Bibberend in die Bergkoninkryk
Jy hoef nie ver te soek na ’n gawe winterbestemming buite die landsgrense nie. Vat die pad Lesotho toe...
Aan die onderkant van die Sanipas staan ek in ’n kortmouhemp en sonbril. Dit is windstil en die lug wolkloos, selfs doer aan die bopunt van die kronkelende grondpadpas. Dit verwar ’n mens effens, want dit is Junie en jy het uit ’n ysige Kaapstad vertrek met die verwagting dat jy behoorlik gaan vries hier in die noorde. Maar wie weet: Dalk wag dit nog daar aan die bokant van die Drakensberg, waar die reis eintlik begin. Aan die bopunt van die pas sit die Lesotho-grenspos – van daar af gaan ek met ’n lang draai deur die land ry en soveel as moontlik van sy hoogtepunte probeer besoek. Tussen sneeu en ys deur, as dit moet.
Sani is nog grondpad
Sedert 2014 al is daar sprake dat die Sanipas geteer gaan word. Ons was in 2015 laas hier, en toe was daar ’n paar stootskrapers aan ’t werskaf op die pas, maar vandag is daar geen teken van bouwerk óf teer nie. En dit pas my, want Sani is sekerlik die mees ikoniese pas in Suid-Afrika en sy grondpadstatus maak die rit soveel opwindender. Dis die skouspelagtigste poort na Lesotho en daarom die beste manier om ’n besoek aan dié land af te skop.
Danksy die weer wat saamspeel en die bouwerk wat wel afgehandel is, is die rit teen die pas op vandag relatief maklik, en dit vat nie lank om tot by die bekende haarnaalddraaie heel bo te vorder nie. Hier klim ek uit vir ’n foto en voel dadelik die temperatuur is heelwat laer. Die pas klim immers meer as 1 300 m van begin tot einde, en waar ek nou in die skadu van die berg staan, smaak dit my die temperatuur val soos die hoogte styg. En wanneer ek ’n draai loop, kry ek ’n bevrore waterval langs die pad wat my vermoedens bevestig.
Met ’n Lesothostempel in my paspoort draai ek in by die Sani-berglodge en mik dadelik vir die kaggel binne langs die kroeg. Koffie en warm groentesop vir aandete is nou al wat my lyf soek.
Suidwaards na Sehlabatebe
Voor sonop is ek uit die vere. Dis net ná 5 vm. toe ek vertrek na die Sehlabatebenasionale park, 200 km van Sani af. In Lesotho kan 200 km jou egter ’n dag vat om te ry, veral >
as jy grondpad vat. Die eerste 43 km noordwes op die A1 is ’n seepgladde teerlint danksy Chinese ingenieurs wat in die laaste paar jaar feitlik al die hoofroetes deur die land geteer het. Van die Chinese en hulle masjienerie wat in 2015 te sien was, is daar vandag geen teken nie.
Duskant Mokhotlong draai ek suidwes op ’n grondpad in die rigting van Thaba Tseka en mik verby Mashai na Sehonghong. Anderkant Sehonghong sit die son al hoog genoeg om die wêreld te laat ontdooi. Teen dié tyd het ek al ophou tel hoeveel berge ek in die afgelope paar uur op- en afgery het, maar daar is nog een groot pas tussen my en my bestemming: die Matebengpas. Dis ’n lekker steil pas, berug daarvoor dat jy dalk gaan moet pad bou ná stormreëns. Vandag kry ek hom in ’n redelik goeie toestand en dis gelukkig nie nodig om pad te bou nie, maar hoe hoër ek vorder, hoe klipperiger raak die steiltes.
Pap bande en bevrore watervalle
In ’n stadium begin ek voel ek moet die bande nog afblaas voor ek die res van die pas uitry. Ek hou stil, sien ek staan op ’n lekker plek vir ’n foto, klim uit en begin kiek. Toe ek om die bakkie stap, sien ek die linkervoorwiel het homself al klaar begin afblaas, byna tot op die velling. Gelukkig lyk dit nie of ek ver gery het met die pap band nie – op die eerste paar foto’s is die band nog styf, en hy is ook nie verwronge nie. Nou ja, tyd om die noodwiel uit te kry.
Dit sukkel effens so op jou eie op ongelyke grond, maar ’n halfuur of wat later is die noodwiel op. In totaal het byna ’n uur verlore gegaan, en ek is dankbaar ek het douvoordag weggespring.
En dis juis daardie gevoel van alleen in die berge wees wat hierdie plek vir my so spesiaal maak.
Dit lyk of die westekant van die pas lanklaas in stand gehou is en waterskade het daartoe gelei dat dit plek-plek erg klipperig is. Laestrek help uiteindelik om met gemoedsrus tot op die kruin te vorder. Die oostekant van die pas – afdraande vir my – is in ’n beter toestand en die rit is gemakliker. Dele van die pas hier is in die skadu van die berg en jy sien stukkies sneeu en pragtige bevrore watervalle langs die pad. Al traan jou oë en jou vingers is spierwit van die koue, is die wêreld darem maar mooi.
Die Ford kry ’n mank been
Teen die tyd dat ek by Sehlabatebe aankom, is dit te laat om die park te gaan verken – dit moet wag tot môreoggend. In die park volg ek die grondpad oor die berg na die veldwagtershuisie (voorheen Jonathan’s-lodge) en verken die indrukwekkende rotsformasies en wye grasvlaktes te voet. Ek was al eenkeer vantevore hier, en toe was daar ook niemand anders in die park nie. Dis juis dié alleenheid in die berge wat die plek so spesiaal maak. Dis ook enige fotograaf se droom.
Skuins voor middagete – en met gans te veel landskapfoto’s op my kamera se geheuekaart – val ek weer in die pad. Van Sehlabatebe af is die plan om oor Ramatseliso’s Gate tot in Ha Mpite te ry van waar ek oor Seforong noordwaards op teer kan ry tot in Semonkong. Maar ek het skaars weggetrek of die noodlot >
slaan wéér toe. Gelukkig ry ek onder 30 km/h toe ’n knal opklink, gevolg deur ’n skaafgeluid, ’n skudding in die bakkie en uiteindelik ’n harder slag wat die bakkie tot stilstand bring. Op dieselfde oomblik staar ek oopmond hoe die linkervoorwiel die reis na Semonkong op sy eie voortsit. Die wiel het los gekom!
Die aanvanklike gevoel van verwarring verander gou in een van frustrasie. Ek het die wiel tog ordentlik vasgedraai... Hoe op aarde gebeur dit dat die wiel ’n volle dag – en byna 60 km – later op rowwe terrein afkom? Nugter weet.
Gelukkig is ek nie te ver van die park se ingang af nie, en twee personeellede kom sit hand by saam met ’n skaapwagter of twee wat verbygestap gekom het.
Maar nou vat dit lank om die wiel om te ruil – as jy dit al in die veld moes doen, sal jy weet hoeveel moeiliker dit is vanweë die onvoorspelbare omstandighede. Lang storie kort: Dié slag vat dit twee domkragte, ’n knipmes, ’n stapel klippe en ’n paar ander geïmproviseerde
tools om die wiel op te kry. En omdat die eerste noodwiel ook ’n sny in die sywand gekry het, is my enigste opsie om met die Ford se oorspronklike noodwiel (een op ’n 16 duimvelling) verder te ry. Die ander wiele is 17 duim breed en ek hou maar teen ’n slakkepas van onder 40 km/h noord- waarts. Ek kom eers skuins voor tienuur die aand by die Semonkong-lodge aan.
Gelapte tekkies in die plek van rook
Die volgende oggend gaan soek ek ’n werktuigkundige op die dorp om die band reg te maak wat op die Matebengpas ’n gat gekry het. By Thabong Tyre Service ontmoet ek vir Serame Serame wat met ’n frons na die bakkie kyk. “What happened?” wil hy weet. Ek verduidelik en wys vir hom die gat in die noodwiel.
Hy steek hy ’n sigaret aan: “No problem, I’ll fix it.”
So gesê, so gedaan. Met basiese gereedskap en heelwat vernuf herstel Serame gou die wiel met ’n gator en sit dit terug op die velling. Hy help my om die gelapte band in die plek van die kleiner noodwiel terug te sit. Ná middagete ry ek na die uitkykpunt oor die Maletsunyane-waterval buite die dorp. Die mis wat van hierdie 192 m hoë waterval af opstyg wanneer die rivier sterk vloei, is waar Semonkong sy naam vandaan kry: Semongkong beteken “plek van rook”. Selfs nou, in die droë seisoen, is die uitsig skouspelagtig.
As die bandteëspoed nie so baie tyd gemors het nie, sou ek graag een van die Semonkong-lodge se ander aktiwiteite wou probeer – jy kan perdry of ’n stapof 4x4-roete aandurf, óf selfs 200 m langs die waterval abseil – maar dit raak skemer en ek stoot aan na Ramabanta vir die nag.
Amerikaners en Benoni-manne
Toe ek by die Ramabanta Trading Post inry, gooi ’n man en seun vir mekaar ’n regte bofbal, met daardie groot handskoene en al. Dis ’n toneel wat ’n mens in ’n fliek verwag; nié in Lesotho nie. Later vind ek uit hulle is deel van ’n Amerikaanse toergroep.