sGo enmiet erin winter die
’n Mens hoef nie minder te kamp net omdat dit winter is nie. Veral nie as die KwaZulu-Natalse bos jou bestemming is nie.
Die langste nag en kortste dag van die jaar is verby, wat beteken die somer is op pad. Maar Augustus is steeds meer winter as somer. Vra maar enige kampeerder: As jy in die winter wil kamp asof dit somer is, is daar net een plek in die land en dit is die KwaZulu-Natalse kus.
Hluhluwe lê 270 km noord van Durban en 30 km binneland toe. Dié klein dorpie is meer bekend vir sy pynappels as sy kampplekke, maar as jy ’n besige strandoord dié tyd van die jaar wil vermy, is Hluhluwe die antwoord. (Terloops, dié tongknoper-Zoeloewoord, Hluhluwe, spreek ’n mens “shloeshloewê” uit.)
Die dorp lê langs die iSimangalisov leilandpark, en dis moeilik om die dag se weervoorspelling te glo as jy hier aankom: Kaapstad 8-15 ºC, Pretoria 7-21 ºC, Bloemfontein 2-20 ºC… en Hluhluwe? 16-32 ºC!
Met ’n T-hemp, kortbroek en plakkies saal ons dus vandeesmaand net buite Hluhluwe af. Ons kuier by twee gawe wildsplase, Bahati en Bonamanzi, en slaap ook ’n nag oor in iSimangaliso se Valsbaai-kampplek. >
BAHATI-WOONWAPARK-EN-WILDSPLAAS Pynappell anderye lê links van die pad uitgestrek soos ’n mens Hluhluwe se hoofstraat amptelik by die eerste sirkel binnery. By die vierde sirkel op die reguit stuk pad van minder as 2 km is ’n mens al weer deur die dorp, waar die pad links na Sodwana afdraai. ’n Grondpad begin ook hier, maar draai regs af langs die treinspoor. Bahati is 4 km verder aan die regterkant van die pad.
Die eerste ding by kampplekke wat kan krap, is die badkamers. Gelukkig sien ’n mens deesdae al hoe meer kampplekke wat private badkamers bou – eie ablusiegeriewe vir elke staanplek. Bahati is een van hulle.
Vir só ’n nuwe plek – hulle het einde laasjaar oopgemaak – slaan hulle die spyker sommer van die begin af mooi op die kop. Nie net is die badkamergeriewe ordentlik nie, maar ’n mens kan ook kies of jy in jou eie hoekie in die bos wil kamp opslaan of meer in die oopte waar jy die geriewe deel.
Bahati is ook ’n wildsplaas, en buiten die elektriese heining om die stuk grond van 180 ha is die kampplek self nie afgeskort nie. Tussen jou en die wilde diere is dus geen skerm nie, en kort voor lank loop ’n duiker verby jou kampplek asof jy deel is van sy wêreld. Selfs twee njalabulle wei naby die kampplekke en ’n mens kry vir ’n oomblik kans om dié mooi bok van nader te sien. Ons daag sonder ’n bespreking by Bahati op. Die elektriese skuifhek is toe en op die hek staan die eienaar, Annelie Ihlenfeldt, se naam en foonnommer. Sy’s gou op die dorp, verduidelik sy toe ons bel, “maar hou links direk ná die hek en volg die pad; bordjies wys vir jou die pad tot by die staanplekke,” verduidelik sy.
Sy maak die hek met haar foon oop en ons ry op ’n lekker vasgetrapte sandpaadjie in. Die sandpad loop 200-300 m langs die draadheining af en swenk dan regs die bosse in. Al is die grondpad tot by Bahati meer as aanvaarbaar, is dit tog klipperig.
’n Mens kan uit drie soorte staanplekke kies: die A- en B-kamp, elk met soortgelyke staanplekke, en die en suite-staanplekke met private badkamers.
Dit lyk of nie ’n enkele boom in die slag gebly het met die bou van die A-kamp se ses staanplekke in die bos nie. Boonop is die hele kampplek toe onder ’n netjiese grasperk. (Te oordeel na al die blare is die meeste van die bome immergroen.)
Die staanplekke lê in ’n groot sirkel langs mekaar en is genommer, maar nie afgebaken nie. Dis ook ruim genoeg dat niemand teenaan mekaar hoef te staan nie. Hier is drie kragbokse (met gewone driepuntsokke) tussen die ses staanplekke, elk teen ’n rooi paaltjie vasgesit.
Die paar waterkrane is blou geverf met ’n geplaveide deel onder hulle sodat jy nie met modderspatsels teen jou skene sit as jy vinnig iets afspoel nie. Hier staan ook ’n paar los braaiers rond (met roosters).
Die badkamergebou is heel links – en met die natuur in die agterkop – gebou, want dit smelt saam met die omgewing.
Die afwerking wissel van rou sementwerk tot houtpaaltjies. Mans en vroue deel dieselfde twee klein afsonderlike badkamertjies, elk met ’n stort (mét ’n glasdeur), keramiekwasbak (op ’n betonblad) en toilet, asook ’n spieël. Die geriewe kan nie netjieser nie. Daar is ’n wasbak vir skottelgoed voor die badkamer en twee aparte toilette staan links van die gebou.
Die B-kamp is oorkant die pad en soortgelyk aan A, behalwe dat jy hier op sand kamp. Drie van die staanplekke het ook >
’n afdak met ’n betonvloer langsaan – lekker as jy dit in die plek van die wa se stoeptent wil gebruik. Die badkamers is ook soortgelyk aan dié in die A-kamp.
Die swembad is ’n entjie verderaan langs die sandpad. Dis min of meer so groot soos ’n huisswembad en het gras rondom. ’n Skadunet is oor die vlak kant vir die jong klomp gespan, en hier is ook ’n paar oop grasdakgeboue as jy vir die kinders worsbroodjies in die koelte wil maak. As jy dalk vir die middag hier langs die swembad wil vleis braai, is hier braaiplekke met roosters.
Die vier en suite-staanplekke is in die bos net verby die swembad en só ingerig dat jy omtrent nie jou buurman sien nie. Elkeen van die staanplekke het twee geboue met ’n betonvloer. Onder die een afdak, waarvan twee kante toegebou is, is die kombuis met ’n wasbak en kaste, plus ’n tafel met vier stoele.
Die badkamer is op die een punt van die ander afdak. Die stort is ruim en die vertrek het ook ’n toilet en wasbak met ’n spieël in. Die dak van dié gebou strek ’n ent verby die vloer en is hoog genoeg sodat jy die woonwa tot teen die vloer kan trek.
’n Driepuntkragsok sit in die muur by die badkamer en ’n gemesselde braai met ’n rooster is op die ander punt van die afdak gebou.
Maak ’n draai
Annelie maak later die middag ’n draai by ons staanplek om te hoor of alles in die haak is.
Sy sê ’n mens kan self op die plaas rondry om na die wild te gaan kyk.
“Jy sal nie verdwaal nie, want al die paadjies loop weer na die middel tot by die dam,” sê sy terwyl sy hurk en met haar wysvinger ’n vierkant op die sand en ’n paar lyne tot in die middel trek.
“Jy gaan ook nie vassit nie. Ry van hier af verder met die sandpad tot waar jy langs die heining is – die wildgedeelte begin hier.”
Op Bahati is 12 boksoorte, waarvan ons binne ’n uur sewe gesien het – van sebras en swart rooibokke tot die kameelperde en waterbokke.
BONAMANZI-WILDRESERVAAT Opgeblaas
Bonamanzi is 1,5 km verderaan met die grondpad van Bahati af – tot ’n mate is dit ’n groter weergawe van Bahati. Bonamanzi se kampplek het ook van gewone staanplekke tot dié met private badkamers, maar teenoor Bahati se 180 ha is Bonamanzi in die omgewing van 4 000 ha.
Hier is wel ’n groter verskeidenheid wild, en ’n mens sien dit duidelik wanneer jy voor die hek stilhou: Die waarskuwingsbord wys prentjies van onder meer ’n seekoei, buffel, olifant en renoster. Vier van die Groot Vyf loop hier rond, en net soos by Bahati is die kampplekke nie afgesper van die wild nie.
’n Breë sandpad loop ’n raps meer as 2 km die bosse in tot by die kantoor, en die netjiese grasdakgebou laat ’n mens aan ’n eksklusiewe lodge dink. Hier is ’n groot sirkel waar jy kan parkeer en met die wa weer kan omdraai, want die kampplek is ’n kilometer of drie verder. Die kantoorgebou gee ’n mens ’n indruk van weelde – soos jy die kantoordeur oopmaak, voel dit of jy die ontvangslokaal van ’n vyfsterhotel binnestap. Die groot wit toonbank met sy marmerblad staan aan die ander kant van die vertrek met sy blink teëls, en links teen die muur is ’n meneer van ’n buffeltrofee. ’n Meer beskeie Zoeloeskild hang teen die agterste muur. Op die toonbank lê 20-30 sleutels in ’n ry soos die ontvangsmense gereed maak om die besoekers vir die dag te ontvang.
Ons daag wéér op sonder om te bespreek, en die geluk is ook net-net aan ons kant: vanaand is hier nog beskikbare kampplek, maar môre is dit Vrydag en van dan af is Bonamanzi se kampplekke volbespreek vir die naweek. Dis nog ’n week voor die wintervakansie aanbreek, en te oordeel na die aantal kampeerders wat Bonamanzi ondersteun, is dit ’n gewilde plek.
Die ontvangsdame gee vir jou ’n gefotokopieerde kaart van die reservaat en merk met ’n viltpen die paadjie tot by die kampplek. Die kaart wys ook die paaie waar jy self mag ry om die wilde diere te soek – merendeels in die deel rondom die kampplek. Dit beteken ’n mens kan die grootste gedeelte van die reservaat nie self in jou eie voertuig verken nie. Gelukkig bied hulle wildritte aan en dis ’n goeie idee om daarvoor te bespreek terwyl jy hier staan. Die rit vertrek voor die kantoor, >
kos R340 p.p. en daar moet ’n minimum van twee mense wees. Dit duur ’n uur en ’n half, maar vir R60 meer is die rit twee keer so lank.
Maak ’n U-draai
Van die kantoor af is die kampplek ’n halwe kilometer terug op jou spoor tot waar die pad vurk en ’n mens links hou; die sandpad vernou ook hier. Dis egter steeds van so ’n aard dat jy met ’n gewone sedan en woonwa kan sleep sonder om vas te val. Teenoor Bahati se drie groepe kampplekke het Bonamanzi vier, met ’n totaal van 18 staanplekke in die bos. Die eerste vier staanplekke is 1,8 km van die vurk af en ook die plek waar die swembad vir kampeerders gebou is. Die volgende twee groepe staanplekke is ’n halwe kilometer verderaan en is langs mekaar uitgelê, terwyl die laaste groepie twee private staanplekke nog ’n entjie verder is.
Ons kry plek in die derde groep, die Oval-kamp. Dié ses staanplekke is in ’n sirkel om ’n reghoekige siersteengebou uitgelê met die rugkante teen die ruigtes. Elk van die ses staanplekke het ’n eie badkamer in die gebou, maar dis meer as net ’n wasplek: Dis twee vertrekke met die deur wat in ’n kombuisgedeelte oopmaak. Weer eens kan ’n mens aan die gehalte van die teëlwerk sien die eienaars het nie teruggehou nie. In die kombuiskant is ’n wasbak versink met ’n werkblad en die toilet, wasbak en storthokkie is langsaan. Die stortgordyn steek wel af teen die res van die afwerking, maar ’n mens kan nie kla oor die ruimte nie.
Elkeen van die staanplekke het ’n kol grond, maar die grootste deel van die kampterrein is met gras bedek en het heerlike koelte daarby. Elkeen het ’n eie gemesselde braaiplek en ’n mens kan sien Bonamanzi onderhou die staanplekke daagliks. Die rooster is van vlekvrye staal en is silwerskoon geborsel. Jou kragboks is vasgesit teen die paaltjie langs die braaiplek – dit werk ook met ’n gewone huissok en jy sit self die lig bo-op die paaltjies aan en af. Aan die kant van die boks is ’n blou woonwasok ingeval jy die prop wil gebruik. Die kraan staan hier, maar die mense in die kantoor waarsku teen die water wat dalk te souterig kan wees na party mense se smaak. Hulle verkoop drinkwater in die kantoor teen R1/ℓ. Die vullisdrom staan op die punt van die braaiplek en pas onder die blad in, maar as jy die deksel opsit, is dit te hoog, wat beteken dit moet langsaan staan.
Ons buurman kry sy wa reggetrek met sy woonwaskuiwer en parkeer die wa diagonaal oor sy staanplek. Hy dra twee kampstoele nader en slaan dit op sodat dit na die ruigtes wys, asof hulle gereed maak vir die bos-TV.
Die eerste groep staanplekke is effens ruimer as dié staanplekke maar verder dieselfde – daar’s ’n badkamergebou in die middel en ’n private badkamer wat aan elke staanplek toegewys is.
Die tweede groep staanplekke, die Hlangana-kamp, het ses ekstraruim staanplekke, ook in ’n sirkel uitgelê. Al is die staanplekke langs mekaar, is daar struike en klein bome tussenin wat dit soos jou eie kamphok maak. Die koelte is voldoende en in die middel staan ’n groot koelteboom met vier braaiplekke onder dit asook ’n paar bankies en ’n vuurput.
Die badkamers is links met ’n aparte afdak langsaan vir die skottelgoed. Die badkamers se wit teëls lyk of dit uit die vorige era kom, maar die leiklipvloere is nuwer. Die storthokkies is ruim, maar het net ’n nat deel waar jy was en aantrek.
Die twee private staanplekke op die verste punt kan ’n mens twee bosstaanplekke noem. Jy het jou eie badkamer en kombuis asook braaiplek en krag, maar dis effens beknop en afgeleef. Die staanplekke lê ver van alles en almal af en hier is geen selfoonontvangs nie.
Oor na die ander kant
Lee Pelser laai ons by die kantoor op vir die wildrit. Dié wêreld is só dig bebos dat die diere maar skaars is. Lee deel sy kennis, en dis só interessant ’n mens vergeet vir ’n oomblik van die diere.
Hy sê 80% van die reservaat bestaan uit ’n sandwoud met spesiale bome soos die lebombowattel. ’n Bloukopkoggelmander klou onderstebo aan ’n tak – dis volgens die Zoeloetradisie ’n teken van reën. Die lalapalm se vrugte is ’n lekkerny vir olifante, maar mense gebruik die neut om juweliersware te maak – dit word ook groente-ivoor genoem.
Ons ry tot op ’n bult van waar Lee vir ons die koorsboomwoud uitwys, en hou stil by ’n boom met verdikte dorings. Dis die ballondoring en miere maak hulle daarin tuis. >
VALSBAAI-KAMP (ISIMANGALISO-VLEILANDPARK) Wat het hier gebeur?
Die Valsbaai-kampplek is reg op die oewer van die St. Lucia-meer, 12 km anderkant Hluhluwe. Die netjiese teerpad loop nie net tot by die hek van die iSimangalisovleilandpark nie, maar 3 km verder tot by die kantoor. Sowat 100 m voor die kantoor maak die pad ’n T-aansluiting, maar kampeerders met ’n voorwielaangedrewe sleepvoertuig en ’n swaar woonwa moenie sommer net goedsmoeds hier links afdraai kantoor toe nie. Dis ’n steil afdraande van 40 m en boonop ’n stuk klipperige grondpad. Met die verkeerde kombinasie kom jy nie weer self hier uit nie. Aan die onderpunt staan hoeka ’n handgeskrewe bordjie: “GO. OUT. IN. FISRT. GEAR. PLEAS. THANKS.”
