Weg! Ry & Sleep

SONDES MET DIE GEELSLANG...

- PIETER OLIVIER Polokwane

Twee jaar gelede besluit ons om ’n naweek by Weesgerus te kamp. Die Saterdag, kort ná donker, sit ek nog en besluit wat om te braai toe ’n chaos oorkant ons kampplek losbars.

Skril gille van vroue trek deur die lug en ek besef daar moet fout wees. Een van hulle het glad krullers in die hare, pantoffels aan die voete en ’n lang verestoffe­r in die hand. Nog een met haar Bloubul-voorskoot staan gewapen met ’n braaitang en besem in die hand. Hulle buurman besef hy moet hand bysit en storm nader met ’n spitgraaf.

Die drie is gillende besig om ’n geelslang te verjaag, en dis nie sommer ’n kleintjie nie – ek skat hom so 1,7-1,8 m lank. Die vroue deel houe uit met die besem en verestoffe­r, terwyl die man net mik en nie ’n hou met sy graaf inkry nie. Die ergste is die slang vlug reguit in ons rigting.

Die slang sien sy wegkomkans in die boom langs my Isuzu, maar ongelukkig vir hom is dit maar ’n klein boompie. Intussen het nog slaners by die man en twee vroue aangesluit.

Die slang besef die boom gaan nie genoeg beskutting gee nie en hy seil by die bakkie se voorwiel onder die enjinkap in. Buiten dat die slang nou iewers in my bakkie “wegkruip”, besef ek die slang moet eerder gered word voor dit sy einde beteken. Ek maak die enjinkap oop, maar sien net ’n klein deel van sy lyf, só diep het hy hom ingewikkel. Ek besef as ek die enjin aanskakel, sal die enjinhitte hom laat uitkom. Dit werk, maar toe kies hy koers onder ons woonwa in. Ek lê op my maag om te sien waar het hy nou ingeseil het, terwyl die ander mense met hulle LED-flitsligte help skyn. As die slang nou skielik in my rigting kom, weet ek dit kan my einde wees. Die slang wys weer lyf, en kies koers terug na die Isuzu toe – wéér by die enjin in.

Ek skakel weer aan, maar dié slag pla die enjin hom nie. Een omstander stel voor ek ry ’n ent en dan ry iemand agter my om te sien wanneer die slang besluit om te los. Dit werk, maar die ou wat agter my ry, ry toe bo-oor die arme slang. Dit was nie die regte besluit nie, want nou is ’n mooi dier van die bosveldnat­uur daarmee heen.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa