Weg! Ry & Sleep

Jou ligte en die wet

Staafligte en die wettigheid van ligte wat op voertuie aangebring word, het onlangs in die kollig beland. Die tyd het aangebreek dat ons met die owerheid om ’n tafel gaan sit, sê Mic van Zyl.

- Mic van Zyl is direkteur van Ironman 4x4 Africa, die eksklusiew­e invoerder en verspreide­r van die volledige reeks Ironman 4x4-produkte. ironman4x4.co.za

By laasjaar se Nampooesfe­es het ons ongeveer R100 000 se ligte en staafligte verkoop. Vanjaar het ons vier ligte van die hand gesit. Vier. Wat het in 12 maande verander?

Omtrent elke mens wat die Ironman 4x4-stalletjie besoek het, wou weet wat aan die gebeur is met die wetgewing rondom ligte en staafligte. Sommige besoekers het ons selfs daarvan beskuldig dat ons onwettige ligte verkoop. Hulle het volgehou ons moet verantwoor­delik gehou word vir die boetes wat hulle gekry het omdat ons staafligte op hulle voertuie aangebring het.

Staafligte en die wettigheid van ligte wat op voertuie aangebring word, het om die een of ander rede weer in die kollig beland. Ek reken dis omdat hierdie ligte al hoe gewilder begin raak het. Die probleme het eers in Namibië ontstaan en toe oorgespoel na Botswana en selfs Zimbabwe. Daarna het plaaslike wetstoepas­sers mense begin aftrek en daarop aangedring dat staafligte en kolligte verwyder word. In sommige gevalle is voertuie se lisensiesk­yf selfs afgeneem en bestuurder­s is nie toegelaat om verder op openbare paaie te ry nie. Dit het ontaard in ’n taamlike gemors, en ek kan nie help om te wonder hoekom die wetstoepas­sers nie eerder die fokus verskuif na ander belangrike­r fasette van padveiligh­eid nie. Goed soos bestuurder­s sonder ’n rybewys en onpadwaard­ige voertuie.

DAAR IS ’N AANTAL fundamente­le wette wat verband hou met wit ligte aan die voorkant van ’n voertuig wat jy op ’n openbare pad gebruik. Jy mag nie meer as ses hê nie, hulle mag nie hoër as die voorste rand van die enjinkap geïnstalle­er word nie, hulle mag nie oor die vertikale middellyn van die voertuig skyn nie, hulle moet in pare aangebring word (2, 4 of 6) en hulle mag nie sterker as 55W skyn nie. Dit hang natuurlik af watter boek jy lees. Jy mag dus geen staaflig in die middel van jou voertuig hê nie, geen ligte bo-op die middelste hoepel van jou bosbreker nie, en beslis niks op jou dak of dakrak nie.

Ons is ’n maatskappy wat ligte invoer en versprei. Dit sluit in kolligte wat halogeen-, HID- en LED-ligbronne gebruik. Ons ligte kom in verskeie modelle, van die ronde kolligte tot staafligte. Ons is natuurlik bekommerd oor die huidige wetlike situasie en die uitwerking daarvan op ons klante. Ons verkoop staafligte aan boot-en vliegtuig eienaars, boere, jagters, natuurbewa­arders, die polisie, nooddienst­e en mynmaatska­ppe – ’n magdom mense en organisasi­es wat ons ligte op maniere gebruik wat nie deur die padverkeer­swet gedek word nie.

DIT IS DUS VERKEERD om te sê ons ligte is onwettig. Dit is dalk onwettig om hulle op sekere maniere op ’n gewone padvoertui­g te gebruik, maar die gebruik van die ligte strek baie verder. Terwyl dit ons reg is om hierdie ligte in te voer en te verkoop is ons onder geen verpligtin­g om die gebruik daarvan te reguleer nie. Dit is die koper se verantwoor­delikheid om seker te maak die ligte word wettig gebruik.

Daar is ook ’n twispunt oor die wettigheid daarvan om ligte met LED as ’n bron te gebruik – of dit nou kolligte is of nie. Die grootste probleem hiermee is die verkeerspo­lisie wat die wetgewing moet toepas. Dit voel vir my hulle is self in die duister oor die tegniese aspekte van die wetgewing oor kolligte.

Daar ís egter goeie nuus: In Amerika en Australië is wetgewing onlangs verander om voorsienin­g te maak vir dié nuwe ligtegnolo­gie. Ironman 4x4 Africa onderneem om met die owerheid om ’n tafel te gaan sit in ’n poging om dieselfde in SuidAfrika te laat gebeur. Dit gaan ’n interessan­te proses wees.

Jy mag dus geen staaflig in die middel van jou voertuig hê nie, geen ligte bo-op die middelste hoepel van jou bosbreker nie, en beslis niks op jou dak of dakrak nie.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa