NEELS SE STOEPTENT
Graderings oor natuurreservate op ons vasteland sê nie veel as ’n mens nie die ervarings waarna mense op soek is in ag neem nie, sê Neels van Heerden.
Dit gons die laaste ruk oor die Krugerwildtuin wat sy status as een van die vasteland se toptien-reservate verloor het. Dit is glo op plekke te veel ontwikkel vir internasionale besoekers wat ’n “bosgevoel” wil hê wanneer hulle na Afrika reis.
Dit is gegrond op navorsing deur ’n maatskappy wat safaritoere aanbied, maar as jy my vra, is dit ’n kromgetrekte besigheid deur iemand wat ’n wesenlike belang het in die getal besoekers aan eksklusiewe reservate op ons vasteland.
Die twee beste safaribestemmings is glo die Serengeti en Mala Mala, gevolg deur die Manapoele in Zimbabwe en die Okavangodelta in Botswana. Die Suid-Luangwa-natuurreservaat lê vyfde op die lys, gevolg deur Moremi in Botswana, die Sabi Sand-natuurreservaat en Kenia se Masai Mara. Die laaste twee plekke op dié gesogte lys behoort aan die Ngorongorokrater en Selous in Tanzanië. Die Kruger, wat nog altyd onder die voorste tien reservate gelê het, moet vanjaar met die 14de plek tevrede wees.
’n Woordvoerder van die maatskappy wat die navorsing gedoen het, sê hy is verbaas oor die Kruger se posisie; volgens hom hoort dié wêreldbekende wildtuin altyd onder die voorste tien safaribestemmings. Maar kan ’n mens regtig die Kruger as ’n safaribestemming vergelyk met byvoorbeeld Mala Mala as jy kyk na die prys van verblyf?
HOEWEL DIE KRUGER volgens die einste woordvoerder steeds ’n fantastiese reservaat is, is veral die suidelike deel oorontwikkel. “Mense wil die bos hê,” kla hy. “Hulle soek ’n meer egte ervaring in Afrika. Al die voorste reservate is heelwat minder ontwikkel en skep ’n ware bosgevoel.”
Die navorsing is gedoen deur ’n meningspeiling onder 2 500 sogenaamde kundiges. Hulle moes net minder as 140 natuurreservate in agt Afrikalande evalueer, plekke wat safari’s aanbied.
Hoekom glo ek dis kromgetrekte navorsing? Geen melding word gemaak van wie hierdie kundiges is nie. Hoe het hulle al die reservate geëvalueer? Watter aspekte is gemeet wat betref die definisie van ’n safarireservaat? Moes hulle ’n inskrywingsvorm invul en dalk ’n navorsingstarief betaal? Hoe is die punte bereken?
Nee wat, hierdie klink vir my meer na ’n bemarkingsfoefie om besprekings by die duurder parke op te stoot. Ek verkwalik die kommersiële media wat hierdie resultate klakkeloos aanhaal asof dit die evangelie is. Hulle behoort van beter te weet.
’N BAIE GOEIE huisvriend wat in Tanzanië woon, sê hoewel hy die sakie nie wetenskaplik nagevors het nie, was hy wel, met die uitsondering van Ruaha en Katavi, die laaste klompie jare in elke nasionale park in Tanzanië. Hy is ook welbekend met die Kruger. Hy is iemand wat kamp bo vyfsterverblyf verkies en geniet dit om ’n ryhuis te huur wanneer hy die wildtuin besoek.
Hy reken hierdie gradering sê nie veel as ’n mens nie die ervarings in ag neem waarna mense op soek is nie. Hy hou daarvan om self rond te ry op soek na wild, om saans sy eie kampvuurtjie te pak en om aan die einde van die vakansie nog sy voertuig se skokbrekers en onderstel in een stuk te hê. Dié klas van dinge is nie regtig moontlik in die Serengeti nie. Daar is niks te vinde van kameraadskap en die uitruil van staaltjies aan die einde van die elke dag nie. Dit is eintlik ’n plek wat ’n mens net een keer in jou lewe besoek, sê my vriend.
Ek gee toe, hierdie ranglys is dalk vir buitelandse besoekers van waarde, maar dit meet nie die dinge wat aan mense soos ek en my vriend vreugde verskaf nie.
Ek verkwalik die kommersiële media wat hierdie resultate klakkeloos aanhaal asof dit die evangelie is. Hulle behoort van beter te weet.