Die land van woude, watervalle en wilde strande
Die Wildekus het nie sonder ’n goeie rede sy naam gekry nie. Hier is g’n supermarkte nie; die paaie is byna almal grond; en die landskap is omtrent nog so ongerep as die dag toe dit geskape is.
Die Wildekus is tradisioneel die tuiste van die Xhosas en strek van Oos-Londen tot teen die grens van KwaZulu-Natal. Op ’n kaart sien jy hoe die N2 van Oos-Londen af binneland toe krul en dan weer stelselmatig terug kus toe loop tot by Port Shepstone. As jy nader aan die see wil ry, gaan jy dit nie met jou plat kar kan doen nie.
Die Wildekus-4x4-ekoroete loop van die Keirivier monding in die suide tot net buite Port St. Johns in die noorde. Die roete loop grootliks al langs die kus, maar in dié wêreld is daar soveel berge, klowe en riviere dat jy gereeld gou binneland toe moet swenk om ’n rivier oor te steek of ’n bergkloof te vermy. Boonop is dié agterpaadjies nie met bordjies uitgemerk nie; trouens, jy kry hulle nie eens op Google nie. Maak dus seker jy het ’n GPS met die jongste Tracks4Africa-kaarte. Hier word die roete die beste aangedui, en plekplek gemerk met waarskuwings soos “Steep gorge,” “Rocky and dangerous,” en “Large boulders. Watch your diff”. Dít is die soort beskrywings wat ’n geharde 4x4-entoesias se hart vinniger laat klop, maar doen jou huiswerk vóór jy wegspring. Selfs met al die detail op Tracks4Africa en ’n goeie papierkaart soos Slingsby s’n is daar dele wat nie meer lyk soos wat dit aangedui word nie. En dít vind jy eers uit wanneer jy daar aankom.
Dis ook beter om nie alleen te ry nie, veral as jy beplan om van die rivierkruisings op die suidelike deel van die roete te doen. Hoor by die plaaslike mense hoe lyk die pad vorentoe, want eergister se reën kan dit dalk vandag >
onbegaanbaar maak. Of anders ry jy dalk drie uur in een rigting met ’n tweespoor net om uit te vind die paadjie loop dood tussen die bosse in ’n diep kloof waar geen voertuig in jare deur is nie. Dan is omdraai jou voorland, en net so is ’n halwe dag daarmee heen.
Maar dan is dit ook deel van die avontuur. Dié plek word nie verniet die Wildekus genoem nie.
Noordwaarts die wilde wêreld in
Ons het besluit om die roete noordwaarts te doen, omdat ons hom al voorheen in ’n suidelike rigting gery het. (Hoeveel onse is in jou pond? Evan het die roete alleen aangedurf, want nie een van sy vriende met “’n regte werk” kon afkry om saam met hom te reis nie. – Red.)
Jou wegspringpunt in die suide is die Keirivier monding; dis ’n goeie idee om ’n dag vroeër aan te kom en op Morgansbaai of Keimond oor te slaap. As jy sommer dadelik wil tent opslaan, mik vir die Double Mouth-natuurreservaat 5 km wes van Morganbaai. Die kampterrein sit teen die strand en dis boonop ’n uitstekende hengelplek. Óf, as jy vir oulaas in ’n ordentlike bed wil slaap, kan jy met die pont oor die Keirivier vaar (R80 per voertuig) en in ’n chalet gaan slaap by die Trennery’s-hotel, sowat 17 km anderkant die rivier. Hier kan jy darem nog ’n laaste rugbywedstryd in die kroeg kyk voor jy die moderne samelewing agterlaat.
Skaars ’n kilometer voor Trennery’s swenk die ekoroete noordoos na die Qolorarivier en dui ’n rivierkruising naby die Gates-waterval aan. Anderkant die rivier kronkel die roete verder noordwaarts oor die Ixaxo-, Sebe- en Gqungerivier, almal met waarskuwings van “Difficult Crossing”, voor jy by Mazeppabaai uitkom. Dit het onlangs gereën en dit lyk nie na ’n goeie idee om dit manalleen te waag nie. ’n Ompad deur Ketani Mazeppabaai toe lyk na ’n beter opsie, en dis gelukkig net 67 km soontoe – ’n raps meer as ’n uur se ry.
Hangbrûe, nguni’s en spietkops
In die middel van die week buite vakansietyd gaan daar nie veel aan in Mazeppabaai nie. Hier is ’n klompie vakansiehuise en ’n hotel, maar die dorp se grootste toeriste-attraksie is ’n hangbrug na ’n eilandjie aan die oostelike punt van die strand. Dis beslis ’n besoek werd, al is dit
net om bene te rek en ’n foto of twee te neem. Eenkant op die strand lê twee ngunibeeste en bak in die son. Later op die toer besef ’n mens koeie wat sonbaai, is in dié deel van die wêreld nie ’n aardigheid nie. Van Mazeppa af is dit 114 km tot by die Dwesa-natuurreservaat, die bestemming vir die aand, maar dit vat ’n goeie vier uur om die afstand af te lê – nie omdat die pad sleg is nie (inteendeel, dit is in ’n verbasend goeie toestand), maar omdat die kronkelpaadjie oor die heuwelagtige landskap jou skaars toelaat om meer as 50 km/h te ry. Die bietjie verkeer wat jy teëkom, is ou skedonke, klein karretjies of taxi’s wat almal teen ’n kruipspoed beweeg, en daar is nie altyd verbysteekkans nie. Maar daar is nóg ’n rede om in dié geweste stadig te ry: In die Wildekus is daar ’n aantal hindernisse in die pad waarvoor jy wakker moet wees. Hoe verder jy ry, hoe akkurater kan jy hulle begin klassifiseer en hulle reaksie na ’n aankomende bakkie begin voorspel. Soms frustreer hulle jou en ander kere kan jy lag daaroor, maar op die ou end moet jy vrede maak daarmee. Eerstens is daar mense. Hulle ken uiteraard voertuie, bly uit die pad en groet vriendelik. Die uitsondering is jong kinders wat met piepklein uitgestrekte handjies aangehardloop kom en soos ’n goedgeoefende skoolkoor uitbasuin: “Sweeeeets! Sweeeets! Sweeeets!” Dan is daar beeste. Hulle staan dikwels die pad vol as jy om ’n draai kom en is lui om te beweeg. Dis eers wanneer die bakkie se neus amper aan sy boude raak dat ’n bees met verontwaarding sal skrik en padgee. En, o ja, maak maar op dag een vrede daarmee dat jou bakkie se onderstel vol beesmis gaan wees en die klankie saam met jou verder gaan reis, want die paaie in hierdie deel van die wêreld is vól sulke “landmyne”. Boerbokkie is verbasend beleef. Hulle hou daarvan om in die pad te lê, maar hulle ken die storie as hulle jou sien aankom. Hulle staan vroegtydig op sonder om te kerm en loop eenkant toe. As jy dan verby is, gaan lê hulle weer waar hulle was. Jy hoef skaars rem te trap. Die reaksie van ganse, eende, varke en hoenders >
is effens paniekerig en chaoties, maar hulle maak hulle gou uit die voete. Die uitgeteerde africanis-honde skarrel stert tussen die bene weg, maar een of twee van hulle wat effens van lotjie getik is, probeer jou bande in die verbygaan byt.
En dan, laastens, maar verreweg die hardkoppigste blokkasie: ’n Donkie. Kyk, ’n donkie voel nou maar eenmaal ’n veer vir ’n aankomende voertuig. Hy sal nie eens ’n wenkbrou lig nie, wat nog te sê ’n poot om uit jou pad uit te kom. Mense noem hulle glo spietkops, want hulle laat jou dood stop in die pad.
Eersteklas
Dwesa is ongetwyfeld een van die Wildekus se beste kampplekke. Dit is die suidelike deel van die Dwesa-Cwebenatuur reservaat wat deur die Mbasherivier in twee gedeel word. Jy kannie van die een deel na die ander ry nie – die naaste brug is met ’n ompad van 60 km deur die binneland. Cwebe is kleiner en minder wild, en die enigste verblyf is by ’n hotel met die naam The Haven. Dwesa is voorheen effens afgeskeep teenoor Cwebe, maar die Oos-Kaapse parkeraad het in onlangse jare die suidelike deel van die park mooi in stand gehou en die verblyf opgegradeer.
In Dwesa kan jy tent opslaan, jou wa parkeer óf in ’n houthut met ’n toegeruste kombuis en sonkrag in die woud bly. En as jy buite seisoen kom, is die kans goed dat jy die reservaat met net enkele, indien enige, ander besoekers deel. Sit darem ’n ekstra dag op jou reisplan om hier uit te span. Die woude rondom die kampterrein is uitstekend vir voëlskyk, daar is ’n paar bospaadjies wat jy met jou bakkie kan verken, en die hoogtepunt is ’n pragtige ongerepte strand.
Terwyl Dwesa een van die minder bekende plekke in die Wildekus is, is die volgende bestemming op die reis, Koffiebaai, een van die gewildstes. Die deel van die ekoroete tot daar is een van die mooistes op die roete en boonop in ’n goeie toestand; dus kan jy effens later in die dag wegspring en sonder haas reis. Veral die bergpasse weerskante van die Mbasherivier is skouspelagtig en daar is ’n lekker aftrekplek langs die brug vir ’n koffiebreuk.
Jy kan net voor 10 vm. uit Dwesa vertrek en selfs teen ’n rustige pas net ná middagete by die Wildekus se mees ikoniese plek aankom: Hole in the Wall. Jy kan ry tot by ’n uitkykpunt (S32.038347 E29.107062) om die imposante rots in die see met ’n koëlronde gat in die middel gade te slaan. Of jy kan by die hotel parkeer en sodoende die lastige “toergidse” en “karwagte” vermy wat op enige voertuig met vreemde nommerplate toesak. Jy kan van die hotel se parkeerterrein af stap na die Hole in the Wall (dis sowat 1 km) en op ’n mooiweersdag is dit ’n uitstekende plek vir ’n piekniek.
Private strande en rivierkruisings
Koffiebaai is bekend as dié plek vir rugsakreisigers en branderplankryers. As jy wil leer hoe om branderplank te ry of ’n tradisionele trom te slaan is dit net die plek vir jou. Maar wees gewaarsku: Kof- fiebaai bars oor vakansietye uit sy nate.
Sowat 50 km van Koffiebaai af lê nog ’n natuurreservaat waarop die Oos-Kaapse parkeraad trots kan wees: Hluleka is klein (770 ha), maar dit beteken bloot jy kan jou verbeel jy is ’n miljoenêr in ’n eksklusiewe oord met ’n private strand. Hier is ook net ses moderne chalets (met plek vir vier mense elk) in die reservaat; dus kan jy en jou familie en vriende die hele plek uitboek teen slegs R250 p.p. Dis nie aldag dat jy ’n stukkie paradys kan bespreek vir ’n appel en ’n ei nie. >
Veral die bergpasse weerskante van die Mbasherivier is skouspelagtig en daar is ’n lekker aftrekplek langs die brug vir ’n koffiebreuk.
Hier is twee kort 4x4-paadjies wat jy kan ry in die park – een na ’n uitsig oor die kuslyn aan die oostelike grens van die park, en een deur die woud na die noordelike grens. Laasgenoemde is plek-plek oorgroei, maar loop uiteindelik tot by ’n hek waar jy die park kan verlaat en sowat 3 km wes van die Mnenurivier weer by die ekoroete aansluit. ’n Waarskuwing op Tracks4Africa dui aan dat die brug oor dié rivier in 2008 weggespoel het – dit is tot vandag toe nog nie reggemaak nie, maar jy kan langsaan oor die water kom mits die rivier nie te vol is nie.
Plek van die watervalle
Anderkant die Mnenu is dit skaars 40 km tot by die R61 waar jou wiele weer teer vat tot op Port St. Johns. Hierdie aansluiting is die amptelike eindpunt van die ekoroete, maar dis beslis nie die einde van die Wildekus se besienswaardighede nie. Daar is ’n hele paar lekker kampplekke weerskante van die Umzimvuburivier aan die noodelike grens van Port St. Johns wat nie te versmaai is as jy ’n dag of twee batterye wil herlaai en kyk of jy ’n leervis of gespikkelde knorder uit die rivier kan vang nie. Gaan maak ’n draai by die aanloopbaan op Mount Thesiger (volg die pad na die militêre basis berg-op) vir ’n panoramiese uitsig oor die dorp, die rivier en die see.
’n Ent verder teen die kus op is ’n Drifters-kamp wat ’n mens net met ’n 4x4 kan bereik – iets wat ’n mens gerus op jou emmerskoplysie kan sit. Dié kamp is >
die naaste wat ’n mens kan kom aan Waterfall Bluff, ’n waterval wat oor ’n krans direk in die see stort.
Draai dus jou ryding se neus in die rigting van Lusikisiki. Anderkant die dorp kan jy eers gou van jou roete afwyk en met die Mbotyipad ry om by die Magwa-waterval (S31.447097 E29.639226) uit te kom. Moenie die kans misloop om dié 144 m hoë waterval te besoek nie. Dis die Wildekus se grootste en skouspelagtigste én dis maklik bereikbaar. Jy parkeer aan die bopunt van die vallei en stap deur die vlak rivier na die uitkykpunt oor die diep ravyn wat nogal aan die Victoria waterval herinner.
As jy genoeg kiekies het, kan jy weer in die pad val. Wanneer jy by Drifters bespreek, stuur hulle vir jou aanwysings na Luphuthana, maar die kamp word ook op Tracks4Africa aangedui (S31.421291 E29.851733). Die laaste 11 km is tweespoor oor wye grasveld wat beskermde weidingsgebied is vir die plaaslike beesboere. Dis ’n pragtige stukkie pad, veral omdat jy nie sommer elders in die Wildekus sulke wye oop grasveld sien sonder tekens van mens nie. En dit lyk of jy ordentlik kan modderry wanneer dit swaar gereën het.
As jy by Luphuthana aankom, moet jy op die oostelike oewer van die rivier parkeer en jou bagasie oor dra na die kamp toe. Hier is twaalf tweebed tenthutte met en suite-badkamers en ’n lapa met ’n toegeruste kombuis, maar verder moet jy alles self bring, beddegoed inkluis.
Dis sowat 4 km se stap van die kus af tot by Waterfall Bluff. Jy stap nog om ’n draai en dan verras die dreunende waterval jou. Hier, by een van die Wildekus se heel wildste plekke, kan jy vir ’n rukkie stil en alleen vertoef. Dan begin ’n mens die Wildekus verstaan: Ja, jou bakkie kan jou neem na plekke waar min ander mense kan uitkom, maar hierdie stukkie kuslyn hou sy ware juwele diep weg en wys hulle net vir diegene wat bereid is om te stap.
Moenie die kans misloop om dié 144 m hoë waterval te besoek nie. Dis die Wildekus se grootste en skouspelagtigste.