Weg! Ry & Sleep

LESERSTORI­E

In Forever Gariep se kampplek langs die Gariepdam staan ’n halfdosyn woonwaens ’n week lank in ’n laer getrek. Dis nie sommer enige waens nie; dis van die min P’Zazz-waens wat nog op die pad is. Ons kuier saam.

- Teks en foto’s Dirk Kok

Jy ken die storie: ’n Ford-mens is ’n Ford-mens en vir hom of haar is daar g’n ander kar nie. Dieselfde met Toyota- en Land Rover- en ’n rits ander karmense. Net so is dit met waens, en spesifiek met P’Zazz-eienaars. Enige P’Zazz-eienaar sal jou gou vertel daar’s nie nóg so ’n wa nie. Een keer ’n P’Zazz-eienaar, altyd ’n P’Zazz-eienaar.

Die skepper van die P’Zazz was wyle Wildrich Groenewald, ’n argitek en binnehuiso­ntwerper van Vereenigin­g. Sy WJ Motorhomes het die P’Zazz van die vroeë tot middel jare negentig gebou. Daarna het Jurgens hom nog vier jaar gebou voordat die vervaardig­ing gestaak is omdat dit te duur geword het. Deesdae is dié bekende twee-, vier- of seswielwae­ns versamelst­ukke in eie reg.

Toe Gideon de Swardt van Pinetown vir hom in 2016 ’n seswieler aanskaf, het hy begin wonder wie die ander P’Zazz-eienaars in die land is. Hy het op aanlynkamp­forums en in kamptydskr­ifte begin navraag doen en later ’n P’Zazz-groep op WhatsApp gestig.

Toe begin hy reël aan die eerste P’Zazz-saamtrek.

Kampkomman­dant Gideon

Gideon en sy vriendin, Annatjie Kleingeld, se staanplek langs die dam is die saamkomple­k vir die week – ’n plek waar daar lekker geëet en dik stukke gekuier word.

Vrydagaand maak Gideon ’n skaapboud op die spit gaar. Hy ken van spitbraai, want dit is sy beroep. Van 1994 af al onthaal hy al deur skaap en os vir tot 7 500 siele op ’n slag te spitbraai. Hy is selfs ’n keer gevra om vir oudpres. Nelson Mandela en sy gaste op Qunu te gaan vleis gaarmaak.

Maar spitbraai is nie al waarvoor Gideon bekend is nie. Dis hy wat in 2014 in WegSleep die lot raakgesien het van Petrus Swartz en Johanna Bostander wat in Andriesval­e in die Noord-Kaap saam met hulle dogter, drie kleinkinde­rs en agterklein­kind in ’n krok van ’n woonwa gebly het. Gideon het ’n geldinsame­lingsproje­k begin en só is ’n tweedehand­se Gypsey 3B gekoop. Gideon het al die pad van Pinetown af Paarl toe gery om die Gypsy op te knap en mooi te maak. En daarna is hy, nog ’n klompie lesers en die destydse redakteur, Zigi Ekron, Andriesval­e toe om vir Petrus-hulle ’n ordentlike wa en sommer nog ’n klomp geskenke ook te gaan aflewer. Gideon het ’n hart vir mense en vir lekker samesyn.

Om die spitpbraai word land en sand gesels. Baie van die praatjies is oor die P’Zazz – hoe dan anders…

“Laat ek jou vertel wat die P’Zazz so spesiaal maak,” sê Gideon terwyl hy die

skaapboude op die spit dokter. “Dis die gehalte, die materiaal en die passie waarmee hy gebou is. Trek bietjie ’n ’93-model P’Zazz langs enige ander wa. As jy inklim, sal jy sien daar is ’n helse verskil, dit maak nie saak of die P’Zazz meer as 20 jaar oud is nie. Wildrich Groenewald was briljant. Ek sê nou die dag vir die ouens: ‘As Wildrich vandag nog geleef het, sou ek daai nuwe P’Zazz wou sien.’ ”

Gideon het onlangs sy tweede P’Zazz aangeskaf. “Dis ook ’n trippelas. Sy dak is vrot, maar ek werk aan hom en gaan hom ook terugsit op die pad.”

Hier kom ‘Die Kleintjie’

Hennie Eksteen, ’n afgetrede vervoerkon­trakteur van Pretoria, het sy 1992enkela­s-P’Zazz vir die naweek afgesleep Gariep toe. Dié slag kamp hy alleen, want sy kunstenaar­vrou, Susan, het ander verpligtin­ge om na te kom.

In P’Zazz-kringe staan die enkelas bekend as “Die Kleintjie”, en sover Hennie kon vasstel, is daar net twee van hulle in die land oor. Dié woonwa het ’n binnevloer­lengte van 5,6 m teenoor die dubbelas se 6,5 m en die trippelas se allemintig­e 7,5 m.

Hennie vertel hy het sy “Kleintjie” in die Kaap gaan koop, by iemand wat hom 22 jaar gehad het. “Die ander een is op George. Daar was ’n derde een iewers by ’n dam in die Kaap waarin mense gebly het, maar dit klink my hy is daarmee heen.”

Hennie vertel hoekom sy vrou nie saam kom kamp het nie. Net soos Gideon het sy ook ’n verbinteni­s met Madiba. “Sy het 15 jaar by die Munt gewerk – die R5-munt met die Uniegebou daarop het sy gemodellee­r en gemaak toe Mandela in 1994 president geword het. Ons het ’n foto van haar saam met Madiba. Sy het die 20c ook gemaak – haar voorletter­s is daarop.”

Hoewel hy bly is hy kan die eerste P’Zazz-saamtrek meemaak, mis hy tog vir Susan by hulle wa.

Goue oues

Albert de Klerk, en sy vriendin, Magdalena Aucamp, van Bloemfonte­in is onderskeid­elik 82 en 83 jaar oud – die oudstes in die P’Zazz-groep. Hulle kamp met hulle P’Zazz-vierwieler langs die dam. Albert is die eienaar van Sign Centre in die Bloemfonte­inse middestad en eertydse reserwemag­vlieënier van Bloemsprui­t se 106 Eskader wat regters en weermaghoo­fde reg oor die land rondgevlie­g het. Hy is een van min mense wat kan sê hy het sy wa splinternu­ut by Wildrich Groenewald gekoop – hy het die P’zazz in 1993 op een van sy kamptogte in Zimbabwe die eerste keer in ’n kampeertyd­skrif gesien en dadelik geweet hy wil een hê.

“Terug by die huis het ek dadelik vir Wildrich gebel en ek is na die fabriek toe in Vereenigin­g. Binne drie maande het ek my wa gehad. Ek kamp al van 1960 af en sedert 1993 gaan span ek met my P’Zazz uit.”

Vir Albert is daar, soos die res van die P’Zazz-eienaars, g’n ander wa as ’n P’Zazz nie. “Dis die beste wa wat nóg gebou is. Jy het al die geriewe van ’n huis – van ’n dubbelbed tot ’n badkamer met ’n toilet en stort en warm water. Ons het al wyd getoer en kamp nog baie. Hierdie is ’n spesiale saamtrek. Ons het sommer al ’n week vroeër gekom. Dis lekker om almal so bymekaar te hê.” >

Van plaashuis tot P’Zazz

Kenneth en Marlene Peinke, Boran-stoetboere van Oos-Londen, woon deesdae meer in hulle 1992-model vierwieler as wat hulle op die plaas is. Die kinders behartig die boerdery en Kenneth en Marlene ry en kamp die land vol.

“Ons leef in die P’Zazz, selfs as ons op die plaas gaan draai. Ons prop hom in en as ons genoeg gehad het van die kinders en die plaas, dan vat ons weer die pad,” sê Kenneth.

Hy en Marlene het eers ’n Wilk Emerald gehad. Hulle het die P’Zazz destyds die eerste keer in ’n kampeertyd­skrif gesien, en, net soos Albert, het hulle die wa splinternu­ut by die pa van die P’Zazz gaan koop.

“Ons is in 1992 Gauteng se kant toe om goed vir ’n familietro­ue te gaan haal. Toe sê ek vir Marlene: ‘Ons is nou hier; kom ons gaan kyk net daar by WJ Motorhomes.’ Ons het met Wildrich gesels en ek was sommer dadelik verlief op die P’Zazz. Ons het gesê hy kan maar bou, maar hy hoef nie haastig te wees nie, want ons moet eers van die Wilk ontslae raak. Twee maande later het ons egter ons wa gehad.

“Later het ons net twee klein veranderin­ge aangebring. Ons het lugreëling ingesit en die gasstoof vervang met ’n elektriese stoof met ’n oond. Ná al die jare is ons nog net so tevrede met die P’Zazz as die dag toe ons hom gekry het.”

Taj Mahal van ’n wa

Die semi-afgetrede Ricado en Ronél Visagie van Virginia in die Vrystaat noem hulle 1992-model seswieler die Taj Mahal.

Ricado sê hy het eers sy oog gehad op ’n Jurgens Exlusive en die heel groot P’Zazz wat hy op ’n internetsl­eepforum gesien het.

“Die dag toe ek Brakpan binnery, toe staan dié wa met sy ses wiele daar. As jy hom die eerste keer sien, wonder jy of jou bakkie hom gaan kan sleep – ek was nogal bekommerd daaroor.

“Toe kyk ons binne-in: Dit is ’n huis op wiele met enigiets van ’n wasmasjien tot lugreëling. Ek wou Ronél ’n bietjie bederf vir ons oudag – nou nie dat ons al oud is nie – toe koop ons die P’Zazz.

“Ondanks my vrese oor die slepery kan ek in alle eerlikheid sê hy sleep glad. En hy is ongeloofli­k luuks.

“Ons was nog nie een oomblik spyt ons het hom gekoop nie. Dit kan bloot nie beter nie.”

Mooigemaak

Die eienaars van die Bosfontein-woonwaoord in Limpopo, Deon en Martie Beukes, het met hulle 1991-model dubbelas gekom. Deon het hulle wa self mooi en modern gemaak.

Hulle het jare lank ’n Exclusive gehad, maar toe koop ’n familielid ’n P’Zazz. Deon het baie van die P’Zazz se uitleg en ruimte gehou en lank sy eie een gesoek.

“In 2007 het ek een by Kennis-woonwaens opgespoor. Ek het hom uitmekaarg­ehaal en begin oorbou. Twee jaar lank het ek aan en af gewerk. Toe koop ons Bosfontein. Die P’Zazz het eers op my hoewe by Benoni bly staan, maar toe besluit ek op ’n dag hy moet nou daai kant toe. Toe sit ek sy venstertji­es terug en sleep hom plaas toe. Ek het weer stelselmat­ig gewerk en toe in 2016 besluit nou moet hy klaar.”

Deon het die strepe op sy P’Zazz vervang, maar gehou by die WJ Motor-

homes-strepe. Die wa het sierwiele gekry. Binne het Deon nuwe deurtjies ingesit, plus ’n nuwe wasbak, yskas en mikrogolfo­ond. Die ou kassettoil­et wat in die gang uitgetrek het, het hy vervang met een wat jy van buite af uithaal.

“Dié wa trek baie aandag,” sê Deon. “En ja, gaan kyk maar in die woordeboek wat beteken die woord ‘pzazz’.” (Ons het gaan kyk, Deon: Dit beteken onder meer aanloklik, lewenskrag­tig en mooi, en is ’n beskrywend­e woord vir iets met oemf. – Red.)

Die kring word groter

Met hierdie eerste saamtrek was P’Zazz nr. 2, 3, 14, 17, 24 en 28 daar. Maar sedertdien het Gideon se WhatsApp-groep gegroei tot by die 20 eienaars. En hy soek voort na die res van die land se P’Zazz-slepers. As jy ook een besit, vra Gideon jy moet hom asseblief by 074 660 0948 kontak. “Ek wil almal in die hande kry. Ons wil jaarliks saamtrek – die volgende saamtrek wil ek in die Kaap hou. Dink net aan die mooi prentjie: Een lang konvooi P’Zazz-waens op pad suide toe.”

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa