Weg! Ry & Sleep

Die owner’s manual is in die cubbyhole...

Hy hoor so dikwels dat tegnologie ons redding is en hy het vir lank self so geglo. Tot een somersdag in die Krugerwild­tuin, skryf Etienne Erasmus.

-

Dis skemer en ons ry ’n laaste draaitjie voor die Krokodilbr­ug-ruskamp se hek sluit. Ons kyk vir oulaas na ’n trop olifante, maar net voordat ons weer kan wegtrek, kom ’n wit Toyota Prado aangejaag. Dis net flitsende ligte en toeters wat blêr.

’n Jong knaap hang halflyf by die venster uit en roep luidkeels “Oom! Oom!” terwyl hy met sy arm waai. “Ekskuus dat ek so skreeu, Oom, maar ek het ’n pap wiel.” Voor ek kan antwoord, kom ’n opgewonde vrouestem uit sy motor: “Dis ’n cool kar dié, jy sien sommer op die dash watter band is pap!” So groet ek toe maar weer waarna die kêrel sy dilemma aan my verduideli­k.

Die Prado het blykbaar laat weet hulle het ’n pap wiel terwyl hulle ’n trop olifante afgeneem het. Hy wou net ’n entjie van die olifante af ry en self die wiel ruil, maar sy vrou wou niks daarvan hoor nie. “Ons is op ons wittebrood­sreis deur die Wildtuin en my vrou wil nie hê . . .”

“. . . wil nie hê jy moet uitklim nie. Ek gaan definitief nié weduwee raak op my

honeymoon nie!” sê dieselfde vrouestem. Die jong man vra dat ek asseblief die Parkeraad se amptenare vra om hom te kom help. “Waarom ruil jy nie die wiel sommer net hier nie?” wil ek weet. Ek sal op die uitkyk wees vir die olifante, sê ek.

“Liefie, jy weet ek laaik dit niks nie. Moenie by my kom huil as jy vandag doodgetrap word nie!” weergalm haar stem. “Ek sal baie versigtig wees, my engel,” antwoord hy met deernis, maar ook met ’n teenstrydi­ge gesigsuitd­rukking. So begin die wielruiler­y met die domkrag en gereedskap wat eerste hulle verskyning maak. “Waar de d*nn*r begin ’n mens?” wil die man weet. “Oom moet verskoon, ek ry hierdie Prado nog nie eens ’n maand nie.”

Saam besluit ons dat die spaarwiel se harde omhulsel eerste moet afkom, maar hoe? Ons bereik verder konsensus dat die motor se eienaarsha­ndleiding ’n goeie begin sal wees en met ’n “Skattebol, kry vir my die owner’s manual daar voor uit die

cubby hole”, begin die soektog. Vroulief vroetel en kry die boek met ’n uitroep van verbasing: “Jislaaik, dis ’n helse dik boek. Ek sal hom eers moet opswot!” “Nee, my vrou, gebruik sommer die indeks agter in die boek,” stel hy voor. “Soek vir iets oor die ‘ wheels’ of ‘ spare tyre’.”

“Hierdie Japs kan nie eers ‘ tyre’ spel nie,” sê Vroulief toe sy dit kry. “Hulle skryf dit met ’n ‘i’ pleks van ’n ‘y’. Ook maar lekker stupid, hoor!”

“Wat sê hulle daar van ‘ spare tire’?” wil haar man half ongeduldig weet.

Sy lees die stappe en die wielruiler­y is weer aan die gang. Maar Liefie lees nou te lekker en gaan voort: “Jy moet die wheelnut met jou sleutel oopsluit voordat jy dit kan losdraai. En pasop, daar is ook ’n reverse kamera in die spaarwielo­mhulsel.”

Arme man, sy honeymoon was besig om in ’n donkermaan te verander.

’n Oomblik se stilte volg en skielik skree sy angstig: “Liefie, hierdie olifante lyk bloeddorst­ig. Drie van hulle staar na ons. O hel, hier kom hulle! Liefie, roer jou gat, ons moet gaan!”

“Nee, Mevrou, hulle wei net,” probeer ek haar gerusstel. Die bruidegom se oë lyk moeg en dit lyk of sy skouers moedeloos hang. Nou werk hy vinnig, maar toe hy die spaarwiel van die staander afskuif, kan sy tengerige beentjies die gewig nie dra nie. Eensklaps beland hy hard, wiel en al, plat op sy sitvlak in die stof. Al wat jy hoor, is ’n plofslag, ’n hik, ’n hoes . . . en twee tjortse!

“Waar is die dae toe my oupa sy lorrie met ’n d*nn*rse draadtang en ’n d*nn*rse rol doringdraa­d kon regmaak? Nou, is dit net gadgets en gimmicks,” sê hy verontwaar­dig.

Kort daarna is die wiel egter omgeruil. Die bruidegom klim net so – vuil sitvlak, hande, gesig en al – by Vroulief in en ons ry terug kamp toe. Deur sy agterruit kon ek darem sien hoe Vroulief sy hare vryf en so nou en dan ’n soen op die wang gee, maar ek kon geen reaksie van sy kant af bespeur nie.

Die wittebrood­spaar het later blitsvinni­g met ’n skamerige tref-en-trap bedankinki­e hulle waardering kom betoon, waarna die jong man hoogs befoeterd verklaar het dat hy volstrek ’n ou tjor soos sy oupa s’n gaan koop. Want, het hy verklaar, hierdie fancy kar van hom, met al sy gadgets en meghaf

ters het byna sy bekkenbeen vermorsel. Daardie aand het ek ook my mening oor tegnologie verander. Want wat ek daardie dag beleef het, was dat tegnologie baie vir jou kan doen, maar ook baie áán jou kan doen, veral wanneer jy dit self moet herstel en jy nie veel daarvan snap nie. Owner’s

manual of te not. Dit is dan wanneer bekkenbene seerkry, gesigte vuil word, verhouding­s skipbreuk ly en jou selfbeeld skade opdoen.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa