RY-INDRUK
Isuzu het sy KB300 effens opgeknap. Charles Thompson het ’n week lank met hom gery – langpad, plaaspad én stadspad – en gee sy indrukke.
Die nuwe opgeknapte Isuzu KB300 LX is ’n bakkie wat die koppe behoorlik laat draai. “Jissie, dis ’n mooi bakkie,” is iets wat ’n mens ’n hele paar keer hoor wanneer jy agter die stuur van dié staatmaker inskuif – by almal van boere en eienaars van 4x4-hindernisbane tot petroljoggies en spiertiere by die gimnasium.
Die 2017-model is nie dramaties anders as laasjaar s’n nie, maar met enkele verbeterings lyk dit asof Isuzu sy betroubare ryding ook vir ’n moderne mark aantreklik gemaak het.
Op die oog af
Al is dit ’n bakkie dié, lyk die KB mooi vaartbelyn met sy nuwe prominenter sierrooster. Die blink chroom word boonop opgekikker met LED-dagryligte wat netjies in die neus geïntegreer is en glad nie die gevoel skep dat dit as ’n nagedagte bygevoeg is vir die opknapping nie – te dikwels die geval met ’n bestaande model wat ’n ontrimpeling ondergaan. Buiten dat dit mooi lyk, is die werklike waarde van dagryligte natuurlik dat jou voertuig bedags meer sigbaar is vir aankomende verkeer.
Verder word die LX met nuutontwerpte 18 duim-allooiwiele toegerus. General Grabber-veelterreinbande is ook standaard, en met hulle aggressiewe sywande en taai loopvlak lyk die KB sommer van die fabrieksvloer af lus vir ’n stukkie grondpad of veldry. Treeplanke, ’n chroom-agterbuffer, ’n 3,5 t-sleepstang en rolstaaf op die laaibak is ook standaard.
Binnelangs
Die 2017-model is ook binnelangs opgeknap. Die digitale skerm tussen die spoed- en toereteller lyk ’n bietjie skoner en netjieser en die LX het nou sleutellose toegang en ’n aansitterknoppie. Jy kan dus nou jou Isuzu oopsluit en aan- en afskakel met die sleutel in jou broeksak. Baie gerieflik.
Verder is die radiostelsel heelwat slimmer as sy voorganger s’n en die raakskermstelsel netjies en maklik om te gebruik. Satellietnavigasie, ’n trukamera en Bluetooth is standaard en dié nuwe eenheid smelt mooi saam met die paneelbord.
Die res van die kajuit is grootliks dieselfde, behalwe dat die voorste passasier nou ook ’n elektriesbeheerde sitplek kry. (Ons kan aan minstens een ander – veel duurder – bakkie dink wat dit nie eens vir die bestuurder as standaardtoerusting bied nie!)
Onder die enjinkap
Die KB draf steeds met dieselfde betroubare 3 ℓ-D-TEQ-enjin as tevore. Dié turboaangedrewe viersilinder ontwikkel 130 kW teen 3 600 r.p.m. en 380 Nm teen 1 800-2 800 r.p.m. Goed, ’n mens moet erken dit begin afsteek teen ander bakkies, maar in die veld is dit ’n heerlike rit. Dis op die snelweg dat dit soms voel of die Isuzu nie die nodige oemf het om >
verby te steek of opdraandes in die hoogste rat baas te raak sonder om spoed te verloor nie.
Sy lae eerste rat laat jou toe om ure lank teen ’n kruipspoed te beweeg, en daar is oorgenoeg enjinkrag en -druk vir steil bulte en afdraandes. Die enjin is ook modern genoeg vir goeie brandstofverbruik – volgens die vervaardiger kyk jy na ’n gemiddelde verbruik van 7,9 ℓ/100 km (ons gekombineerde verbruik was net onder 10 ℓ/100 km).
Die vyfspoed- outomatiese ratkas doen goeie diens, en al is dit ook nie meer die modernste enjin-ratkas-kombinasie op die mark nie, skort daar met die Isuzu se ratkeuse op die pad of in die veld niks nie.
Só ry hy
Sonder ’n vrag op die bak gee die Isuzu ’n tipiese bakkierit – effens stamperig dog skaflik. Dis ’n moderne ryding en hy gaan dus nie jou niere tot in jou keel laat bokspring nie, maar dis beslis ook nie die sagste rit wat ’n mens kry nie. Ons het nie die geleentheid gehad om hom met ’n vrag te toets nie, maar ’n paar honderd kilogram op die bak gaan die Isuzu se ritgehalte vermoedelik verbeter. Dis immers waarvoor dié ryding gemaak is.
In die kajuit is ’n mens deeglik bewus van die enjin, veral wanneer jy die toere moet jaag, maar darem nou nie só dat jy die radio moet harder sit nie.
Op grondpad voel dit na ’n stewiggeboude bakkie - vas op die pad teen spoed en in draaie. Maar wanneer jy ernstige veldwerk doen, is daar wel een of twee dinge wat pla. Hoewel die KB se grondvryhoogte van 220 mm heelwat minder is as die Hilux se 286 mm, vergelyk dit goed met die Amarok se 192 mm, die Mazda BT-50 se 205 mm en die Ford Ranger se 230 mm. Dit voel egter soms asof sy meganika op die verkeerde plekke uitsteek: Op ’n 4x4-hindernisbaan het die Isuzu ’n paar keer gestamp en geskraap waar ’n mens dit glad nie verwag nie en ons moes die rylyn baie sorgvuldig kies. Gelukkig is onderstelbeskerming standaard en jy hoef dus nie té bekommerd te wees as jy hier en daar ’n “klang”geluid hoor nie. Die treeplanke lol ook wanneer jy ernstige hindernisse pak – dié moet jy liefs afhaal as jy lelike kliphindernisse wil aanpak.
In ’n neutedop
Die Isuzu KB het ’n reputasie as ’n taai werkesel sonder nonsens wat honderde harde kilometers op die klok kan vat. Die 2017-model doen dié reputasie gestand: Sy sleepvermoë is van die beste in sy klas (3 500 kg, met ’n lekker taai swaardienshaak) en sy dravermoë is meer as ’n ton.
Jy kan maar sê die Isuzu KB300 het meer asem gekry.