Weg! Ry & Sleep

TOE GAAN DIE WOONWA OP IN VLAMME...

- JAN EBERSOHN Stellenbos­ch

Ons Jurgens-woonwa het ’n klompie jare gelede aan die brand geslaan en ek het ’n goeie paar lesse uit die voorval geleer.

In 1983 durf ons ’n toer saam met twee van ons vriendepar­e – elk ook met ’n woonwa – deur Namibië aan. Boonop het ons dieselfde soort sleepvoert­uig: ’n Toyota Landcruise­r 4.1. Ons gemiddelde brandstofv­erbruik is ’n “goeie” 4,1 km/ℓ!

By die Hardapdam is die grond só hard ons kry nie die tentpenne ingeslaan nie, en ons doop die plek “Hardekapda­m”. Ons ry na Sesriem oor Maltahöhe waar die grondpad goed sleg raak. Alles in die waens skud los en val om soos die waens agter die voertuie dans. By die Sossosvlei-kamp loer die ontvangsda­me so ewe uit die venster om te sien of ons regtig met woonwaens opgedaag het. Hier speel ons almal in die sand, klim die duine uit en val vas met die Cruisers, maar geniet al die sand.

Ons mik weer terug in Maltahöhe se rigting en die kwik lê bo 40 ºC. Net verby Zarieshoog­te sien ek vlamme in die truspieël en dit lyk of dit brand binne-in die wa! In daardie stadium ry ek in die middel, met Corrie Prinsloo voor en sy broer Nico agter. Ons hou dadelik stil, haak die brandende wa af en kry die res van die gevolg ’n veilige ent weg. Die vlamme staan so hoog dat geen brandbluss­er ’n verskil sal maak nie – van die vlamme “blaas” asof iemand besig is met ’n vlamsnyer.

Buiten die wa se standaardg­asbottels het ek nog ’n ekstra twee onder die bed ingepak. Ek besef een van die bottels se sleutels is nog in hom, en met die skud moet die bottel omgeval het. Dit kon die gasklep oopstamp. Binne die wa was dit ’n goeie 50 ºC en die bottels staan op ’n sintetiese mat. Ek reken die gekap teen mekaar het ’n vonk veroorsaak. Die vlamme speel vinnig klaar met die wa en ’n mens hoor selfs hoe van die aërosolkan­netjies ontplof. ’n Boksie van my pistool se koeëls loop ook deur en ons staan vir veiligheid nóg ’n ent verder weg. Ook maar goed so, want die volgende oomblik klap ’n onaardse skoot soos die wa ontplof. Soos die swart wolk wegtrek, is die wa weg – dis net as wat oorbly.

Daar staan ons met net die klere aan ons lyf; die res is weg. Van die kontant wat my vrou, Petro, in die teepot weggesteek het tot my kamerasak met die kamera en lense – plus Petro se juwele – is daarmee heen.

Die polisie op Maltahöhe is behulpsaam en verwyder die wrak vir ons. Ons wil huis toe, maar ons vriende keer en ons maak die toer klaar – sonder verdere voorval.

Ek het drie lesse geleer: gasbottels moet vasgemaak staan; moenie die sleutel in die bottel los nie; en gebruik proppe om die gasbottel te seël wanneer jy dit nie gebruik nie.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa