Kuier land en sand
Min dinge gee ’n mens so ’n lekker vakansiegevoel soos om langs die see onder jou stoeptent te sit – in ’n kortbroek en plakkies. Die KwaZulu-Natalse Suidkus is vol sulke plekke.
Die ganse Suid-Afrika wemel van kampplekke, maar soms as ’n mens jou tentpenne iewers tussen Nêrenslaagte en Vaalbossiesfontein wil gaan inslaan, moet jy hard en lank soek vir ’n graskolletjie met ’n ablusieblok. Op ander plekke, soos die Bosveld (vernaam Bela-Bela se wêreld), Tuinroete of die oewers van die Vaalrivier, lê die kampplekke weer só dig opmekaar dat ’n mens nie weet hoe om te kies nie. Die Suidkus van KwaZulu-Natal is een so ’n streek, veral rondom Margate. >
SHELLY-WOONWAPARK Voor in die (padda)koor
As ’n mens op jou GPS staatmaak wanneer jy uit die binneland op die N2 in Port Shepstone se koers ry, beduie die stem jou om by die groot kruising met die verkeersligte regs te draai op die Izotshapad – dis nog voor jy behoorlik in die dorp is. Die pad loop eers deur ’n nywerheidsgebied en dan verby ’n steengroef en deur ruie bosse. Jy begin naderhand wonder of die blikbrein dalk die spoor byster is, want dit lyk nie soos ’n pad wat jou gaan neem na die mooi kampplek met die dammetjie wat jy op die webwerf gesien het nie.
Ná 5 km staan ’n stukkende padpredikant by nog ’n kruising met verkeersligte. Nog net die “ach” van “Shelly Beach” is vas aan die raam wat dit regop hou. Die res van die bord lê op die grond en wys jy moet links draai. ’n Halwe kilometer verder stel ’n helderrooi Coca-Colakennisgewingbord jou gerus jy is darem op die regte plek.
Teen sononder begin die paddakoor by die dammetjie opwarm, nes in die musiekvideo van Paul McCartney se ‘WeAll Stand Together’.
Maak jou tuis
Die afdraaipad lei jou eers oor ’n treinspoor en dan verby die kampplek se ingangshek tot by die ontvangskantoor. Hier handel Kate Roberts die papierwerk af en stop jou ’n afstandbeheer vir die hek in die hand. Die ontvangskantoor is op ’n terras bo die kampplek, maar jy moet weer padlangs terug om by die hek in te gaan waarby jy netnou verby is.
Wanneer die hek weer agter jou toeskuif, is daar is ’n geil groen kampplek voor jou met 36 staanplekke. Die ingangspad loop met ’n sirkel deur die kamp, met die meeste van die staanplekke wat aan weerskante van die pad uitgelê is. Hulle het die meeste skaduwee en is ook die naaste aan die ablusieblok. Die ablusieblok gaan geen pryse vir binnenshuise versiering wen nie, maar dis skoon en netjies en ’n mens sukkel nie met warm water nie.
As jy ’n staanplek met meer privaatheid of beskutting soek, mik vir staanplek nr. 15-18 of 34-36. Eersgenoemdes lê op ’n terras aan die bokant van die swembad en laasgenoemde drie in ’n doodloopstraat anderkant die swembad en die kampplek se enkele selfsorghuisie. Hierdie staanplekke is die verste weg van die verbypad en die treinspoor.
Hier is ’n kragpunt vir elke staanplek, al is hulle soms drie bymekaar in een krag-
boks gegroepeer. Elke staanplek het ook sy eie vullisdrom en gemesselde braaiplek vir wanneer jy die vuur wil aansteek.
Daar onder by die dam
Aan die onderkant van die kampplek is ’n dam omtrent so groot soos ’n halwe rugbyveld. Dit is wel feitlik teen die grensdraad, maar sonder twyfel die plek se fokuspunt.
’n Likkewaan dryf stil tussen die waterlelies, terwyl net sy kop bo die water uitsteek. ’n Nonnetjieseend kom stryk met ’n gefladder en gesnater op die water neer en styg dan weer grasieus oor die spieëlgladde oppervlak op. Op die oewer lê ’n roeibootjie en ’n klompie kano’s waarmee jy ook op die water kan vaar. Jy kan probeer om baars en kurper te vang, maar bring jou eie stokke – en onthou: Wat jy uittrek, moet jy weer teruggooi.
Teen sononder begin die paddakoor by die dammetjie opwarm, nes in die musiekvideo van Paul McCartney se “We All Stand Togehter”. Hier’s baie soorte paddas, waaronder die mikropadda wat kleiner is as ’n mens se pinkienael. Dit lyk amper soos krieke wat in die gras rondhop.
Moet ook nie skrik as jy ’n riet- of waterleliepadda kry wat ná die nag se gerinkink sy roes onder jou tentflap kom afslaap nie. Wanneer die paddas met daglig stil word, vat die geelvinke oor met die tweede vers, terwyl hulle koponderstebo tussen die riete aan hulle neste hang.
Sit neer die iPad
Jy’s nou wel naby die see, maar die naaste strand en Margate se doendinge is 3 km weg. Daar is nietemin genoeg te doen by die oord sodat die jong klomp nie verveeld raak nie. As jou kinders ongeduldig is om te gaan lyfnatmaak, kan jy hulle solank na die oord se swembad toe stuur. Daar is ’n klein lapa langsaan met braaiplek en piekniektafels waar jy kan kuier terwyl jy kyk hoe hulle bommies maak. Daar is betonbankies op die oewer van die dam as jy eerder die voëls wil dophou.
Wanneer hulle klaar geswem het, kan die kinders hulle op die swaaie en klimraam uitwoed, of, as jy hulle ’n paar munte in die hand stop, by die speletjieskamer gaan tafeltennis of pool speel. >
Gaan speel in die tuin OASIS-WOONWAPARK
Ondanks die helderkleurige naambord by die Oasis-woonwapark se ingangshek voel dit steeds amper asof ’n mens per ongeluk by ’n private woonhuis ingedraai het wanneer jy hier stilhou. Trouens, die hele Falconweg in Uvongo het die atmosfeer van ’n voorstedelike woonbuurt waar die mense by nr. 4 net toevallig ’n tamaai groot voortuin het.
Die wildevyebome, boslelies, agapante en hibiskusbosse is maar net ’n paar van die bome en struike wat aan die oord sy skaduryke tuingevoel gee.
Oasis, wat so groot is soos vier rugby- velde, behoort aan Eddie Noyons en sy vrou, Naomi, en dis hulle woonhuis wat ’n mens sien wanneer jy hier indraai. ’n Deel van die huis is ingerig as ’n ontvangskantoor waar Eddie jou gul verwelkom. Die 33 staanplekke strek van voor die huis teen ’n effense helling af tot teen die onderste grens. Elke staanplek is op ’n gelykgemaakte terras en ’n tuinier loop met ’n swartsak oor die skouer en hark geduldig dooie blare op.
Knap gedaan!
Die meeste staanplekke het hulle eie gemesselde braaiplek en kragpunt, maar hier en daar gaan jy ’n 15 m-verlengkoord nodig hê om elektrisiteit aan te lê.
’n Mens sal nie ’n lang, dubbelaswoonwa op elke staanplek kan staanmaak nie, maar hulle is almal ruim genoeg vir ’n middelslag-wa met ’n stoeptent.
Die staanplekke is duidelik afgebaken en die paadjies tussenin van beton. Nêrens gaan jy dus die gevaar loop om oor iemand se tentpenne te ry nie, maar om ’n paar skerp draaie gaan jy wel versigtig moet ry en mooi mik met jou sleepding. Jy gaan dalk nie jou wa kan sleep tot presies waar jy hom wil hê nie; in so ’n geval moet jy afhaak en stoot om hom op sy plek te kry.
Wanneer die oord in seisoentyd vol is, gaan dinge dalk effens knap raak en iemand gaan moet verkeersman speel.
Die wildevyebome, boslelies, agapante en hibiskusbosse is maar net ’n paar van die bome en struike wat aan die oord sy skaduryke tuingevoel gee.
Iets te ete
As jy dringend moet wasgoed was, kan jy dit gaan doen by die wasmasjiene in die ablusieblok langs die woonhuis óf jy kan sowat 600 m straataf stap en dit by die Wishy Washy-wassery gaan
ingee. Dié wassery is in ’n sentrumpie op die hoek waar Falconweg, Crescentweg en die hoofpad bymekaarkom.
Buiten vir die wassery is die sentrum eintlik maar ’n versameling restaurante, waarvan Breakers blykbaar die plaaslike gunsteling is. As jy dus nie lus of tyd het vir vuur opsteek en braai nie, kan jy hierheen kom vir ’n uitgebreide spyskaart met enigiets van pasta alfredo (R70) tot Indiese lamskerrie (R95). Die seekosgeregte beslaan drie bladsye van die spyskaart en die hoenderschnitzel (R79) word met goeie rede onder die restaurant se spesialiteitsgeregte vermeld. Dis uit en uit ’n wenner.
Ná ete kan jy dan bult-op terugstap woonwa toe, as boetedoening vir die Dom Pedro wat jy as nagereg gehad het.
Slaaptyd
Die kampplek lê aan die bopunt van ’n driehoekige straatblok, wat beteken die grootste gedeelte daarvan grens aan ’n straat; Falconweg aan die een kant en Ostendweg aan die ander. ’n Mens hoor dus die verkeer saans, maar dis nie ’n lawaaierige buurt nie en daar’s nie swaar vragmotors wat hier verby dreun nie.
Vroegoggend is ’n mens in elk geval veel meer bewus van die voëlgeluide in die boomtoppe bo jou staanplek as die verkeer. Die voëls raak só uitbundig dit voel asof hulle jou berispe omdat jy te lank lê en sluimer in jou bed.
As die voëls jou nie wawyd wakker gemaak het nie, sal die storte hier dit vir seker doen. Die ablusieblok is netjies geteël met ruim storte, en wanneer ’n mens die stortkraan oopdraai, is die water só warm dit slaan amper jou asem weg. >
As daar iets soos ’n “tradisionele vakansieoord” is, sal die Margate-woonwapark beslis kwalifiseer om so genoem te word. Die naam op sigself spreek boekdele. Wat kan meer sprekend wees van ’n lekker kampvakansie by die see as dié twee woorde bymekaar?
Dit is ’n betreklike groot oord met 50 staanplekke en 8 selfsorghuisies. Die huisies en staanplekke is amper soos straatblokke uitgelê – elke “straatblok” het twee rye wat rug teen rug lê met digte struike tussenin vir privaatheid. Dit gee aan die hele park die gevoel van ’n klein woonbuurt. Elke “erf” het sy eie kragpunt en gemesselde braaiplek en jy deel ’n kraan met twee of drie bure straataf.
Die woonbuurtgevoel het dalk ook daarmee te make dat ’n deel van die terrein – ver links van die ingangshek – opsy gesit is vir voltydse inwoners. Dit is meestal pensioentrekkers wat hier bly, en terwyl jy tussen die drie plantheinings van jou staanplek kamp opslaan, ry mense besadig verby en waai en groet vriendelik. Kinders ry ook ongehinderd heen en weer op hulle fietse.
Al die paaie in die kampplek is geteer, en om seker te maak daar’s nêrens ’n verkeersopeenhoping nie, is daar heldergeel pyle op die teer geverf om eenrigtingverkeer aan te dui. By die inhangshek is ’n verkeersirkel en -eiland wat kort op mekaar volg. Dit raak effens verwarrend, want die geel pyle stuur ’n mens telkens regsom – antikloksgewys – anders as normale verkeersvloei. Regs van die verkeerseiland is nog ’n straatblok wat loodreg teenoor die ander staan. Dis min of meer die middelpunt van die kampplek en ook waar jy die swembad en die negeputjieminigholfbaan sal kry. Dit kos R5 om ’n stok en balletjie by die kantoor te huur.
Ondanks die boonste grens van die kampplek teenaan die hoofstraat wat van Port Shepstone af na Southbroom loop (die R620), is dit betreklik stil in die oord. Daar’s buitendien net ’n paar kampplekke, die ablusieblokke, waskamer en speletjieskamer teen dié grens.
Stort vinnig
Die ablusieblok het twee lang vertrekke, onderskeidelik vir mans en vroue, met teëls op die vloer en teen die mure. Aan die een kant van die vertrek is die storthokkies op ’n ry met halfmasdeure waar ’n mens se voete onder uitsteek. Teen die oorkantse muur is ’n ry wasbakke met een lang rakkie bo waar jy jou badkamersakkie kan neersit terwyl jy jou tande borsel en hare kam.
Neem maar laataand ’n flits saam, want die ligte in die ablusieblok is aan ’n bewegingsensor met ’n tydskakelaar gekoppel. As jy te lank in die stort talm, raak dit skielik stikdonker en dan moet jy met ’n handdoek om jou lyf uitklim sodat die sensor jou eers weer “raaksien”.
Langs die badkamers is ’n klein gemeenskaplike kombuis en selfs ’n plek om die blinklyf wat jy van die strand af gebring het skoon te maak.
Jy kan ruilmunte vir die wassery se masjiene by die ontvangskantoor koop teen R30 stuk, en as jy spane vir die speletjieskamer se tafeltennisbaan soek of veerpyltjies wil koop, kan jy dit ook by die kantoor kry. Dit kos R100 vir die spane of veerpyltjies, en ’n tafeltennisballetjie kos R10. Die winkel verkoop ook hout, ys en vuuraanstekers vir wanneer joune opgebrand is.
As jy iets meer as dit nodig het, kan jy ’n draai gaan maak by die Hibiscus Mall-inkopiesentrum. Die sentrum is stapafstand en het van die vernaamste kettingwinkels waar jy geholpe sal raak met enigiets van tjops en wors tot ’n nuwe baaibroek vir Ousus.