Weg! Ry & Sleep

Gawe grondpadka­lant

Subaru is bekend vir sy uitstekend­e allewielaa­ndrywingst­elsels – wel, die XV is slimmer en veiliger as ooit tevore, sê Cyril Klopper.

-

Die 1990’s en vroeë 2000’s was ’n goue era vir die wêreldtydr­enreeks (WRC). Dit was ’n tyd toe magtige masjiene soos die Mitsubishi Lancer Evo en Toyota Celica Turbo met Subaru se Impreza meegeding het. Name soos Colin McRae en Tommi Mäkinen was op elke tydrenaanh­anger se lippe en dit was amper onmoontlik om te voorspel wie die volgende wedren sou wen.

Maar toe word die reëls verander om luikruggie­s en Fransmanne met die naam Sébastien te bevoordeel. Tien jaar gelede het menige skoolseun sy pa gesmeek om ’n blou Impreza WRX STI te koop – een met goue wielvellin­gs, ’n gapende luginlaat in die enjinkap en ’n komieklike drukvlerk agterlangs. Daardie dae is egter verby. Die befaamde Subaru World Rally Team het ontbind en onder skoolseuns sorg ’n 2018 Impreza omtrent vir net soveel opwinding as ’n Toyota Etios.

Maar wat van die kordate Subaru XV? Dis ’n luikrug, dis ’n sportnuts en dis ’n Impreza op stelte wat lyk of hy op bosboupaad­jies in ’n denneplant­asie hoort – dit klink mos bakgat, nie waar nie?

Binne en buite

Die XV is inderdaad gegrond op die Impreza, maar danksy swart plastiekpa­nele op die wielboë en ’n dakrak vir bergfietse en kajakke – en natuurlik omdat hy hoër bo die grond staan – het hy ’n houding wat getuig van avontuurlu­stigheid. Sy lang neus herinner sterk aan die Mazda CX-3 se voorkoms en sy allewielaa­ndrywing plaas hom in die geselskap van die Volvo XC40 en Mini Countryman eerder as die voorwielaa­ngedrewe Toyota C-HR – almal die Subaru XV se mededinger­s.

Die Subaru XV blink uit oor sy veiligheid­seienskapp­e. Die XV het vyf sterre behaal in die Japannese én streng Europese botstoetse, en sy EyeSight-kamera-en-sensorstel­sel hou ’n wakende oog oor ander motoriste en voetganger­s. Wanneer die stelsel opmerk dat jy moontlik in ’n ongeluk betrokke gaan wees, sal hy die voertuig outomaties laat rem. Hy waarsku jou ook as jy oor ’n sperstreep ry en as daar ’n voertuig in jou blindekol wegkruip.

In dié marksegmen­t beskik

slegs die Volvo XC40 oor dié vlak van veiligheid­skenmerke.

Waar die XV ongelukkig tekort skiet, is sy bagasierui­m. Teen 310 ℓ is sy bagasiebak heelwat kleiner as dié van byvoorbeel­d ’n Volvo XC40 (460 ℓ) en BMW X1 (505 ℓ). Dit is darem groter as ’n Volkswagen Polo s’n, maar ook nie veel nie.

Só ry hy

Die XV ry heel aangenaam – ’n rit in ’n XV voel amper soos ’n Sondaguits­tappie na die botaniese tuin. Ons sal die rit nie as vervelig beskryf nie, maar dis ook allesbehal­we opwindend. Die vering is hard genoeg om bakwieg tot die minimum te beperk, maar dis darem ook nie só hard dat jou tande klap nie.

Subaru is bekend vir sy palwisselr­atkaste, bekend as Lineartron­ic CVT, maar anders as baie ander palwisselr­atkaste is Subaru s’n darem nie té veragtelik nie.

Die Subaru XV blink uit oor sy veiligheid­seienskapp­e. Die XV het vyf sterre behaal in die Japannese én streng Europese botstoetse.

Trouens, die een in ’n Subaru Outback is amper beter as ’n gewone outomaties­e ratkas. Die Outback is wel met ’n lekker sterk 3,6 ℓ-sessilinde­renjin toegerus wat sy ratkas laat jubel, maar die XV word gekniehalt­er deur ’n verleë 2 ℓ-viersilind­erenjin – sonder ’n turboaanja­er – wat té pap is om sy palwisselr­atkas te laat presteer.

Die deursneemo­toris gaan egter nie hieroor kla nie, en as die trae ratkas jou werklik omkrap, kan jy na die sportmodus oorskakel en die ratwisselp­edale agter die stuurwiel gebruik om 7 “ratwisseli­ngs” na te boots. Die ratkas in die XV lewer aanvaarbar­e diens as jy bedaard bestuur en nie beplan om soos Sébastien Loeb of Sébastien Ogier te jaag nie. >

Die XV se vastrapbeh­eer werk puik op grondpaaie, nes jy van ’n Subaru verwag, en die stuuraksie voel goed: nóg oorsensiti­ef nóg traag. Die 18”-bande rol gemaklik oor sinkplaatp­aaie en slaggate, en omdat die enjinen-ratkaskomb­inasie so sedig is, voel dit nooit of jy soos ’n wildewragt­ig van die pad af in die bosse gaan injaag nie. Net soos die Outback het die XV ook ’n X-modus. Dit is basies elektronie­se ewenaarslo­tte en die afdraandeb­eheer wat met die druk van ’n knoppie ingespan word sodra die padoppervl­ak effens uitdagend raak. Om uit te vind of die XV murg in sy pype het, het ons ’n plaaslike hindernisb­aan getrotseer en summier in modder van 3 cm diep vasgeval.

Die XV wou nie vorentoe óf agtertoe nie en het bloot vreemde bromgeluid­e gemaak. ’n Paar toeskouers het die XV uit die modderplas gestoot – nadat hulle eers eiertjies gelê het – maar toe ons onthou om die elektronie­se vastrapbeh­eer af te skakel het die XV aansienlik beter gevaar op die hindernisb­aan. Die enigste tekortkomi­ng wat die XV werklik terughou, is sy lang, lae neus wat maklik teen ’n grondwal vassteek.

Slotsom

As dit kom by vakmanskap en voorkoms kan ons nie fout vind met die Subaru XV nie. Sy mistroosti­ge enjin-en-ratkaskomb­inasie stel wel teleur as jy ’n petrolkop is, maar die gewone ou gaan dink jy’s té krities as jy kommentaar hieroor lewer. Die Subaru XV se eintlike probleem is dat ’n Renault Duster (R312 900) en ’n Hyundai Creta (R349 900) meer prakties is – vir heelwat minder geld.

 ??  ?? Subaru XV
Subaru XV
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? TOT OP DIE BEEN. Die XV deel ’n onderstel (in goud) met die Impreza.
TOT OP DIE BEEN. Die XV deel ’n onderstel (in goud) met die Impreza.
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa