Slaan die 4x4-spyker op sy kop
Is jy ’n nuweling in die viertrekwêreld? Maak die man met die snor en two-tone hemp op die kassie jou kop deurmekaar as hy woorde soos “lae bestek” gebruik? Ons is hier om te help.
Die meeste motors word deur net twee wiele aangedryf. Soms is dit die agterste twee, maar dikwels is dit die voorste paar. Viertrekvoertuie word egter deur al vier die wiele aangedryf. Hoekom? Om dieselfde rede dat jy ’n rots met jou hande én voete uitklouter eerder as net met jou voete: Dit maak dinge makliker.
Die eerste meganiese viertrekstelsel is in 1902 deur Hendrik-Jan en Jacobus Spyker, twee Hollandse broers, ontwikkel. Destyds moes renmotors met dunnerige bande op grondpaaie jaag, en die Spyker-broers het ’n manier gesoek om hulle renmotor se padhouvermoë te verbeter. Uiteindelik was hulle viertrekstelsel eenvoudig, maar hulle suksesse op die renbaan het die wenkbroue laat lig – en vervaardigers soos MercedesBenz het die tegnologie dadelik aangegryp.
Deesdae kry jy drie soorte viertrekstelsels: permanente, deeltydse en allewielaandrywing. (Eintlik is daar vier, maar oor hom gesels ons later.)
PERMANENTE VIERTREK
Die Spyker-broers se renmotor het permanente viertrek gehad. Hoe werk dit? Kom ons gebruik ’n Land Rover Defender as voorbeeld: ’n Defender se enjin is gekoppel aan ’n ratkas, wat op sy beurt aan ’n sentrale ewenaar gekoppel is. Van hier af loop ’n kort dryfas na ’n tweede ewenaar op die vooras, en ’n langer dryfas lei na ’n derde ewenaar op die agteras. Soms gebeur dit dat geen van jou voertuig se vier wiele teen die selfde spoed draai nie; dié drie ewenaars keer dan dat die Defender se asse soos koeksisters opwen en die ratkas en ander onderdele beskadig. Die sentrale ewenaar sorg ook dat meer krag gestuur word na die as wat dit die nodigste het. Die voor- en agterewenaar stuur meer krag na die wiel wat die minste weerstand bied. Dis alles goed en wel, maar as jy beheer wil neem oor die kragverspreiding, kan jy die sentrale ewenaar sluit en die krag 50-50 tussen die voor- en agteras verdeel. Dis veral nuttig in ’n hindernis waar jy wil hê die vooras moet ewe sterk trek as wat die agteras stoot. As jy selfs meer beheer wil uitoefen, kan jy die voor- en agterewenaar met ewenaarslotte toerus – dan kan jy die stelsel dwing om ewe veel krag na elkeen van die vier wiele te stuur, dit wil sê elke wiel kry 25% van die enjin se kraglewering.
Die nadeel van voertuie met permanente viertrek is dat hulle swaarder is op brandstof as ’n tweewielaangedrewe motor. Die voordeel daarvan is dat jou trokkie altyd slaggereed is vir 4x4-aksie, en omdat die stelsel betreklik eenvoudig is (teenoor deeltydse viertrek) is daar minder dinge wat kan breek.
DEELTYDSE VIERTREK
Die Amerikaanse motormaatskappy Four Wheel Drive Auto Co het in 1911 deeltydse viertrek ontwikkel vir hulle vragmotors. Die voorste dryfas van dié vragmotors kon ontkoppel word indien viertrek nie nodig was nie.
’n Moderne voorbeeld hiervan is die Nissan Patrol. ’n Patrol se enjin is gekoppel aan ’n ratkas en dié weer aan ’n oordraratkas. Van die oordraratkas af loop daar ’n dryfas na ’n ewenaar op die voorste as, en ’n tweede dryfas lei na ’n ewenaar op die agteras.
In normale omstandighede word slegs die agteras aangedryf en die agterste ewenaar besluit hoeveel krag elkeen van die twee agterwiele kry. As padtoestande moeilik raak, kan die bestuurder ’n kort hefboom langs die ratkierie trek (of deesdae bloot ’n knoppie druk) en ’n dik kettingband in die oordraratkas gryp dan die voorste dryfas vas en stuur ewe veel krag na voor en agter – amper soos wanneer jy die sentrale ewenaar van ’n permanente viertrekstelsel sluit.
Die groot voordeel van deeltydse viertrek is dat jy brandstof kan bespaar deur die voorste as van die enjin te ontkoppel wanneer jy dit nie nodig het nie. Die nadeel is dat daar meer bewegende dele is en derhalwe ’n groter kans dat iets kan skeef loop. As jy byvoorbeeld vierwielaandrywing op ’n harde oppervlak gebruik, kan die oneweredige wringkrag tussen die voor- en agteras skade aanrig aan jou voertuig se onderdele.
Mitsubishi se Super Selectstelsel bied egter die beste uit albei wêrelde. ’n Pajero-eienaar kan sy voorste as ontkoppel en net soos ’n Patrol-eienaar met tweewielaandrywing op die snelweg reis, of hy kan die stelsel in viertrek los en nes ’n Land Rover Defender op enige oppervlak >
ry sonder om bang te wees hy gaan die oordraratkas beskadig. Super Select is dus deeltydse viertrek wat ook as permanente viertrek gebruik kan word.
ALLEWIELAANDRYWING (AWD)
Tegnies gesproke is alle vierwielaangedrewe voertuie – ook die seswielaangedrewe soort – eintlik allewielaangedrewe. Die woord is wel meestal van toepassing op sedanmotors van vervaardigers soos Subaru en Audi wat in al vier wiele aangedryf word, maar nie as ware veldryers geag word nie.
Sommige allewielaandrywingstelsels is soortgelyk aan permanente viertrek (soos in die geval van ’n Subaru Outback), behalwe dat dié voertuie nie ’n sentrale ewenaarslot of laestrekratte het nie. En dan is daar rygoed soos die nuwe Audi Q5 met quattroallewielaandrywing wat meer soos deeltydse viertrek werk – in alledaagse omstandighede word slegs die vooras aangedryf, maar as ’n wiel vastrap verloor, skop die viertrekstelsel in.
Waarom wil jy ’n vierwielaangedrewe sedanmotor hê? Dit gaan grootliks oor verbeterde hantering, nes die Spyker-broers meer as ’n honderd jaar gelede ontdek het, maar ’n ander belangrike rede is gerief. As dit skielik begin reën of sneeu, het ’n mens nie lus om af te trek, oor te skakel na viertrek en dan verder te ry nie.
Weg Ry & Sleep sê Viertrek werk lekker as jy deur diep Kalaharisand wil ploeg, terwyl allewielaandrywing bedoel is vir jaag op gladde paaie.