Volpunte vir die driepuntster
Suid-Afrikaners hou al die asem op sedert Mercedes-Benz in 2015 aangekondig het hy gaan ’n bakkie bou. Nou het die X-klas uiteindelik sy opwagtig gemaak. Kyle Kock het vasgegordel en die agterpaaie van die Tuinroete gaan verken.
Ons het by ’n vorige geleentheid (Weg Ry & Sleep #5) geskryf oor die Duitse voertuig vervaardiger Mercedes-Benz se tegniese samewerking met Nissan en die beendere wat sy X-klas met die Navara deel.
Ons moet egter bevestig dat Stuttgart se ingenieurs hulle eie benadering gevolg het, al het hulle ’n bloudruk ontvang. Een voorbeeld is die onderstel wat langer én breër gemaak is.
Wat jy sien...
Almal het ’n eie mening oor wat mooi is, maar die Mercedes-Benz X-klas is beslis nie ’n lelike eendjie nie. Wanneer jy hom van die kant en van agter af bekyk, is daar wel ooreenkomste met die Navara, maar dis waar dit eindig. Veral die neus is aansienlik anders as dié van sy Japannese eweknie.
... en wat jy kry
Die Suid-Afrikaanse X-klas het ’n grondvryhoogte van 240 mm – 20 mm hoër as in ander markte. En dan word die plaaslike X-klas ook standaard toegerus met ’n sleepstang, waswaaibeheer en ’n trukamera.
Binnelangs
Wanneer jy aan die bestuurderskant inklim, besef jy dadelik hoe gerieflik die sitplek is – ’n goeie kompromie tussen gemak en ondersteuning. Dit is ook lekker om vir ’n slag ’n bakkie ter y met goeie materiaal stoffering eerder as leer. En omdat dit ’n Mercedes is, kan jy sommer dadelik agterkom die materiaal gaan vir donkiejare hou.
Gepraat van gehalte: Harde plastiekpanele loop deesdae onder fel kritiek deur, maar die X-klasse instrumentepaneel en deur panele is van die soort wat nie roer óf goedkoop voel nie. Toegegee, nie almal gaan van die glansswart afwerking rondom die luginlate en inligtingskerm op die middelkonsole hou nie, en as jy boonop gereeld grondpad gaan ry, mag jy dalk vind dat jy jou sakdoek meer gereeld gaan moet uithaal om die stof van die plastiek af te vee.
Mense wat korter as ses voet ses is, gaan die sitplek vorentoe moet skuif, want die stuurstang is nie vir lengte verstelbaar nie. Die 6 spoed-handratkas het ’n kort kierie wat lekker in die hand voel én reg lyk by so ’n netjiese binneruim, hoewel dit effens onverwags is in ’n voertuig wat nie ’n sportmotor is nie. As jy die duurder model kies, word jy beloon met ’n videokamera in die neus wat help as jy hom as ’n veldryer gaan gebruik. Dis veral nuttig as die bakkie se neus hemelwaarts wys en jy nie die hindernis voor die enjinkap kan sien nie. Dis ’n lekker katoeter om te hê, maar andersins is die X-klas toegerus met die soort toerusting wat hom in staat stel om bossies plat te trap.
Agter die stuur
Die 2,3 ℓ-turbodieselenjin is nie so raserig soos van die Merc se mededingers nie. Die grootste deel van die wringkrag is vroeg reeds beskikbaar, teen slegs 1 500 r.p.m., wat beteken jy hoef nie die ratkierie aanhoudend te pomp om aan die beweeg te bly nie. Jy kan slegs jou tone gebruik om stadige verkeer verby te steek. Die koppelaar byt wel effens vroeg, amper halfpad deur die pedaal se trapafstand.
Met die X-klas se plaaslike bekendstelling het die organiseerders die motorskrywers behoorlik in die diep kant ingegooi. Ons was skaars agter die stuur toe ons die eerste 4x4-hindernis moet aandurf – ’n steil afdraande wat wys presies hoe doeltreffend die laestrekratkas en elektroniese afdraandebeheer is. Al wat ons egter moes doen, was om ons voete van die pedale af weg te >
hou en die X-klas te los om self teen die skuinste af te kruie. Die meerskakelvering agterlangs laat oorgenoeg op- en afwaartse beweging toe vir die as en wiele.
In die volgende toets moes ons teen ’n steil opdraande op los gruis stilhou. Die ratkas is in viertrek, hoëstrek, gelos. Sodra jy jou voet van die rempedaal afhaal, sal die elektronika die remme vir ongeveer drie sekondes langer inhou – lank genoeg sodat jy die versneller kan trap voordat die kar agtertoe rol.
Toe speeltyd verstreke is, was dit tyd om pad te vat na die ou Duiwelskoppas – ’n bergpas wat in onbruik verval het en nét die regte plek is om die X-klas se kloutervermoë in laestrek te toets.
Die X-klas het glad nie gesukkel nie, ondanks die banddruk wat ’n bietjie hoog was vir veldry. Om te dink jy kan met dié bakkie van ’n geteerde snelweg aftrek en dadelik in tegniese terrein begin speel sonder om voorbereidings te tref – dis indrukwekkend.
Die vering se vermoë om moeiteloos af te reken met die terrein en die tjoepstil kajuit het uitgestaan as die X-klas se sterk punte. En omdat die Suid-Afrikaanse weergawe hoër bo die grond staan en daar nie treeplanke is wat in die slag kan bly nie, was dit verspotmaklik om die bergpaadjie te verken.
Omdat die X-klas se vering so lekker op grondpaaie werk, het ons verwag dit sou ook gemaklik wees op die N9-snelweg en later die uitstekende Outeniquapas, maar daar was wel ’n ligte gestamp aan ’n ou se agterstewe. Dit is waarskynlik veroorsaak deur ons toetsvoertuig se 17”-bande met dik wande.
Wat die res van die ritgehalte betref, kon ons nie fout vind nie – op teer- óf grondpad. Bakwieg is gering, en die neus duik en agterstewe hurk amper glad nie wanneer jy hard rem of haastig versnel nie.
Nóg op pad
Die afwerkingsvlakke in die kajuit is van die beste in dié voertuig kategorie; dit lyk selfs bete ras heelparty sport nut s voertuie .’ n Mens hoor nie die diesel se klepgeraas of ander klanke van buite nie.
As jy nie tevrede is met die viersilinderreeks nie, kan jy wag tot vroeg in 2019 wanneer Mercedes-Benz se V6-weergawe van die X-klas in Suid-Afrika bekend gestel word.
Ons kan nie wag om ’n groot woonwa aan die X-klas te haak en ’n deeglike sleeptoets – én ’n strawwer 4x4-toets – te doen nie.
Goed, die X-klas is die duurste bakkie in Suid-Afrika, maar vir die stewige prys kry jy ’n stewige pakket. Ons dink die X-klas gaan ’n sukses wees.