Pieter sê
Ek hou van hoe die Haval lyk, al is dit nog ’n taamlik onbekende kar op ons paaie. Die afwerking binne kan jy met enige van die Duitse motorvervaardigers vergelyk, net soos die elektriese handrem en die baie plek vir die mense op die agtersitplek.
Die meerderheid Chineesvervaardigde voertuie se binneruim gee ’n mens ’n plastiekgevoel, maar dis beslis nie die geval met die Haval nie.
Hy is lekker stewig binne, ’n mens hoor geen vibrasies nie en die ratspane is ’n gawe bederf. Hulle werk selfs in die gewone outomatiese modus waar jy self ’n laer of hoër rat kan kies. Teen 100 km/h draai die enjin teen 2 000 r.p.m. en jy voel nie die woonwa nie.
Die radio se stelknop tussen die voorsitplekke is soortgelyk aan dié van Mercedes-Benz, maar waar Merc s’n al die funksies van die radio beheer, stel hierdie een net die volume.
Die sitplekgordelliggies by die spieëltjie is gaaf, maar ek dink hulle gaan pla in die aand (en ek sien nie plek waar jy hulle kan afskakel nie). Dis ook vreemd dat ’n kar met al dié luukses nié ’n navigasiestelsel het nie.
Die dubbelkoppelaarratkas is natuurlik wakker en reageer onmiddellik, en die enjin trek lekker. Dít terwyl ’n mens uiters gemaklik sit.
Vir my werk die afdraan- debeheer as jy byvoorbeeld baie stadig teen ’n bult wil afry sonder om jou voet op die versneller te sit. Die enjin hardloop nie weg met die sleepkombinasie nie.
Die sierrooster het nóg ’n rooster agter dit wat die verkoeler beskerm ingeval ’n voël in jou pad sou kom.
Wanneer ’n mens die Haval met die afstandbeheer sluit, maak die ruite wat nog oop is, ook outomaties toe – ek hou daarvan. ’n Mens sou verwag om rondom R500 000 vir dié soort luukses te betaal, maar teen R390 000 is dit uitstekende waarde vir geld... dis ’n prys wat nie maklik geklop gaan word nie.