Weg! Ry & Sleep

’n Plek vir vrinne én vinne

Die splinternu­we Batis & Bass-rivierkamp is ’n gawe kuierplek – nie net vir kampvriend­e nie, maar ook hengelaars.

-

BATIS & BASS-RIVIERKAMP Oewerstaan­plek vir almal

Dis nie aldag dat ’n mens ’n hele kampplek vir jouself kan bespreek nie. Wel, darem nie net vir jouself nie: Wanneer jy by die Batis & Bass-rivierkamp bespreek, word die plek vir jou en jou vriende opsy gesit.

Die kampplek is omtrent halfpad tussen Ceres en Worcester op Plum Lategan se grond. Plum-hulle boer met wyndruiwe en pere, en het aanvanklik die kampplek vir hulle eie gebruik ingerig. Maar sedert Desember laasjaar deel hulle dié eksklusiew­e kampplek met ander kampeerder­s. Buiten dat jy die geleenthei­d kry om op ’n werkende plaas te kamp, sal hengellief­hebbers tuis voel by Batis & Bass, want hier swem ’n hele klomp spesies vis in die water wat jy aan die lyn kan probeer kry.

Die kampplek is teen die oewer van die Breërivier uitgelê – ’n paar meter stroomaf van waar die Witrivier (uit Bainskloof) by die Breërivier aansluit. Al is die Breërivier soms droog, sê Plum dit is nie hier die geval nie. Albei soorte baars (swart- en kleinbek-) kom hier voor en jy kan ook ook ander vis soos bruinforel en die parmantige vleikurper probeer uittrek. Hy het selfs al ’n klompie lede van die nasionale hengelspan hier gehad wat kom lyn ingooi. Onthou net: Wat jy vang, moet weer terug water toe.

Die kampgedeel­te is ’n grasperk wat groot genoeg is vir tot drie woonwaens, met ’n geplaveide blok vir een wa. Jy kan die braaidrom nader dra vir die aand se braai en tot laatnag rondom die vuurput kuier. Plum verskaf die braaihout gratis. Die kragpunt is in die middel van die kampplek met die badkamers ’n entjie verder. Hier is twee toilette, ’n stort, wasbak en opwasplek, en die warm water kom van ’n gasgeiser.

Die “Batis” in die naam verwys na die Kaapse bosbontrok­kie; hier is hoeka ’n broeipaar van dié besonderse voëltjie naby die kampplek. Soggens kan jy die bekende roep van die visarend hoor, en moet ook nie verbaas wees as jy die groepie otters op die plaas raakloop nie.

Jy kan in die rivier swem, maar as jy eerder droog bo-op wil dryf, is hier twee kajakke wat jy mag gebruik – dis ook gratis.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa