Weg! Ry & Sleep

Doendinge in die omgewing

-

Platbos- inheemse woud

Platbos is deur die botanis prof. Eugene Moll beskryf as “’n unieke Suid-Afrikaanse woudjuweel”. Die woud lê aan die voet van die Baviaanspo­ortheuwels, sowat 5 km noord van Strandsklo­ofpark. Die wêreld hier rond word gekenmerk deur fynbos en canolaland­e. Die natuurlike woud is dus ’n onverwagse onreëlmati­gheid.

Los jou ryding in die parkeerter­rein (S33.63861 E19.19646), los ’n skenking by die besoekersh­ut, neem ’n roetekaart en vaar die bosse in. Daar is ’n netwerk van staproetes deur die woud, en as jy die tyd het, kan jy ure verwyl in die skadu van oeroue witmelkhou­t- en wildepersk­ebome.

Ontmoet ’n haai

By Kleinbaai, 12 km suidwes van Strandsklo­ofpark, is tientalle witdoodsha­aitoeroper­ateurs wat jou per boot na Dyereiland sal neem en met ’n staalhok in die water laat sak sodat jy tot by die haaie kan gaan kuier. Op Dyereiland leef nagenoeg 50 000 robbe – dít is natuurlik hoekom die waters so krioel van die haaie.

’n Haai verkies om sy prooi naby die wateropper­vlak te vang; jy hoef dus nie in die hok te klim as jy skrikkerig is nie. Maar as jou bynaam Dapper Danie is, kan jy in grillerige detail sien hoe ’n haai ’n rob opvreet.

Strandveld-museum

Hierdie oulike – en ietwat vreemde – museum lê teenaan die see in Franskraal, sowat 7 km van Strandsklo­ofpark af. Dit is ’n private museum wat deur die egpaar Jan en S.D. Fourie besit word. Hier is ’n uitgebreid­e versamelin­g oorblyfsel­s van die HMS Birkenhead wat in 1852 by die nabygeleë Danger Point op die rotse geloop het.

Jan en S.D. sal boeiende stories met jou deel – van Dalene Matthee se laaste dae voor haar dood – terwyl sy aan Die uitgespoel­des geskryf het – tot “die spookhandj­ie” wat Jan met oorgawe aan kinders vertel totdat hulle hulle ore toedruk en agter Ma se rok wegkruip.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa