Pasaangeër... op teer
Geleidelike verbeterings die afgelope 15 jaar aan BMW se middelslag-sportnuts het van hom ’n teiken onder mededingers gemaak. Kyle Kock toets die derde geslag X3.
Sagte veldryers val dalk nie in almal se smaak nie, veral mense wat meer hou van tweespoorpaaie deur die Naukluft se grasvlaktes of tande kners in Angola se Doodsakker. Maar of jy dit goedkeur of nie, daar is ’n winsgewende mark vir sagte veldryers. ’n Groot deel van dié mark bestaan uit klein sportnutse wat ’n billike prys het, maar die gewildheid van luukse veldryers is ook aan die toeneem.
Terwyl sekere vervaardigers nog besig is om hulle voete te vind, het BMW al jare se ondervinding opgehou met sagte sportnutse – oor die afgelope twee dekades het hy al meer as 1,5 miljoen van hulle reg oor die wêreld verkoop. Die X3 se derde geslag is nou hier, en dit beteken hopelik ook die jongste weergawe is beter as sy voorgangers.
Aartjie na sy vaartjie
Daar is elemente wat ongetwyfeld eie is aan München se gunstelingmotorvervaardiger – dinge soos die Hofmeister-kinkel in die C-pilaar (nou effens verleng) en die niertjievormige sierrooster (nou nóg groter). Die jongste X3 is ontwerp deur die Australiër Calvin Luk – dieselfde ou wat die huidige 1-reeks, ook die X1, geskep het. Sy onbeskaamde ontwerpfilosofie is na die X-reeks oorgedra, en daarom lyk die X3 minder inkennig en aansienlik meer flambojant as tevore.
Die asafstand is met 50 mm verleng, maar dit lyk na selfs meer danksy die slim knakke in die bakwerkpanele, veral as jy dit van die kant af bekyk, en die glashuis is ook smaller. Die kurwe van die wielboë laat dit lyk of die X3 vorentoe beur. Die geheelbeeld is sportief, veral omdat die X3 wat ons getoets het, met opsionele 21”-bande toegerus is.
Binnelangs
Menige vervaardiger beweer hulle het die panoramiese sondak uitgevind, maar BMW doen dit reg. Die glas strek van heel voor tot heel agter, en wanneer jy die sonskerm terugskuif, verander die binneruim van ’n donker affêre – die swart leersitplekke ís effens morbied – in ’n helder, vrolike leefplek. Jy kan die sonskerm oop los, want die glas is behandel sodat die sonlig nie die binneruim warm bak nie. ’n Buitengewoon warm week in die Kaap het dit aan ons bewys.
Die afwerkingsvlakke is puik – van die geborselde metaal tot die glansswart insetsels op die instrumentepaneel (eintlik maar een groot raakskerm). Gepraat van die raakskerm: Wanneer jy tussen ritmodusse oorskakel, verander die kleurskakerings en instrumentasie op die skerm. Daar is ook ’n koordlose herlaaier vir slimfone. Sit jou nuwe iPhone in die paneel voor die rathefboom en die foon sal vanself begin laai. ’n Ander gawe eienskap is die Harman Kardon-klankstelsel wat jou deur enige verkeersknoop sal dra.
Hoe ry hy?
BMW se sessilinderenjins is legendaries, en veral die turboaangedrewe weergawes is prysenswaardig. As jy die xDrive met allewielaandrywing neem, gaan jy bogsnuiters in warmgemaakte luikrugmotors op hulle neus laat kyk.
Maar dis op die ooppad dat die X3 eers tot sy reg kom. Op die gladde teer van ’n snelweg is die xDrive30d in ’n klas van sy eie, selfs al is hy nie die topmodel nie. Die hoeveelheid wringkrag is indrukwekkend, >
en die agtspoed- outomatiese ratkas pas goed by die enjin. Die hele stelsel werk saam soos die lede van die Beatles. Verander enige van die lede of komponente – ja, selfs vir Ringo – en jy benadeel die res.
Ondanks ’n vurige rit deur die Overbergomgewing van die Wes-Kaap het die X3 ’n ekonomiese 7,5 ℓ/100 km gelewer. By die Dwarskloofpas het ons oorgeskakel na die Comfort-modus wat die voosgetrapte teerpad na Greyton ’n aks aangenamer gemaak het. Hoewel dié modus goed werk om ligte hobbels, katogies en krake in ’n teerpad te verbloem, help dit nie veel op ’n sinkplaatgrondpad nie. Goed, die banddruk was 2,4 bar, maar selfs al het ons ’n bietjie lug uitgelaat, hoort laeprofielbande eenvoudig nie op ’n grondpad nie.
Selfs al gee jy nie om vir die geskud en gestamp nie, wil die laeprofielbande ook nie aan ’n grondpad klou nie, en daarom moet jy uiters versigtig ry. Ons sidder om te dink hoe ’n vakansie deur Namibië sal verloop in ’n X3 met dié bande – vervang hulle eerder.
Tegnologie
Ons het die tenk met 50 ppm-diesel gevul en oorgeskakel na die ECO PRO-modus – en oor die volgende 60 km het die reikafstand van 900 km tot 1 017 km gespring.
Daai ekstra 117 km kan handig te pas kom tussen Beaufort-Wes en Laingsburg as die pomp op Leeu-Gamka leegloop. In die Sport-modus verander die prentjie aansienlik. Dán raak die stuuraksie swaar en die versnellerpedaal veerlig. Hou byvoorbeeld jou voet stil in ECO-modus, druk die sportmodusknoppie en voel hoe die spoed skielik toeneem.
Wat veiligheid betref, is daar ook goeie nuus. As jy elke dag ure op die pad deurbring, sal jy bly wees oor die Driving Assist Plus-pakket wat aanpasbare spoedbeheer en outomatiese remme insluit. Dié stelsel sal ook die wiele in jou baan hou as jou oë vir ’n oomblik toegaan omdat jy gisteraand tot laatnag aan jou baas se voorlegging gewerk het.
Slotsom
Sonder opsionele ekstras kos dié model R868 000, maar hy gaan jou meer as ’n miljoen uit die sak jaag as jy al die lekker katoeters wil byvoeg – dus is die X3 baie mense nié beskore nie. Selfs die uitvousleepstang gaan jou beursie met R11 500 ligter maak. As jy wel die geld het en nooit beplan om die bosse in te vaar nie, is die X3 dalk die regte motor vir jou. Jy sal nie spyt wees nie, want die X3 doen alles goed, mits jy op die teerpad bly.