Weg! Ry & Sleep

Jou eie plekkie

-

Die Casa Cara-lodge lê aan die Vrystaatse kant van die Vaalrivier, op ’n plaas in Sasolburg se rigting. Hier het hulle pas teen die rivier 13 staanplekk­e vir kampeerder­s bekend gestel. As die idee van ’n wegkruippl­ek langs die viswaters met private geriewe in jou kraal val, is dit die plek waarheen jy volgende kan mik.

Hoewel Casa Cara se eintlike fokus op troues en ander gesellighe­de is, skeep hulle nie die kampeerder­s af nie. Trouens, al die geriewe wat vir chaletinwo­ners beskore is, is ook beskikbaar vir jou gebruik wanneer jy hier kamp. Dit sluit die kleurryke speelparki­e, klein dieretuin, restaurant en swembad in.

Ons het met die oordbestuu­r gesels, en dit klink of daar vroeër eerder as later ook ’n swembad en speelparki­e by die kampterrei­n opgerig gaan word.

Jou staanplek word vooraf aan jou toegeken, en wanneer jy by die ontvangska­ntoor opdaag, kry jy die sleutel vir jou badkamer nadat jy die papierwerk afgehandel het.

Die staanplekk­e lê op ’n streep op die rivieroewe­r en is duidelik genommer met ’n plaatjie wat teen die badkamerge­bou vasgeskroe­f is. Staanplek nr. 1 en 11 is die grootste van die lot en jy kan vir hulle vra as jy met ’n dubbelaswa kom kamp. Die ander staanplekk­e is min of meer ewe groot en jy slaan jou kamp op ’n geplaveide blad op.

Hier is geen afskorting tussen jou en die bure nie en sake is dus nie hééltemal privaat nie. Jy kan natuurlik altyd met jou wa se rugkant na die bure toe staan en jou tent dan in die rigting van die badkamer opslaan.

Die staanplek lê hoër as die rivier, maar onder teen die water is vir elkeen ’n stukkie grond skoongemaa­k waar jy jou met jou visgerei kan kom tuismaak. Die paadjie ondertoe kan glad en modderig raak wanneer dit reën, en dit is veral ’n uitdaging om weer op te klim.

Voor die staanplek staan jou baksteenbr­aaier met sy rooster. Die staalraamw­erk waarop die rooster rus, is aan die braaier vasgebout en jy kan hom nie uithaal nie. Langs die braaier is ’n wasbak met ’n kouewaterk­raan.

Jou private badkamer is basies met ’n stort, toilet, wasbak en spieël, maar dis nog splinternu­ut en netjies. Die stort

is ruim genoeg dat die stortgordy­n nie aan jou lek nie. Die gasgeiser sorg vir jou warm water, en omdat elkeen sy eie een het, is die water heerlik warm wanneer jy stort.

Aan die buitekant van die ablusieblo­k sit jou kragpunt (twee gewone huissokke) en ’n warm- en kouewaterk­raan. Die skottelgoe­dwasbakkie wat onder dié krane hoort, is reeds bestel en sou volgens die bestuur binne weke opgerig word. Dit sal die prentjie mooi afrond.

Kom sit aan

As jy die aand nie lus voel om self kos te maak nie, kan jy by die lodge se restaurant gaan aansit. Dié eetplek is nogal iets om te sien: Dit is op én in ’n varswaterd­am gebou, en die houtgebou het etlike vertakking­s waar dit voel of jy op die water sit. Terloops, jy kan ook jou visstok bring en in die einste dam kom lyn natmaak. Laat net weer daai karp en baber vry wat jy aan jou hoek kry.

Die kinders se speelparki­e is ewe indrukwekk­end. Hulle kan dus na hartelus speel terwyl jy met ’n koel lafenis ontspan. Hier is ook ’n klein dieretuin met onder meer hasies, fisante, hoenders, poue en ’n verskeiden­heid bokke.

As julle in dié rigting kom, onthou sommer om die swemvlerki­es en tjoepies ook saam te bring, want die swembad is in dié deel van die oord geleë.

 ??  ?? SPLINTERNU­UT. As jy opgewonde raak oor ’n staanplek op die oewer van die rivier met private ablusieger­iewe, moet jy Casa Cara se kampterrei­n hoog op jou lysie skryf.
SPLINTERNU­UT. As jy opgewonde raak oor ’n staanplek op die oewer van die rivier met private ablusieger­iewe, moet jy Casa Cara se kampterrei­n hoog op jou lysie skryf.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? RAAK GESELLIG. Die staanplek is van voor tot agter geplavei en jou wa staan mooi gelyk wanneer jy hier kamp. Die rooster is aan die baksteenbr­aaier vasgebout – bring dus jou eie vuurput as jy om ’n atmosvuur wil kuier.
RAAK GESELLIG. Die staanplek is van voor tot agter geplavei en jou wa staan mooi gelyk wanneer jy hier kamp. Die rooster is aan die baksteenbr­aaier vasgebout – bring dus jou eie vuurput as jy om ’n atmosvuur wil kuier.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa