Weg! Ry & Sleep

REDAKTEURS­BRIEF

- schalk.jonker@media24.com REDAKTEUR

Dis September, en as my laerskool-aardryksku­nde my nie in die steek laat nie, is dit amptelik die begin van die lente. Wat beteken die winter is verby. Wat óók beteken ’n mens kan weer met mening begin aandag gee aan jou reis- en kampplanne.

Ek is juis die laaste ruk besig om ons gesinsvaka­nsies vir die afsienbare toekoms te beplan en my kop staan noord, Namibië en/of Botswana se kant toe. En nadat ek Evan se storie op bl. 50 gelees het, was ek vas oortuig ons gaan sy roete volg en Oranjemund vir die eerste keer besoek en die wêreld in die Sperrgebie­t verken.

Maar toe beland Mike en Lettie Henery se storie op my lessenaar oor hoe hulle tot by die Guma-strandmeer in die noorde van Botswana gesleep het (bl. 74). Ek was nog nooit daar nie, maar dit lyk ongetwyfel­d na ’n bestemming waar ’n mens móét uitkom voor jy lepel in die dak steek. My mond water hoeka al lankal vir ’n ordentlike Botswana-avontuur, maar hopelik is die paaie ons meer genadig as met Mike en Lettie.

Dus sal ons dalk met die opry Oranjemund aandoen, dan al die pad tot by Etosha gaan, regs draai en deur die Zambesistr­eek kuier en weer af verby Guma ry op pad terug. Ek dink dis ’n plan wat kan werk. As jy dus vir my raad het oor plekke waar ons kan inloer as ons só ry, laat weet asseblief.

September is ook Braaimaand en ek herinner jou graag aan ons resepteboe­k, Gooi kole, wat nou op die rak is. Ons het ’n keur saamgestel van meer as 100 resepte wat oor die jare in dié tydskrif en ons voorganger­titels gepublisee­r is deur ons kosfundi’s. En jou opsies is nie net beperk tot tjops, wors en aartappels­laai nie. Nie dat daar iets fout is daarmee nie.

Ons het vir jou alles van brood en bykosse tot hoender, skaap, bief, seekos, wildsvleis en soetgoed bymekaarge­gooi in een lekkerlees-resepteboe­k. Hou hom in jou wa of veldryer en verras jou mense met hierdie geurige geregte.

In die tussentyd kan jy sommer op bl. 92 gaan kyk na die smaaklike bykosse wat Aletta vandeesmaa­nd vir jou aanmekaarg­eslaan het.

Veilige reis!

Daar is niks soos ’n 15 kg-rugsak en ’n skadulose woestyn om jou nederig te hou nie.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa