Die sterre voorspel...
Dit kos meer as private ablusiegeriewe met marmerteëls en blink krane om vir ’n vyfsterkampervaring te sorg, sê Neels van Heerden.
’n Gradering behoort eerder ’n aanduiding te wees van oorde wat aan sekere minimumstandaarde voldoen.
In die Bosveld is ’n kampplek wat spog met sy vyfsterablusiegeriewe. Dit word selfs in ’n radioadvertensie verkondig wat gereeld op Bosveld Stereo uitgesaai word.
Maar nêrens op die Toerismegraderingsraad ( TGCSA) se webwerf kan ’n mens hierdie kampplek se stergradering opspoor nie. Dit laat my wonder: Is dit ’n oormatige gespog, ’n doelbewuste wanvoorstelling; of onkunde oor hoe die stergraderingstelsel werk?
Dis waarskynlik ’n bietjie van eers- én laasgenoemde. Ek dink ook die TGCSA het nie noodwendig genoeg byt om ’n kampplek soos dié voor die hof te daag nie. Maar indien iemand by die TGCSA kla oor die vermeende wanvoorstelling, kan ’n mens seker verwag dat die oord ’n beleefde oproep gaan kry.
Die grootste gevaar vir ’n kampplek se beeld is valse aansprake in ’n radioklingel, gedrukte advertensie of op ’n webwerf wat buitensporig hoë verwagtinge skep. Al waartoe dit lei, is dat kampeerders teleurgestel word. En die nadraai daarvan is kritiek wat oorspoel na die sosiale media.
’n Erkende stergradering skep ook sy eie probleme – en ’n mens sien dit in hoe desperaat oord- eienaars is om ’n vier- of vyfstergradering te verkry. Vir sommige mense dui drie sterre op middelmatigheid en enigiets minder wek die indruk dat die kampplek nie op peil is nie. ’n Gradering behoort eerder ’n aanduiding te wees van oorde wat aan sekere minimumstandaarde voldoen.
LANK, LANK GELEDE was ek betrokke by stergradering. ’n Kampplek word oor ’n wye reeks kategorieë geëvalueer, en selfs al het hy ’n amptelike gradering en dié is laer as 5, mag hy nie aanspraak maak op vyfsterablusiegeriewe nie.
Ek glo ’n gradering van drie of vier sterre is die veiligste. As eienaars dié gradering met uitstekende diens, sigbare en deurlopende onderhoud en vriendelike personeel aanvul, is sukses gewaarborg.
Oor die jare het die graderingstelsel onder erge kritiek deurgeloop. Dit was meestal omdat daar ongerymdhede was met die toekenning van sterre in die vasteverblyfkategorie.
Met ’n hele klompie kampplekke se graderings was daar ’n geknoei, maar hulle is gou uitgevang omdat die kampgemeenskap wakker was. Een so ’n voorval was waar ’n kampplek die graderingsbeampte omgekoop het om vier sterre toe te ken. Ná verskeie klagtes is ’n reëvaluering gedoen en die gradering is verlaag tot twee en uiteindelik geen sterre.
Mettertyd het die TGCSA die vereistes vir ’n vyfstergradering só streng gemaak dat dit feitlik onmoontlik was om daaraan te voldoen. ’n Gastehuis met ’n paar kamers vereis nie naastenby dieselfde intensiewe vlak van onderhoud as ’n kampplek nie.
Die TGCSA besluit toe om sogenaamde meesterbeamptes aan te stel wat alle graderingsverslae moet oudit. Hier het ek koppe gestamp met die meester vir Limpopo. Hy het geen kampervaring gehad nie, maar het steeds die een gradering ná die ander afgekeur.
Dit was ook nie lank nie of hy was betrokke in ’n hewige e-posgeveg met ’n oordeienaar. Dié eienaar het in daardie stadium die topkampplek in die land gehad en hy het erg aanstoot geneem toe die meesterbeampte sy oord se private badkamers as “onder standaard” beskryf omdat die krane nie goed vergelyk met die duur ingevoerdes van die Mount Nelson-hotel s’n nie. Die oordeienaar het hom daarna aan die graderingstelsel onttrek.
HOE LYK VYF STERRE vir my? Toentertyd het wyle Jim Reeves die land op hol gehad met sy weergawe van De Waal en Van Rooyen se liedjie “Daar doer in die bosveld”. ’n Paar woorde uit hierdie liedjie vat my mening van ’n vyfsterkampervaring mooi saam: Daar doer in die Bosveld daar’s rus vir my. ... in vreedsaamheid en stilte gaan die tyd verby.
Blink krane en marmerteëls verdien dalk hoë punte, maar dit is min werd as raserige kampbure nie respek het vir die natuur, die geriewe en die rus en vrede waarna mense in die eerste plek op soek is nie.