Lekkerte op ’n stokkie
PYNAPPELSOSATIES MET GRONDBOONTJIESOUS
Ontbeende hoenderdye sorg vir die sappigste sosaties, maar dis tydrowend om hulle te ontbeen. In dié resep word die borsies gebruik – die marinade sorg dat dit steeds sappig en geurig is.
Jy benodig
(genoeg vir 6) 1 kg hoenderborsies (sonder vel of been) 1 blik (410 g) pynappelstukke in natuurlike sap 4 eetlepels grondboontjiebotter (verkieslik grof en nie versoet nie) VIR DIE MARINADE
1/3 koppie pynappelsap (uit die blik) 3 eetlepels olyfolie ¼ koppie sojasous sap van ½ suurlemoen 2 eetlepels bruinsuiker 2 eetlepels srirachasous (of enige rissiesous van jou keuse) 1 teelepel elk gerasperde vars knoffel en gemmer ¼ teelepel gemaalde swartpeper ¼ koppie geroosterde grondboontjies, fyngekap
Só maak jy
1 Meng al die bestanddele vir die marinade. Sny die hoender in blokkies van 2 cm en sit dit saam met die marinade in ’n Ziploc-sakkie. Laat dit oornag in die yskas marineer.
Wenk Jy kan dit ook net so vries en dan ontdooi wanneer jy wil braai.
2 Ryg die gemarineerde hoender en pynappelstukkies op sosatiestokkies.
3 Verhit die res van die marinade en prut dit saam met die grondboontjiebotter in ’n potjie tot dit begin verdik. Geur dit na smaak met nog rissie, suiker of suurlemoensap. As die sous te dik word, kan jy dit met water verdun.
4 Braai die sosaties vinnig oor baie warm kole tot hulle goudbruin en sappig is. Sit dit voor met die grondboontjiesous en gekapte grondboontjies.
Weg Ry & Sleep sê Vries die hoender en pynappelstukke vóór julle vertrek in die marinade en sorg dat jy grondboontjiebotter inpak vir jou kampspens.