’n Ry staanplekke staan hier links teen die meer af, met die kantoor regs. Op die eerste staanplek staan ’n ou Gypsey Caravette 5 en ’n paar visstokke regop teen ’n boom.
Hier is egter geen siel by die Caravette nie, en die radio speel asof die wêreld moet saam luister. Die woorde van die Welkombordjie voor die kantoor is op ’n stomp uitgekerf en met geel verf ingekleur, maar dié skilfer af.
iSimangaliso het van die mees idilliese kampbestemmings – plekke soos Sodwana, St. Lucia en Kaap Vidal, maar Valsbaai suig duidelik aan die agterspeen. Die uitstalsentrum langs die kantoor staan leeg en die glasskuifdeur is toegetrek. Die kantoor is ewe kaal en in die verste hoek hang ’n paar ou portrette van desjare se hengelaars met hulle pronkvisse. Die paar rakke teen die linkermuur is leeg, behalwe vir twee kleiner raampies, óók met ou foto’s daarin.
Twee vriendelike ontvangsdames draf egter deur die papierwerk en ’n mens kan selfs met ’n kaart betaal as jy nie kontant by jou het nie. Jy kan ook self kies waar jy wil staan. Die vroue wil net weet of jy een staanplek met of sonder krag soek, want die tarief verskil.
Diékant en daai kant
Buiten die ry van 12 staanplekke by die kantoor is daar nog 26 staanplekke aan die ander kant van die kantoor. Hierdie staanplekke is ook op ’n ry en teenaan die water. Waar ’n mens links by die T-aansluiting draai, swenk jy regs af na dié staanplekke. Diékant het darem nie ’n moeilike bultjie waarmee jy moet rekening hou nie.
Die staanplekke aan die kantoor se kant is ’n oop stuk grond, maar ook teen ’n skuinste wat in die rigting van die water loop. By elke staanplek is ’n paaltjie met ’n nommer op. Hier is net drie kragpunte (gewone huissok) naby die eerste, laaste en middelste staanplek – en so te sê geen koelte of gras nie. Die twee of drie gemesselde braaiplekke staan ente uitmekaar, maar van die roosters is skoonveld. Die eerste twee staanplekke is die gelykste en elkeen het ’n ordentlike koelteboom.
Die badkamers is net regs van die kantoor, en hier het ’n aalwyn al só hoog gegroei dit leun teen die geut van die gebou. Van die bome hiernaas het plastieknaambordjies wat besonder nuut lyk. Die teëlwerk in die badkamers is nog die oorspronklike wit vierkantige teëls, maar dis tyd vir opknap, want van die teëls het al afgeval. Net soos die badkamervloer is die storthokkie se vloer geverf, maar daar is net ’n nat gedeelte. Jy moet dus buite die hokkie aantrek as jy wil droog bly.
Die staanplekke aan die ander kant lyk omtrent dubbel so groot as die eerstes, en hier en daar is gras. Omtrent die helfte het koelte en van hulle het ’n helling. Die badkamers is regoor die middelste staanplekke en is soortgelyk aan die ander badkamers. Ons het net twee kragbokse gesien, ook by die middelste staanplekke, en hier is ’n handjie vol gemesselde braaiplekke met ’n rooster by van hulle.
Sit en loop
Al sit ’n mens in die iSimangaliso-vleilandpark, kan jy nie die res van die park van hier af verken nie – die pad van die hek af loop dood teen Valsbaai. Hier is wel twee wandelpaaie, of jy kan hengel, maar moenie in die meer swem nie. Dis
seekoei-en-krokodilwêreld. Jy kan sommer van jou staanplek af die voëllewe geniet – sonder ’n verkyker. Die bontvisvangers hou die vlak water dop, die reiers vlieg amper bors teen die water na die volgende staanplek toe, en die duikers kom soos eskaders vliegtuie van die oorkant af oor jou staanplek gevlieg soos die son sak.