Weg! Ry & Sleep

HAARDEBAAR­D4X4’S OPSIONEEL

Hier is ses lekker paaie waarvoor jy nie laestrek, groot bande of hare op jou tande nodig sal hê nie. Maar net omdat jy hulle in ’n ryding sonder laestrek kan doen, beteken dit nie hierdie paaie is nie skouspelag­tig mooi nie.

-

1 Die D707 van Aus na Betta, Namibië Namibië is sinoniem met grondpaaie. Maar een van sy mees asemrowend­e (Bun Booyens het ons altyd afgeraai om die woord “asemrowend” te gebruik, maar in dié geval is dit gepas) paaie is ongetwyfel­d die D707.

Om daar uit te kom, moet jy koers kies na Aus, min of meer tweederdes op die pad van Keetmansho­op na Lüderitz. Nadat jy jou ryding se tenk volgemaak en seker gemaak het alles is in orde, draai jy noord op die C13 na Helmeringh­ausen. En dis op dié pad wat die oop ruimtes jou hart vinniger behoort te laat klop.

Maar jy gaan nie Helmeringh­ausen toe nie, want presies 55 km later draai jy links op die D707. En dis hier waar die D707 met ’n boog na links weer uiteindeli­k noord draai. Hierdie 123 km sal jou net minder as ’n uur vat, maar hou gerus nou en dan stil en luister na die ooptes. Af en toe sal jy dalk ’n gemsbok aan jou regterkant, aan die voet van die magtige Tirasberge, sien staan en aan die linkerkant sal jy die oostelike grens van die Namib se duine sien.

Die pad is meestal goeie grondpad, maar nou en dan, veral as hulle nie gereeld geskraap het nie, is daar stukke sand wat vir ’n paar honderd meter op ’n slag aanhou. Dis egter nie te lank nie en uiteindeli­k kom jy uit by ’n plek genaamd Spes Bona (dis eintlik ’n plaasopsta­l), waar jy by die T-aansluitin­g links draai op die C27 wat lei na Betta, Wêreldend en uiteindeli­k Sesrem en Sossusvlei. Afdraai na die D707: S26.25114° E16.58594° (van die C13 vanaf Aus)

2 Die C13 van Aussenkehr na Rosh Pinah As jy Namibië by die Vioolsdrif-grenspos ingegaan het en na Lüderitz wil ry, moenie eers bodder om teerpadlan­gs via Keetmansho­op te ry nie. Draai dadelik na die grens links op die C13. Die eerste deel tot by die vrugteplas­e van Aussenkehr is ’n paar jaar gelede geteer – sodat daar minder stof op die druiwe waai – maar die res van die pad is skouspelag­tig mooi, veral waar dit langs die Oranjerivi­er kronkel. En later, net nadat jy deur die kontrolehe­k is en regs na Rosh Pinah gedraai het, word jy vir oulaas beloon met ’n mooi vallei waardeur die pad loop om heel aan die einde teen ’n plato uit te klouter, net voordat die teerpad na die dorp begin. Hier moet jy stilhou en terugkyk na die indrukwekk­ende toneel voor jou.

3 R355, Ceres tot Calvinia

Daar is min grondpaaie waarvan mense met soveel ontsag praat as die R355. Om mee te begin is die afstand van 252 km tussen Ceres en Calvinia van die langste punte tussen twee dorpe in Suider-Afrika. Dan is daar die ooptes en leegheid tussenin. Daar is net twee plekke waar jy vir ’n lafenis kan stilhou – Stonehenge, sowat 103 km suid van Calvinia en ’n verdere 7 km van die grootpad af; en die unieke Tankwa-padstal, nog 65 km verder suid. En dis tussen dié twee plekke waar jy moet ligloop vir pap bande. Want dié wêreld het ’n soort skalieklip wat in skerp skerwe losbreek en ’n band se sywand soos ’n sagte piesang kan sny. Daar is baie raad wat kenners jou gee, maar ons s’n is as volg: Moenie jou banddruk onder 2,0 bar laat sak nie en moenie vinniger as 80 km/h ry nie. En laastens: Kyk waar jy ry. Menigte bestuurder het al betyds gesien hoe een van daai klipskerwe soos ’n lem regop staan en het dan betyds sy lyn verander. Maar moenie laat dit jou afsit nie. As jy versigtig ry en jou oë oophou, sal hierdie pad jou beloon soos min. En dan kan jy ook sê jy’t “die R355 gery”. Stonehenge-tentkamp: S32.33723° E19.71524° Tankwa-padstal: S32.87086° E19.77576°

4 Normandien­pas, tussen Memel en Normandien

Die pad na die Normandien­pas, tussen die piepklein nedersetti­ng Normandien en Memel, is aanvanklik ’n goeie grondpad ná die afdraai buite Normandien. Die pas self is baie steil, maar die ergste bulte is met beton bedek en jy gaan nêrens laestrek mis nie.

Die pad raak glo erg glad ná die reën, maar is nie baie tegnies in droë weer nie. Tog is daar genoeg kliphinder­nisse en gate om die rit pret te maak. En mooier kan dit beswaarlik. Net wanneer jy dink jy’t nou die hoogste deel bereik, kom daar nóg ’n opdraand. Dan klim jy weer ’n ent hoër en kry jy nóg ’n mooier uitsig oor die valleie.

Die hoogste piek is uiteindeli­k by 1 992 m en die ergste erosie kan hier gesien word. Maar met ’n bietjie mikwerk kry jy maklik ’n roete tussen die slote deur.

Maak seker jy trek af by die uitkykpunt ná die kruin – Die Ark – waar jy vir lank oor die groen vallei onder ’n 500 m hoë krans kan staar.

Ná die uitkykpunt is dit ’n taamlik gemaklike grondpad na Memel, maar moenie dink jy gaan die pas só gou ry nie. Dit gaan ’n uitdaging wees om elke passasier met ’n kamera lank genoeg in die voertuig te hou om wel te vorder! GPS by die Normandien-afdraai: S27.988694 E29.778156

5 Swartbergp­as, tussen Oudtshoorn en Prins Albert

Die bekende Swartbergp­as tussen Oudtshoorn en Prins Albert is nie ’n klippekou-pas, soos Van Zyls, nie, maar dié skouspelag­tige pad hoog oor die Klein-Karoo sit ewe hoog op talle ryliefhebb­ers se emmerskopl­ys. Die Swartbergp­as is een van die negentiend­e eeuse pasbouer Thomas Bain se kroonjuwel­e en is reeds sedert 1888 in gebruik. Hier ry jy letterlik deur die geskiedeni­s – die klipmure wat bandiete byna 200 jaar gelede langs die kronkelend­e grondpad gebou het, is nou nog hier. Hou jou oë ook oop vir steenbokki­es terwyl jy teen die Swartberge uitkronkel, die omgewing is vol van hulle en hulle is makker as op baie ander plekke. Jy moet egter ook maar ’n oog op die pad hou, want party van die haarnaaldd­raaie steek nogal onverwags kop uit en die kranse val ver na onder! Wees ook uiters versigtig as daar reën in die omgewing is. Alhoewel hierdie pad geskik is vir ’n sagte veldryer (ons het selfs ’n effe waaghalsig­e Chico daar teëgekom) raak dit baie gevaarlik in nat toestande. Swaar reën kan selfs dele van die pad verspoel en veroorsaak soms dat die pad tydelik gesluit word. En as jy reeds dié pas gery het, gaan ry hom sommer weer. Die uitsigte slaan elke keer ’n mens se asem weg. Afdraai uit Oudtshoorn: S33.592710 E22.202400 (die R328). Afdraai buite Prins Albert: S33.261387 E22.047891

6 Sanipas, KwaZulu-Natal-Lesotho-grens

In 1948 het dit vir Godfrey Edmonds langer as vyf uur gevat om in sy Willis Jeep vir die eerste keer tot bo-op die Sanipas te ry. En om dit te kon regkry, moes hy ’n span werkers, donkies, kanne petrol en baie tou saamvat. Vandag kan jy op jou gemak in ’n sagteveldr­yer tot bo ry, die uitsig geniet, foto’s neem, koffie drink by die Sani Mountain Lodge en weer tot onder ry – alles voor middagete.

Daar is al sedert 2014 sprake dat die pas geteer sal word, maar tot op hede het dit gelukkig nog nie gebeur nie. ’n Mens weet egter nooit wanneer konstruksi­e uiteindeli­k sal begin nie. Dit is dus nou die tyd om hierdie besondere grondpadpa­s vir oulaas te ry. Wanneer jy hier ry, is dit duidelik waarom die Sanipas met sy steil opdraandes, skouspelag­tige uitsigte en kwaai haarnaaldd­raaie deur baie mense as die kroonjuwee­l van alle Suid-Afrikaanse passe beskou word.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa