Haak ’n knorder by Island Lake
Visse bly in die see en in riviere... maar ook op die winkelrak!
Jou ‘food’ in ’n visblik!
Vars vis smaak vorentoe, maar vis is ook wat gelei het tot geblikte kos. Twee eeue gelede het die Fransman Nicolas Appert met maniere geëksperimenteer om vis in flesse te preserveer. (Dit was die tyd toe die Franse regering die moontlikheid van klaarbereide rantsoene vir hulle soldate ondersoek het.)
Nicolas se plan het gewerk, maar die volgende uitdaging was om die houers heel tot by die soldate te kry. ’n Engelsman, Peter Durand, het die probleem met blikkies opgelos.
Blikkieskos is vandag nog met ons en het ’n tipiese rakleeftyd van een tot soveel as vyf jaar. Maar daar is ook uitsonderings. Die blikkieskos aan boord van die stoomskip die Bertrand, wat in 1865 op die Missouririvier gesink het, was glo steeds veilig om te eet toe dit 109 jaar later gevind is.
Die naaste wat die meeste van ons aan ’n sardyn kom, is uit ’n blik. Voor hulle daar beland, word die vis gewas en die koppe verwyder. Dan word hulle in olie gaargemaak óf gestoom en daarna gedroog. Hierna marineer die sardyne as ’t ware in enigiets van olyf-, sonneblom- of sojaolie tot water of souse (soos tamatie en mosterd). Hulle word dan soos soldaatjies in die blikkie gepak – reg vir jou op die winkelrak.
Volgens ’n 2013-opname het 98% van Amerikaners blikkieskos in hulle koskas. Geblikte mielies is die gunsteling (79% van huishoudings), met vleis en seekos in net meer as helfte van die huishoudings (54%).
In Engeland word blikkies selfs as deel van die bevolking se stapelvoedsel beskou, want ’n opname twee jaar gelede het gewys die Britte eet elk tot vier blikkies per week.
In Brittanje kry jy ongeveer 1 500 geblikte produkte, waarvan sousbone natuurlik die gewildste is met tuna in ’n stewige tweede plek.
Die blikkie is vandag ook ’n barometer van die ekonomie, want sodra mense begin noustrop trek, styg die verkope van blikkieskos.
Bronne wikipedia.com, prnewswire.com en express.co.uk