STRANDSKLOOFPARK
By Strandskloofpark raak die kinders skoon uit hulle vel wanneer hulle op die heldergroen grasperke en in kristalhelder swembaddens baljaar.
Agri-toerisme is ’n heel nuwe ding, maar die eertydse boere Tot en Isabel Fourie het besluit om hulle bees- en blomboerdery opsy te skuif en op hulle lappie grond langs die Walvisroete eerder op suiwer toerisme te fokus.
By Strandskloofpark se hoofhek en ontvangskantoor word jy vriendelik deur Anjé Badenhorst ontvang. Sy oorhandig ’n kaart van die oord wat jou staanplek aandui. Jy kry ook ’n elektroniese skyfie waarmee jy die hoofhek oopmaak as jy die oord wil verlaat om gou dorp toe te ry.
As dit jou eerste besoek is, sal Anjé beduie waar die swembaddens, ablusiegeriewe en speelplek vir die kinders is. Jy kan ook ’n blou woonwatipe kragsok by haar huur.
Só kamp ’n mens
Wanneer jy deur die hek ry, word jy begroet deur ’n 400m lange teerpad deur ’n netjiese tuin. Aan die regterkant is daar perdekampies en links is ’n beboste deel waar troues in ’n skoongemaakte deel onder die bome gehou word.
Staanplek nr. A, B, C en D is in dieselfde bos. Hulle is die rustigste van al die staanplekke in die oord omdat hulle die verste van die kinderspeelplek is. Hoewel jy by hierdie staanplekke die meeste privaatheid het, is hulle ook die verste van die ablusiegeriewe af, tensy jy die onthaalsaal se toilette gebruik. Die onthaalsaal is oorkant die pad, voor jy die hoofkampplek binnery. Indien jy reg oor dié saal kamp en ’n draai wil loop, moet jy seker maak daar’s nie ’n troue of 50ste verjaardag aan die gang
nie, want dan gaan jy in jou kortbroek en plakkies verby die deftiggeklede gaste toilette toe moet stap.
Die volgende staanplek is nr. 1, die grootste staanplek in die kampterrein. Dié word omring deur ’n hoë klipmuur wat die wind afkeer. Die staanplek is ruim genoeg vir vier tente én motors, en as jy staanplek nr. 2 (wat amper so groot is as nr. 1) saam bespreek, het jy kampplek vir ’n rugbyspan.
Die teerpad vorm ’n U, en die staanplekke lê aan weerskante daarvan. Elke staanplek het óf ’n klipmuur óf ’n houtheining wat jou en jou buurman van mekaar skei. Staanplek nr. 51-62 staan met hulle rug teen ’n bos en het uitstekende beskerming teen die wind en middagson. Staanplek nr. 14, 15 en 16 is dalk klein, maar hulle is só privaat dat jy dikwels nie eens bewus is daarvan dat daar mense kamp nie. Nr. 28 is die meeste beskut van al die kampplekke en is die een vir jou as jy koelte hoog op prys stel.
Staanplek nr. E, F en G is direk langs die kinders se speelplek. Tensy jy self kinders het en ’n wakende oog oor hulle wil hou, moet jy hierdie staanplekke soos die pes vermy.
Al Strandskloofpark se staanplekke het elektrisiteit, water en braaigeriewe, en amper almal het ’n dik grastapyt (tensy dit só boomryk is dat die gras sukkel om in die skaduwee te groei). Elke staanplek het ook sy eie vullisdrom én daar is straatligte by gemeenskaplike dele soos die ablusieblokke en kinderspeelplekke.
Die hoofkampplek het twee ablusie- >
blokke. Die grootste een lê tussen staanplek nr. 22 en 23, en ’n kleiner een tussen nr. 30 en 31. Albei is ruim, skoon en netjies, en voorsiening word gemaak vir gestremdes. Agter die grootste van die twee ablusieblokke is daar wasmasjiene, wasbakke en wasgoedlyne.
Gô-uit op die gras
Die grootste attraksie by Strandskloofpark is die aktiwiteite vir kinders. Hier is ’n grasperk so groot soos twee of drie rugbyvelde waarop hulle van vroegoggend tot laatnag rondhardloop. Dan is dit touchies, dan aan-aan, dán frisbee of sokker. Tieners drom in groepies saam en sit kruisbeen en gesels oor koeitjies en kalfies. In Desember en oor langnaweke is daar al om die ander dag begeleide perderitte.
In die een hoek van die enorme grasperk is twee omheinde swembaddens: ’n grote waarin ousus lengtes kan oefen, en ’n kleintjie met vlak water waarin die kleuters kan baljaar. Die water is nie verhit nie en is in die somervakansies ’n welkome lafenis.
In die oorkantse hoek van die grasperk is ’n kiosk wat beman word deur Gustav Holtz (nee, nie Holst, soos die komponis nie!). Gustav verkoop basiese proviand en lekkergoed én verhuur stokke vir die minigholfbaan. Langs die kiosk is ’n klimraam met swaaie en ’n glyplank asook ’n springkasteel wat soggens aangeskakel word. Jy kan ook braaihout by Gustav bestel en dan reël hy dat Tot en Isabel se jongste seun, Johan, dit met ’n trekker en sleepwa by jou staanplek aflewer.
Maar die onbetwiste hoogtepunt van Strandskloofpark is die treintjie. Tot en Isabel se oudste seun, Luan, bring laatmiddag sy quadfiets na die grasperk. Agteraan haak hy agt waentjies en die jong klomp raak gek van opgewondenheid wanneer die treintjie sy verskyning maak. Dit kos R10 per kind per rit en die ritte duur sowat 15 minute. Die treintjie vleg deur die oord sodat elke passasier sy kampplek kan sien en vir Mamma en Pappa in die verbyry waai.
Ook na die behoeftes van grootmense word omgesien. Wanneer belangrike sportwedstryde op die kassie uitgesaai word, is die onthaalsaal oop en kan jy ’n drankie bestel by die kroeg (Luan is jou kroegman).
’n Kort entjie van die saal af is ’n warmwaterswembad langs ’n gemeenskaplike braaiplek, ’n gewilde bymekaarkomplek vir grootmense én kinders. Die water is dag en nag warm – die ou wat vanaand laaste uitklim, moet die seiltjie toetrek sodat die swembad nie onnodig hitte verloor nie.
Strandskloofpark het ook sy eie 4x4roete – vind by Anjé uit of jy dit mag ry. >
Die treintjie vleg deur die oord sodat elke passasier sy kampplek kan sien en vir Mamma en Pappa in die verbyry waai.
Dit is gewoonlik gratis vir gaste, maar daar word soms 4x4-klub-byeenkomste aangebied, en dan moet jy inskrywingsgeld betaal as jy wil deelneem.
Silwerkruin
As ’n pensioentrekker is jy uiteraard lief vir jou kleinkinders, maar jy’t nie aldag lus vir die jong klomp van vreemdelinge nie. Met ’n begrip vir die ouer garde se unieke behoeftes het Tot en Isabel ’n paar staanplekke ’n entjie weg van die hoofkampplek af, duskant ’n boomlaning, afgebaken. Hier kan afgetredenes vir R2 000 per maand uitspan, weg van die lawaai, met hulle eie ablusieblok.
Dié staanplekke is nog nie so boomryk en bedek met grasperke as die hoofkampplek nie, want dis eers taamlik onlangs uitgelê en die plante moet nog behoorlik gevestig raak. Maar hier heers ’n dieper soort vriendskap wat verskil van die vlugtige samesyn in die hoofkampplek.
’n Paar van die staanplekke het betonblaaie vir woonwaens en die ablusiegeriewe het ’n spesiale drein waarin jy ’n kassettoilet kan leegmaak. Tot is ook besig om twee selfsorghuisies te laat bou – wat die lewe vir afgetredenes net nóg makliker gaan maak.