DIE H6 IS VYFSTER
Die Chinese vervaardiger GWM het sy weeldereeks in Suid-Afrika bekend gestel. En inderdaad is die Havalreeks luuks; die afwerking en gehalte vergelyk goed met dié van die Europese handelsname. Dis egter die prys en alles wat jy daarvoor kry wat die Haval van die Duitse menere onderskei.
Kyk maar net na die Haval H6 C se luukse binneruim. Jy sal verskoon word as jy dink jy gaan meer as ’n halfmiljoen rand vir dié ryding moet hoes, maar verder van die kol af kan jy skaars wees. Die duurste van die ses modelle wat plaaslik beskikbaar is, kos minder as R400 000, en die verskil tussen hom en die goedkoopste een in die reeks is skaars R60 000.
Die H6 C is in drie variante beskikbaar: die City, Premium en Luxury. Laasgenoemde is waaraan ons vandeesmaand ’n wa haak. Dié model het alles wat oop- en toemaak, en met sy 2 ℓ- turboaangejaagde petrolenjin en bultende 310 Nm-spiere wys hy behoorlik sy staal voor die woonwa.
Sommer eersteklas, man
Die H6 C-reeks het deur die bank sleutellose toegang, en net te oordeel na die afstandbeheer is GWM met dié reeks baie gesteld op gehalte. Dis dalk gering, maar die afstandbeheer is stewig en swaar, en wanneer jy die res van die kar deurkyk, is dit duidelik geen kort- of goedkoop paaie is gevolg nie.
Dit sluit in die panoramiese sondak, wat byna die hele dak beslaan. Daar is selfs ’n gaasgedeelte onder die sondak wat met die druk van ’n knoppie wegskuif as jy nie omgee vir die sonstrale direk op jou kop nie. Waar jy in die basiese model die ligte se skynhoogte self moet stel, stel die Luxury se ligte outomaties volgens hoe ver die stert sak as jy laai en gewig op die haak sit. Selfs luukshede soos parkeersensors, ’n trukamera en elektriese toevousyspieëls is standaard – op al die modelle.
’n Aardigheid is die afdraandebeheerknoppie. ’n Mens verwag dit eerder in ’n 4x4, want in dié nutsvoertuig is dit onwaarskynlik dat iemand in die kruipmodus só stadig teen ’n bult wil afry.
’n Kameralens onder die linkerspieël is iets wat ’n mens nie op elke kar sien nie – selfs in luukse motors. Maar in die H6 is daar ’n knoppie regs op die stuurwiel wat SVC gemerk is en wat jy druk sodat dié kamera se beeld op die truskerm wys. Só kan jy byvoorbeeld die randsteen dophou terwyl jy parallel parkeer. Dié kamera werk slegs as die Haval stadiger as 15 km/h beweeg.
Die trukamera wys uiteraard ook die beeld na agter wanneer ’n mens terugstoot, en dan word die radio se klank terselfdertyd uitgedoof. Ongelukkig raas die trusensors dadelik as jy met ’n woonwa terugstoot. Daar is darem ’n stilmaakknoppie langs die rathefboom waarmee jy die alarm kan stil kry.
Die rekenaarskerm het ’n verstelling waar jy kan kies of ’n wa gehaak is of nie. Selfs al kies jy die ja-opsie, raas die trusensors steeds. Volgens die slimkoppe by GWM het dié verstelling ’n uitwerking op die sensitiwiteit van die parkeerafstandbeheer. >
Dit wemel van weeldes
In dié prysklas sien ’n mens weinig voertuie met ’n elektriesverstelbare sitplek vir die bestuurder. Haval neem dit selfs ’n stappie verder: Albei die voorsitplekke kan met die druk van ’n knoppie verstel word.
’n Mens sien ook nie aldag stelknoppies vir die radio tussen die voorsitplekke (agter die rathefboom) nie. Dis gerieflik. Wanneer jou linkerarm op die kassie tussen die twee sitplekke rus, is jou hand lekker naby vir dié knoppies. Jy kan dus die klank stel sonder om links te kyk of die raakskerm (nóg verder) vol vingermerke te maak.
Nie net laat weet die Haval jou wanneer dit tyd is om die skoene van die skyfremme op elke wiel te vervang nie; hy hou ook ’n ogie oor al vier die bande. ’n Digitale diagram op die instrumentepaneel wys die druk én temperatuur van elke band – jy kan dus sien as een van die bande dalk te pap is of te warm word. Die rekenaar maak boonop alarm as die lesings die hoogte inskiet.
Die oggend van ons sleeptoets is die bande- en buitetemperatuur albei 19 ºC, maar ná 2 km op die pad (op pad om die wa te haak), styg die bande se temperatuur reeds met 4 ºC. Ná 146 km (nadat ons die wa op 61 km haak) staan die bande op 49 ºC, ’n volle 14 ºC warmer as die buitetemperatuur van 35 ºC. Na afloop van die toets was die bande 40% warmer as die buitetemperatuur, terwyl die druk net 10% toegeneem het van 2,12 bar tot 2,35 bar.
Drie sitplekgordelwaarskuwingsliggies vorm deel van die onderkant van die middelspieël. Dis vir die agtersitplekke. Wanneer niemand agter sit nie, skyn al drie die liggies. Sodra iemand op die ooreenstemmende sitplek sy sit kry, skakel dié liggie af. Jy kan dus sonder om om te draai maklik sien wie van die kroos jy moet aansê om vas te maak.
Die stuurwiel kan soos ’n mens verwag op en af stel tot waar dit vir jou gemaklik is, maar dit kan ook nader en verder van jou af stel. Nog ’n regmerk vir die Haval.
Seepgladde ratte
Die ratkas, ’n Getrag-dubbelkoppelaarratkas, skakel seepglad oor. (Getrag is ’n Duitse ratkasvervaardiger met ’n ellelange CV in die ligtevoertuigbedryf wat ratkaste aan handelsname soos Volkswagen, Ferrari en Volvo verskaf.) Jy kan ook die ratte self verander met die ratspane agter die stuurwiel. Maar selfs dan (in die M-modus) kan jy nie die enjin se toere buitensporig opjaag nie. Dán kies die ratkas self die regte rat om die enjin te beskerm.
As ’n mens oor één ding kan >
kla, is dit die enjinkap. Dit maak soos ’n konvensionele kap oop wat jy dan op ’n afswaailat laat rus. Maar dié lat word só warm jy kan skaars daaraan vat.
Die boekie waarsku ’n mens voorts om die watertemperatuurmeter dop te hou wanneer jy teen ’n steil helling sleep – dit is om te keer dat die enjin oorverhit. Indien dit wel gebeur, moet jy dadelik aftrek en die enjin laat luier tot dit afkoel, volgens die handleiding.
Gansnek en sakplaat
Die toetsvoertuig het ’n gansnekstang waarvan die bolgedeelte met twee 12 x 70 mmboute aan die groter stangarm vasgebout word.
Die bol staan altesame 48 cm bo die pad, maar die stang is só ontwerp dat jy nie die bolhoogte kan verstel nie. As jy ’n sakplaat wil gebruik om by die regte hoogte vir jou woonwa te kom, kan jy ’n stang met ’n flensplaatgedeelte kies.