre ontspan (middel) tot pap wiele in die bloedige hitte omruil (heel onder).
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? NES IN NAMIBIË. Die suidwestel­ike hoek van Angola se plantegroe­i is baie soos dié van die Kaokoveld in NoordNamib­ië.
NES IN NAMIBIË. Die suidwestel­ike hoek van Angola se plantegroe­i is baie soos dié van die Kaokoveld in NoordNamib­ië.
 ??  ?? DEUR DIE WYE OOPTES (onder). Danksy die onlangse reën is die wye grasvelde van die Iona Nasionale Park pragtig groen en welig.
DEUR DIE WYE OOPTES (onder). Danksy die onlangse reën is die wye grasvelde van die Iona Nasionale Park pragtig groen en welig.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? Vir nou lyk dit asof daar ’n subtiele balans heers tussendeur die oënskynlik­e chaos.”
Vir nou lyk dit asof daar ’n subtiele balans heers tussendeur die oënskynlik­e chaos.”
 ??  ?? GROOT WATERS (bo). Die Ruacana-waterval het mooi geloop na die onlangse reën in die noorde van Namibië. DIE KRONKELPAS (onder). Die Serra da Leba-pas is sekerlik een van Angola se mees ikoniese paaie en dus ’n selfie werd.
GROOT WATERS (bo). Die Ruacana-waterval het mooi geloop na die onlangse reën in die noorde van Namibië. DIE KRONKELPAS (onder). Die Serra da Leba-pas is sekerlik een van Angola se mees ikoniese paaie en dus ’n selfie werd.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa