Weg! Ry & Sleep

Kolepastei

-

Die ster van hierdie eenvoudige braaipaai is die witsous wat jy met mosterd geur.

Jy benodig

(genoeg vir 6-8) 6 eetlepels botter 1 ui, fyngekap 500 g sampioene, in skyfies gesny 2 takkies tiemie (of 1 teelepel droë tiemie) 2 eetlepels koekmeel 200 ml melk 2 eetlepels heelkorrel­mosterd sout en swartpeper na smaak 2 rolle blaardeeg, ontdooi

Só maak jy

1 Smelt 4 eetlepels botter en braai die ui en sampioene met die tiemie daarin tot gaar. Geur dit met sout en peper. Skep die mengsel uit en hou dit eenkant. 2 Smelt nou die oorblywend­e 2 eetlepels botter en voeg die meel daarby. Roer die mengsel goed todat dit ’n gladde smeer vorm, en braai dit vir ongeveer 2 minute. Haal die pot van die hitte af en klits die melk bietjies-bietjies by tot dit ’n dik witsous vorm. Roer die mosterd by en geur dit met sout en peper. Skep die sous uit en laat dit effens afkoel.

3 Rol een van die deegrolle oop op ’n snyplank. Smeer die witsous oor die deeg, maar los ’n rand van sowat 2 cm om die kante. Verf ’n bietjie water aan dié randjie.

4 Skep die sampioenme­ngsel eweredig bo-op die witsous. Rol die tweede rol deeg oop en sit dit bo-op die vulsel. Seël die rande reg rondom.

5 Verf ’n bietjie olie aan ’n skoon rooster. Sit die een kant van die rooster oor die deeg en draai alles om sodat die pastei én die snyplank op die rooster is. Haal die plank af en maak die rooster toe. Braai die pastei oor matige kole tot dit mooi bros en gaar is.

Weg Ry & Sleep sê As jy haastig is, kan jy sommer ’n gekoopte witsous gebruik en dit met heelkorrel­mosterd geur.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa