ORANJEMUND
Noudat Oranjemund nie meer permitte vir besoekers vereis nie, is dié dorp ’n fantastiese poort tot Namibië. En daar is boonop duine waarin jy kan speel.
Die tradisionele roete na die suide van Namibië vanuit die Kaap is met die N7 langs, deur Springbok in die Noord-Kaap reguit tot by die Vioolsdrif-grenspos. Anderkant die grens is die B1 jou vinnigste roete tot by Keetmanshoop, Mariental en uiteindelik Windhoek.
Jy kan ook in ’n japtrap gewilde bestemmings soos Ai-Ais en die Visriviercanyon van dié hoofpad af bereik, maar wat van die gebied wes van die C13-pad anderkant die Visrivier? Wat is daar te sien? As jy hierdie deel wil besoek, gaan dit jou immers ekstra rytyd kos en jy sal iewers moet oorslaap. Vir die deursnee-reisiger op vakansie was dit voorheen ’n kopseer, want jou keuses is Rosh Pinah óf Oranjemund, wat vanweë die Sperrgebiet besoekerspermitte vir buitemense vereis het.
Twee onlangse ontwikkelings maak die suidwestelike hoekie van Nambië nou veel aanlokliker: ’n nuwe teerpad van Rosh Pinah af tot by Aus, en die feit dat Oranjemund nou oop is vir besoekers. Wat meer is, daar is ’n nuwe 4x4-bestemming in die vorm van ’n duineveld buite die dorp. En aangesien jy die bekendste diamantdorp in die land gaan besoek, wat van ’n draai deur ’n paar van die Diamantkus se ander dorpies suid van die grens? >
Kuslangs grens toe
Pleks daarvan om Vioolsdrif toe te mik spring uit Springbok eerder met die R355 weg en ry 100 km weswaarts in die rigting van Kleinzee. Sowat 5 km voor jy dié diamantdorpie bereik, draai jy af op die grondpad na Port Nolloth en skiet noordwaarts met die see aan jou linkerkant. Dit is die moeite werd om ’n draai te maak op Kleinzee voor jy verder reis, al is dit net om ’n voorsmaak te kry van hoe die lewe in hierdie stukkie kuslyn is. As jy ’n ekstra halwe dag tyd het, kan jy die 37 km lange Skeepswrak-4x4-toer teen die kus tussen Koingnaas en Kleinzee saam met ’n gids gaan ry én ’n draai maak by die wrakke van die Arosa, Piratiny en Border. Bespreek minstens drie dae vooruit deur Rodville Adams by 076 642 0868 te bel.
As jy nie te veel gejaag het nie, behoort jy skuins voor middagete op Port Nolloth aan te kom, net betyds vir ’n heerlike bord seekos voor jy verder ry. Maar daar is nog iets op die dorp wat jy nie moet misloop nie, en dit is ’n besoek aan die museum. Hier kry jy ’n behoorlike insig in die diamantbedryf en die lewe van die delwers en duikers wat die blink klippies uitgehaal het. Maak seker jy knoop ’n geselsie aan met George Moyses, ’n bona fidediamantduiker wat jou die een interessante storie ná die ander oor die dorp en sy mense kan vertel.
Van Port Nolloth af is dit 84 km met die R382 tot op Alexanderbaai. Teen dié tyd kan jy Namibië al anderkant die Oranjerivier sien, maar voor jy die grens oorsteek, gaan maak ’n draai by die riviermonding. Dis nie aldag dat jy op die héél noordelikste punt van die Weskus – reg in die hoekie van die land – kan staan nie.
As jy nie te veel gejaag het nie, behoort jy skuins voor middagete op Port Nolloth aan te kom, net betyds vir ’n heerlike bord seekos voor jy verder ry.
’n Oase in die woestyn
Die grenspos tussen Alexanderbaai en Oranjemund is só klein en stil dat jy dit eintlik ’n geheim wil hou. Nadat jy jou paspoortstempel aan die Suid-Afrikaanse kant van die grens gekry het, ry jy oor die rivier met die Ernest Oppenheimer-brug en kry jou Namibiese stempel aan die oorkant. Anderkant die grenspos vat jy die eerste links-afdraai en ry deur die hekke waar jy vroeër jare ’n besoekerspermit sou nodig hê om Oranjemund te besoek. Van hier af is dit 6 km tot op die dorp.
Voor jy die dorp binnery, sal jy padtekens sien wat waarsku jy moet jou oë oophou vir gemsbokke, en dalk sien jy ook ’n paar van hierdie Namibiese ikone
langs die pad. Wat ’n mens nié verwag nie, is dat dié diere ook ewe gemaklik en kommerloos in die dorp se strate rondwandel. ’n Mens kan hulle nie eintlik kwalik neem nie, want Oranjemund is ’n oase in die woestyn. ’n Mens merk dadelik op hoe welig groen die dorp se plantegroei is en hoe baie groot koeltebome op die sypaadjies staan, iets wat jy nie aldag in Namibiese dorpies sien nie. Dit is natuurlik omdat die rivier so naby is én danksy die dorpsbestuur van die mynmaatskappy Namdeb. Jy kan maklik ’n paar dae in die dorp deurbring en na die inwoners se stories luister oor die lewe in ’n plek wat dekades lank op sy eie trant ontwikkel het. Hier is onder meer ’n lieflike openbare swembad, ’n kleiduifskietklub en ’n spog-gholfbaan. Maar daar is nog iets waarvoor ’n 4x4-entoesias dankbaar kan wees noudat die dorp se deure vir die buitewêreld oop is: Jy kan nou ’n draai gaan ry in ’n strook duine heel aan die onderste puntjie van die Namibwoestyn.
“Hierdie is steeds ’n konsessiegebied waarvoor jy toestemming nodig het om dit te besoek,” verduidelik Fanie Smit, een van die operateurs wat daguitstappies in die duine sowat 6 km buite die dorp aanbied. Die Oranjemund Off Road-klub is die organisasie wat toestemming het om in ’n sekere deel van die duine begeleide uitstappies aan te bied. “En ou maat, in hierdie duine moet jy jou storie ken,” sê hy. “As die sand sag is, moet jy jou hare vashou, want hy gaan vir jou rondgooi.”
Dié duinegebied is ’n kleiner weergawe van wat jy verder noord in die Namib sal aantref – dus ’n puik oefenplek vir die amateur én ’n lekker speelplek vir ervare bestuurders. Dis ’n mengsel van steil opdraandes, fyn draaitjies om bedrieglike gaatjies en selfs ’n handjie vol slip faces om jou adrenalien aan te jaag. Tussenin is daar ’n paar mooi uitsigte oor die woestyn, die rivier en Oranjemund. Jy kan selfs reël dat jy agterna tussen die duine braai. Daar is immers nie ’n mooier plek vir ’n skemerkelkie as bo-op ’n duin nie. >
Ann en Kallie van den Berg van Milnerton gaan eers ’n draai in Etosha maak voor hulle huiswaarts keer. Hulle het by die Oranjemund Riding Club gekamp. Ons het heerlik gekamp. Dis veilig en skoon met ordentlike storte, wat veral lekker is as jy van die Kaap af kom waar stort eintlik ’n luukse is.
Met riviere langs noorde toe
Eendag sal die kuspad tussen Oranjemund en Lüderitz dalk oopgemaak word, maar tot tyd en wyl moet jy 92 km noordoos langs die Oranjerivier se kronkels binneland toe ry voor jy jou reis verder noordwaarts kan voortsit. By die aansluiting met die C13, deesdae ’n netjiese teerpad, kan jy noord draai en oor Rosh Pinah tot op Aus ry. Hier kom jy weer by ’n kruispad: wes lê Lüderitz, noorde toe is Sesriem en as jy oos mik, neem die pad jou Keetmans toe. Dis soos ’n spyskaart van Namibiese vakansies.
As jy egter die C13 noordwaarts ignoreer en langs die Oranjerivier aanhou, neem die pad jou verby die Sendelingsdrif-grenspos en suidooswaarts deur die Namibiese deel van die Ai-Ais-Richtersveld-oorgrenspark. Stadig maar seker begin die landskap rondom jou hoër raak... en kort voor lank word die pad omring deur die ikoniese pastelkleurige klipberge van die Richtersveld. Plek-plek loop die grondpad só digby die Oranjerivier dat jy dalk ’n reuse-visvanger bo die water sal sien sweef as jy mooi kyk. Óf jy hoor dalk die roep van ’n visarend deur jou ruite.
Sowat 43 km van Sendelingsdrif af steek jy die Visrivier oor, en 32 km anderkant die rivier bereik jy die Aussenkehrhek van die park. Jy kan aanhou met die pad en 8 km verder links draai op die C37 wat Ai-Ais toe loop, maar daar is ’n kortpad wat beslis die moeite werd is. Wees op die uitkyk vir ’n afdraai na links sowat 500 m ná die Aussenkehr-hek; dié paadjie volg die droë loop van die Gamchabrivier vir 12 km voor dit ook by die C37 aansluit.
Die plat loop van die rivier word alkante deur dramatiese hoë klipkranse begelei – só hoog dat jy jou nek by die ruit moet uitknak as jy die bopunt wil sien. Dit is een van hoeveel plekke in Namibië waar die landskap jou menslike nietigheid beklemtoon. Dis ook ’n lekker plek vir ’n piekniekstop – soek ’n skadukol onder een van die kranse.
Afrika se grootste canyon
Ai-Ais is al baie jare ’n gewilde vakansiebestemming vir Suid-Afrikaners, veral danksy die ligging op die oewer van die Visrivier. Hier is ook ’n warmwaterbron, ’n groot buiteswembad en hope spasie waar die kleinspan kan baljaar. >
Plek-plek loop die grondpad só digby die Oranjerivier dat jy dalk ’n reuse-visvanger bo die water sal sien sweef as jy mooi kyk.
Hou dít in gedagte as jy beplan om in ’n skoolvakansie hierheen te reis.
Ai-Ais is ook die eindpunt van die bekende Visriviercanyon-staproete, en wanneer jy hier kamp, is die kans goed dat jy ’n paar natgeswete, stofbedekte stappers uit die kloof sal sien kom. (Soos Annami Mailovich – lees haar storie op bl. 136. – Red.) Die roete van 85 km neem stappers vyf dae om te voltooi, maar as jy vroeg genoeg van Ai-Ais af in jou voertuig wegspring, kan jy teen sonop by die roete se beginpunt, Hobas, wees.
Hobas is die uitkykpunt oor die mees dramatiese deel van die canyon, en as jy hier staan, is dit asof jy voor jou geestesoog die cowboys uit ou Western-flieks onderin die vallei kan sien. En as jy sien hoe die dag se eerste lig die kranse stadig maar seker verkleur, kan jy Afrika se grootste canyon van jou emmerskoplysie afmerk.
Van Hobas af moet jy besluit hoeveel vakansie jy oor het, want die pad na Namibië se noorde is nog lank en propvol juweelbestemmings. Maar as jy huis toe moet mik, is dit ten minste met die wete dat jou bakkie ’n paar nuwe sandkorrels uit ’n weggesteekte dorpie in die hoekie van die land onder sy wiele gehad het.
As jy sien hoe die dag se eerste lig die kranse stadig maar seker verkleur, kan jy Afrika se grootste canyon van jou emmerskoplysie afmerk.