WOONWATOETS
As jy met ’n Conqueror Commander gaan kamp, is jou enigste bekommernis jou eindbestemming. Want met dié wa op die haak kan jy tot in Kosibaai, die Okavangodelta en selfs die wye vlaktes van die Serengeti rinkink.
Daar is ’n handjie vol tydlose uitvindsels wat vandag nog lyk en werk soos toe hulle die eerste keer die lig gesien het. Goed soos doringdraad (wat die Amerikaner Joseph F. Glidden in 1874 gepatenteer het), die skuifspeld (wat in 1849 deur Walter Hunt van New York uitgevind is) en die vlieëplak, wat in 1905 noodgedwonge ontwerp is toe die Amerikaanse staat Kansas onder ’n ongekende vlieëplaag deurgeloop het.
As dit by boswoonwaens kom, kan jy dieselfde sê van die Commander wat vandag, 15 jaar ná die die eerste model, steeds geskoei is op die oorspronklike bloudruk. En dít beteken net een ding: dis ’n weldeurdagte woonwa wat ordentlik ontwerp is vir kampeerders wat ’n wa met hulle veldryer wil sleep tot waar dié nie meer kan nie.
Ons het die Commander gehaak en by die onderpunt van die Krugerwildtuin ingery. Ons het deur die wildtuin getoer en is heel bo by die hekke van Pafuri uit.
In Shingwedzi het die moeder van alle donderstorms ons getref, en terwyl die storm heelwat van die mopaniebome se takke rondom ons afgebreek het, het die Commander onverstoord bly staan... gereed vir ’n hele paar kampseisoene wat voorlê.
Alkant eenders
Die Commander se twee deure sit regoor mekaar in die sypanele, voor die wiele. Die “hoofdeur” is links aan die buitekombuiskant waar die ander een in die storttent oopmaak.
Conqueror gebruik etlike jare al unieke hoekstutte wat verskil van die domkragsoort wat ’n mens by die meeste ander vervaardigers sien. Hierdie is ’n hoekstut in die ware sin van die woord, want hy stut die wa op die agterste hoeke. Weggebêre vou dit op teen die agterpaneel van die wa. Vir die uitslaanslag vou ’n arm oop net soos ’n mens jou opgetrekte arm reguit maak. Aan die onderpunt is ’n voet wat dan teen die grond vastrap. Van die voet af vou ’n volgende arm terug boontoe wat die helfte van die lengte van die groter arm is. Hierdie arm staan dus op in die rigting van die bakwerk, en ’n laaste arm vou dan uit dié een uit tot teen die bakwerk. Hierdie arm se punt pas teen die romp in verskillende gaatjies afhangend van hoe ver die voet af grond toe geswaai het. Die laaste arm sluit net soos jou elmboog wanneer jy dit in die middel druk en dan die wa stut. Hoe vinnig jy sonder enige gereedskap die stut platslaan, is deel van die wonder, en dieselfde geld vir die terugslaan.
Die wa het twee beddens waarvan die een regs van die deur die romp vol strek en die ander oor die neuskas oopslaan. Om die een oor die neuskas oop te slaan moet jy eers die boseil se sak wat by die dak sit, ooprits, anders gaan jy nie ná die tyd kan bykom nie. Hiervoor moet jy op die neuskas klim. Die hele voorste gedeelte van die romp slaan plat oor die A-raam van waar U-rame opslaan om die seil oor die bed te span. Die boseil span op sy beurt met vier veerbelaaide latte oor die bedtent. >
’n Trap vir elke wa
Vanweë die aard van ’n boswoonwa staan die romp hoog bo die grond. Dit beteken dus ’n ongemaklike hoogte om met een tree in die wa te klim. ’n Gemonteerde trappie vou uit die wa, wat die inklimslag vergemaklik. Teenoor die aanvanklike drumpelhoogte (545 mm) hoef jy nou jou voet net halfpad (285 mm) te lig vir die eerste trap. Die trap het ook ’n strop aan die kant wat jy trek as jy binne staan om dit op te slaan, sodat jy die deur kan toemaak voor jy inkruip. Dié soort trap hoort op elke wa omdat dit so prakties is. Terloops, ’n gaasdeur met sy eie ritssluiter pas in die deuropening as jy dalk met ’n oop deur wil slaap sonder dat goggas jou wegdra.
Die dak lig aan die deur se kant met ’n skarnier aan die agterkant en het ’n vloer-totnokhoogte van 2,23 m op sy hoogste punt.
Die bokant van die oopslaanbed se matras is 80 cm bo die vloer en ’n mens moet deur ’n opening van 61 cm klim om jou lê op die bed te kry. Die nok van die tent bo die bed is wel hoog genoeg sodat jy regop op die matras kan sit. Dié deurklimmery klink dalk ongemaklik, maar as jy jou sit op die matras se kantgedeelte kry en terugleun, kan jy jou sonder sukkel gemaklik maak op die bed. Ouer en groter mense gaan dalk nie so baie daarvan hou nie, maar vir die kroos is dit heerlik.
Diékantse bed het wel nie ’n gemonteerde lig nie (die naaste een sit bo die deur), en omdat dit ’n uitslaanbed is, is hier ook nie klererakke nie.
Die kant van die oopslaanbed, waar ’n mens jou sit kry voor jy terugleun om in te kruip, is die stoorplek vir die los opslaantafel (62 x 185 cm). Hy staan op sy kant en ’n mens swaai ’n knip digby die deur weg om die tafel by die deur uit te gly.
Die gedeelte na agter in die wa is een groot gesinsbed en tot drie mense kan lag-lag hier inpas. Dit strek van kant tot kant. Die middelste gedeelte kan opslaan om ’n 50 cm breë gangetjie van voor tot agter tussen die twee kante te maak. Dit gee twee enkelbeddens met ’n skuifvenster langs die linkerkantse bed.
’n Smal tafel (103 x 53 cm) slaan op in die gangetjie as jy in die wa wil aansit vir ete. Die tafelblad is groot genoeg vir tot vier mense, maar beter vir twee.
Al die kaste rondom die agterste bed is een groot bederf.
Hier is nie minder nie as 15 van hulle in verskeie groottes, en buiten vir die een of twee oop rakke het die res ’n seildeurtjie voor wat kan toerits.
By die agterste kas (by die koppenent) is ’n lig, en die twee seildeure van die regterkantse kaste vorm die agterkant van die buitenste kruidenierswarerak.
Dis dus net die plek in die wa waar jy gisteraand se oorskietworsies as laataandpeuselhappie kan bêre.