NUWE RYGOED
Sportnutse was tot onlangs toe nog nisprodukte wat gewild is onder “sekere soorte” mense. Deesdae is sportnutse egter die norm – en die Toyota Rush is deel daarvan.
Die Toyota Fortuner is ’n fenomeen. Hy’s nie ’n ryk- óf armmanskar nie, maar ’n mens voel tuis in hom ongeag die stand van jou bankbalans. Mense gebruik ’n Fortuner as ’n vakansievoertuig (en sit honderdduisende kilometers op die klok) én as ’n stadsmotor wat weinig grondpad sien. Maar hy’t te duur geraak vir jong mense en pensioentrekkers wat hulle sente moet omdraai. Én daar is ’n toenemende aantal mense wat besef hulle gaan waarskynlik nooit ’n Fortuner se 4x4-modus óf al sewe sitplekke gebruik nie. Vir hulle is daar nou ’n eenvoudiger weergawe van die Fortuner: Die Toyota Rush.
Wat het ons hier?
Die Rush is basies ’n Daihatsu Terios (wat nie in Suid-Afrika verkoop word nie) met Toyota-kentekens. Maar op sy beurt is die Daihatsu Terios gegrond op die Toyota Avanza, wat wel hier by ons verkoop word en ’n gewilde ryding is.
Ondanks die ooreenkomste gaan die Rush nié die Avanza in SuidAfrika vervang nie en jy gaan albei modelle in ’n Toyota-handelaar raakloop. Die grootste verskille tussen die Rush en die Avanza is die Rush se groter laairuimte (609 ℓ teenoor die Avanza se 128 ℓ). Toyota het besluit om die sesde en sewende sitplekkies te verwyder sodat die Rush met aansienlik meer pakplek kan spog. Daar is steeds naklanke van die Avanza se derde bankie, soos die agterste armleunings en bekerhouers wat nou geen baas het nie. Die bagasieruim het ongelukkig ook nie ’n seiltjie wat jy kan toetrek om jou bagasie teen dwalende oë en lang vingers weg te steek nie.
Binnelangs lyk die Rush heel spoggerig. Daar is ’n lekker groot raakskerm in die middelkonsole. Hier kry jy ’n mediasentrum wat
radio, CD’s en MP3-liedjies speel, satellietnavigasie en ’n funksie wat gewilde apps op jou slimfoon sal weerspieël.
Die materiale kan dalk nie as luuks beskryf word nie, maar dis maklik om skoon te maak. Die instrumentepaneel skrik nie vir Kalaharistof nie en jy kan die materiaalsitplekke met ’n nat lappie afvee as sussie se roomys daarop val.
Hoe ry hy?
Die handratkas se eerste ratverhouding is kort – hy’s lekker sterk as jy met ’n swaar wa teen ’n bult moet wegtrek – maar dit beteken ook dat jy amper onmiddellik moet oorskakel na tweede rat. Die 1,5 ℓ-petrolenjin lewer slegs 77 kW, maar werkverrigting voel danksy die kort ratgange nietemin goed. Teen 120 km/h (en 4 000 r.p.m.) klink dit of die Rush se gô uitraak as jy hoor hoe hard die enjin werk om spoed te handhaaf. Daar is egter nog heelwat oemf oor, en ’n topspoed van 165 km/h is haalbaar. ’n Sesde rat sou wel gaaf gewees het, al was dit net om die enjin se geteem teen 4 000 r.p.m. stop te sit.
Die Rush maak staat op agterwielaandrywing, wat beslis nie ideaal is vir grondpaaie en nat weerstoestande nie, maar dis eenvoudig en betroubaar. En dis juis wat jy soek in hierdie soort ryding.
Slotsom
Die Rush gaan soos soetkoek verkoop, daarvan is ons seker. Is Toyota besig om moontlike kopers by die RAV4 af te rokkel? Ons dink nie so nie; dis eerder die Corolla wat dit gaan ontgeld, want wie wil gebind word deur ’n gewone sedanmotor as jy ’n sportnuts kan aanskaf vir dieselfde geld?