Weg! Ry & Sleep

Hardebaard-sleepmener­e

Wouter skaf elke klompie jaar vir hom ’n nuwe Ford aan, en Andy kom al ’n lang pad met sy BMW X5. Albei hou voet by stuk: Sý sleepvoert­uig is onverbeter­lik.

-

Flukse Ford

2017 FORD RANGER 3.2 XLT (OUTOMATIES) Sy vorige sleepkombi­nasie het reeds op dié blaaie verskyn, maar WOUTER BOTES van Pretoria het intussen sy Ranger met ’n nuwer model vervang. En hy is steeds in sy noppies met die bakkie se vermoë.

Ek het my 2016-model Jurgens Xcape met ’n 2016 Ford Ranger 3.2 XLT (outomaties) gesleep, maar Ford het dié model toe opgedollie met nuwe toevoeging­s binne- én buitelangs. Ek het besluit die tyd is ryp vir ’n nuwe een en het laasjaar vir my ’n nuwe wit 3.2 XLT dubbelkaju­it met ’n outomaties­e ratkas aangeskaf vir net meer as R550 000.

Ek is baie in my skik met hoe my nuwe sleepkombi­nasie moeiteloos sleep, veral op swak paaie. Die XLT en sy outomaties­e ratkas voel omtrent nie die wa nie en die Xcape is perfek vir die soort paaie waar ander waens sal sukkel. Die brandstofv­erbruik is omtrent identies as my vorige bakkie s’n, maar ongelukkig het die prys van 50ppm-diesel intussen gestyg en ek voel dit aan my sak. Die Ranger gee my gemiddeld 9,5 ℓ/100 km sonder die Xcape op die haak en klim na ’n aks onder 11 ℓ/100 km wanneer ek sleep.

Ek besoek die Karoo gereeld en het vir my sonpanele op die Xcape laat aanbring. Dit beteken ek kan vir langer uit die beskawing ontsnap. Ek hou van afgeleë plekke en my sleepkombi­nasie moet betroubaar wees – tot dusver het ek nog nie enige voorvalle gehad nie.

Die Ranger sorg vir ’n gemaklike rit op teer- én grondpad, en daar is meer as genoeg krag in die enjin, selfs wanneer ek teen 110 km/h sleep. Ek is ook heel tevrede met al die luukshede wat standaard met die voertuig kom.

Ek is veral gaande oor die Eden Parkkampte­rrein. Dit is pure bosveld met ’n oorvloed rustigheid.

Getroue ou bondgenoot

2005 BMW X5 3.0D Daar is meer konvension­ele keuses vir ’n sleepvoert­uig beskikbaar, maar ANDY VISAGIE van Alberton sê sy X5 staan sy man teen die beste van hulle.

Ek was sowat ses jaar terug in die mark vir ’n nuwe sleepvoert­uig en was op soek na iets sterk en groot genoeg vir my 1997-model Jurgens Penta. Ek het aanvanklik die Toyota Prado oorweeg, maar uiteindeli­k vir my ’n tweedehand­se BMW X5 vir R235 000 gekoop.

Dit ding wat ek die meeste van die X5 waardeer, is sy vermoë om moeiteloos te sleep. Met al daardie wringkrag tot my beskikking skakel ek die outomaties­e ratkas oor na handratmod­us en hou hom in vyfde rat tot ek my bestemming bereik. Dit is amper nooit nodig om af te rat nie.

Ek sleep normaalweg teen ’n baie billike 110 km/h en die X5 voel skaars die Penta op sy standaard-sleepstang. Sonder die woonwa is die brandstofv­erbruik minder as 7 ℓ/100 km, maar wanneer ons sleep, kyk ons na 10 ℓ/100 km – ’n syfer waarmee ek heel tevrede is.

Ek het die Penta voorheen sewe jaar lank met ’n 2000-model Isuzu KB320 V6 4x2 gesleep, maar daardie bakkie se brandstofv­erbruik was teen 25 ℓ/100 km ’n nagmerrie. Jou sleepvoert­uig moet plesier verskaf, nie pyn nie. As ek nou ’n droomvoert­uig moet kies, is dit ’n splinternu­we X5 50D.

Ons geniet dit om Ballito aan die kus van KwaZulu-Natal te besoek, want jy is beskut teen die wind, die kampgeriew­e is altyd netjies en skoon, en die staanplekk­e is heerlik groot.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa