RY-INDRUK
Volvo se kleinste sportnuts is nie net mooi nie; hy voel ewe tuis in ’n luukse hotel se parkeerterrein as in die Kgalagadi, sê Cyril Klopper.
Onlangs het ons die bekendstelling van die Volvo XC40 bygewoon en reeds in Weg Ry & Sleep #11 ons eerste indrukke met jou gedeel. Maar nadat Volvo ’n toetsmodel by ons kantoor afgelewer het, kon ons hom deeglik op die proef stel – op die strande van die Weskus en in die Boland se moddergate.
Ja, ons het die Volvo op plekke getoets waar die gemiddelde XC40-eienaar waarskynlik nooit gaan ry nie. Net om te kyk of hy darem kán.
Só ry hy op grond
Ons toetsmotor is toegerus met 19”-Pirelli-P-Zero-bande waarvan die profiel nie té laag is nie, maar dis allesbehalwe veldrybande en ons kon dus nie die banddruk noemenswaardig verlaag nie. Dié bande se treeoppervlak is ook meer bedoel vir teer as grond.
Die XC40 het ons nietemin beïndruk. Dié motor is lig genoeg (1 698 kg) om maklik oor los sand te skaats, en as jy die elektroniese veldrymodus-knoppie op die raakskerm druk, verander die enjin se kragkurwe sodat die wiele nie uitermate tol en ingrawe nie. Trouens, deur misterieuse elektroniese toordery voel die XC40 se veldrymodus amper soos meganiese laestrekratte.
Die veldrymodus werk ook uitstekend in modder. Ons het verwag die laeprofielbande gaan nie hond haaraf maak met die glibberige toestande nie, maar die allewielaandrywing het presies geweet wanneer en waarheen die krag tussen die wiele verdeel moes word. Die Sweedse XC40 is uiteraard vir sneeu- en ystoestande ontwerp en daarom is modder nie té veel van ’n uitdaging vir hom nie.
Die XC40 se nader- en vertrekhoek is danksy stomp voor- en agterbuffers wat nie ver verby die wiele uitsteek nie, uitstekend – onderskeidelik 21,7° en 30,4°. Die grondvryhoogte (211 mm) is ook gaaf, maar die vlak oorbrughoek veroorsaak dat sy pens op die grond skuur as jy oor kort, steil hobbels wil ry.
Kunsmatige intelligensie
Ons het die XC40 se Pilot Assistprogrammatuur in spitsverkeer