Passe, woude, mis…
Las sommer vroegtydig ’n dag of twee aan jou bespreking – Merry Pebbles en die Sabie-omgewing het heelwat te doen, en ’n naweek is hopeloos te kort.
Die omgewing van Sabie is sinoniem met bergpasse, natuurlike woude, mis en plantasies. Die dorpie lê toegevou in ’n vallei tussen die heuwels van Mpumalanga se Drakensberg. Dit maak nie saak uit watter rigting jy die dorp nader nie, jy gaan oor een of ander pas móét ry om daar uit te kom. En jy gaan heel waarskynlik mis kry, soms só dig dat jy skaars ’n paar treë voor jou kan sien en teen ’n slakkepas vorder.
Die Merry Pebbles-woonwapark lê teen die Sabierivier aan die einde van die dorp (soos jy uitry in Graskop se rigting). Wanneer jy die oord binnery, is dit dadelik duidelik die kinders swaai hier die septer. Dit is net fietse, skopfietsies en knortjorre waar jy kyk.
Maar dit raak ook rustig hier. In die middel van die dag loop die kamp so te sê leeg soos wat almal verkas om die omgewing met sy baie toerismeattraksies te gaan verken.
As jy so gelukkig is om langs die rivier te kamp kan jy heeldag met jou boek langs die water sit terwyl die forelle net so rustig in die water rondhang.
Laatmiddag begin dinge in die kampplek weer roer... dan begin rook bo die woonwaens uitstyg soos wat die kampvure aangesteek word.
Kies jou kol
Merry Pebbles se 200 genommerde staanplekke is in vier blokke (A tot D) gegroepeer, met geplaveide kamppaadjies wat tussen die blokke loop. Die staanplekke is gemiddeld 12 x 12 treë groot.
Blok A is die verste weg van die rivier en blok D die naaste. Die 20 oewerstaanplekke in blok D is die gesogste in die kamp en jy moet vroeg inboek om hier te kan tent opslaan – staanplekke word nie vooraf toegeken nie. Die laaste vyf staan-
plekke in dié ry (die verste weg van die ontvangskantoor) is die grootste en bied die meeste privaatheid. Maar jy is ’n entjie se stap weg van die badkamers, en omdat die kragbokse ver is, moet jy ’n ekstra verlengkoord onthou. In die res van die kamp gaan jy met ’n koord van 15 m regkom.
Die hele kamp is bedek met kikoejoegras wat selfs in die winter groen is. Die kamp is ook boomryk – in die somer sorg die bladwisselende bome vir lekker koelte, terwyl die wintersonnetjie jou wa lekker warm kan bak wanneer die bome hulle blare afgegooi het.
Staanplekke deel vullisdromme en die krane is langs die drie hoofpaaie wat parallel met die rivier loop. As jy dus in die middel van die blokke kamp, is jy ’n entjie weg van die naaste kraan.
Betonstormwaterpype wat in die grond geplant en met sand gevul is, dien as braaiers, maar hier is nie roosters nie. Bring jou eie braaier as jy nader aan jou tent wil vuurmaak.
Die kampligte is net langs die strate; pak dus jou kopflits in as jy in die donker oor ’n oop staanplek kortpad vat tot by die badkamer.
Skoonmaaktyd
As daar ’n kompetisie was vir die skoonste kampablusiegeriewe, sou Merry Pebbles op die wentrofee kon aanspraak maak. Die skoonmaakpersoneel is regdeur die dag aan diens tot laat saans, en die geriewe blink van bo tot onder.
Die oord se drie ablusiegeboue, een in blok B en twee in blok C, is in die middel van die staanplekke. Binne is al drie min of meer dieselfde toegerus en ewe netjies. Water word met sonkrag verhit.
Hier is teëls op die vloere en teen die mure, spieëls bo die wasbakke, hake vir klere, handewasseep, lugdroërs, kragpunte, vullisdromme en seepbakkies, bankies en klerehake in die storte.
Die mans- en vrouegeriewe is min of meer spieëlbeelde van mekaar met hier en daar ’n verskil soos ’n ekstra tafelblad vir die vroue. >
Blok B se ablusiegeriewe lyk na die nuutste van die drie. Dié blok het die grootste gemeenskaplike deel met baie beweegruimte binne. Die vier marmerwasbakke is in die blad gevorm en jy kan jou maklik verbeel jy is in ’n luukse hotel. Dié geriewe is ook die enigste in die oord wat rolstoelvriendelik is.
Die ander twee ablusieblokke is in blok C, enkele meters weg van mekaar. Die groter een van die twee is die oudste, maar oud beteken allermins koud, want binne is dit net so netjies soos die ander. Hier is maar min beweegruimte en jy staan ’n derde van die gang se breedte vol as jy jou gesig in die wasbak was. Hier is elf storte en agt toilette, maar net vier gewone wasbakke.
Aan die buitekant, weerskante van die gebou, is twee skottelgoedwasplekke, elk met vier wasbakke. Die kassettoilet se leegmaakpunt is agter die gebou.
Langs die groot ablusieblok is ’n aparte geboutjie met oop sykante – hier kry jy klerewasbakke, wasgoedlyne, strykplanke en nog drie skottelgoedwasbakke. ’n Waskamer met wasoutomate en tuimeldroërs is in die hoofgebou langs die drankwinkel.
Die derde ablusieblok, wat ook die naaste aan die rivier is, lyk binne soos die een in blok B, maar sonder die rolstoelvriendelike badkamer.
Hou jouself besig
Merry Pebbles het ’n indrukwekkende lys van aktiwiteite wat die kinders amper so opgewonde sal maak soos wanneer Kersvader begin geskenke uitdeel. Al die aktiwiteite begin of gebeur in die omgewing van die hoofgebou by die ingangshek.
Die kouewaterswembaddens is agter die hoofgebou, langs die speelparkie. Die twee reghoekige baddens het elk ’n glybaan, maar moenie te veel verwag nie. Die bane is nie hoog van die grond af óf baie lank nie, en die kinders gly stadig tot onder. Heel gepas vir die kleintjies.
Langs die swembad is die tennisbane (R100 deposito vir ’n raket plus R20 per uur – en bring jou eie tennisballe) en ’n speelparkie met ’n trampolien, twee houtklouterrame en ’n swaai.
Nie te ver hiervandaan nie is die twee warmwaterswembaddens waar die water tot ’n gerieflike 30 ºC verhit word. Dié swembaddens is net oop van 1 Mei tot 31 Augustus, tussen 9 vm. en 4.30 nm.
Langs die swembaddens is die buitelugskaakbord en minigholfbaan (R50 deposito vir die stok en bal plus R10 per uur).
By die ontvangskantoor is vierwieltrapfietse te huur waarmee jy deur die kamp kan ry (R100 deposito plus R50 vir 30 minute) en links van die kantoor is die ontspanningsaal waar jy DStv kan kyk, pool speel (R50 deposito plus R5 per spel) of die videospeletjies op masjiene uit die jare tagtig probeer baasraak (R2 per spel). Binnebande om op die rivier te ry is by ontvangs te koop.
Jy kan ook probeer om aandete te vang. Visvang is gratis en jy kan die reënboogforel hou, maar die bruinforel moet jy teruggooi in die water.
Die kinders het die tennisbaan en warmwaterswembad die meeste geniet. Mia was veral bly toe sy sien die winkel verkoop roomys! Ons hou daarvan om op gras te kamp en die uitsig oor die rivier na die berg se kant toe is baie mooi. Die ablusiegeriewe is baie netjies en altyd skoon.
Vir diegene in die gesin wat fiks genoeg is, is hier ’n hele paar bergfietsroetes wat almal by die kamphek begin. Onthou om jou permit (R30 vir 2 dae) by die kantoor te kry, want jy mag nie daarsonder op die roetes in die bosbougebiede ry nie. Jy kan ook by die ontvangskantoor reël vir ’n ervare fietsrygids wat jou die omgewing kan wys.
Die Loeriewandelpad (14 km), wat ook by die hek begin, neem 6 uur om te voltooi en jy moet ook ’n permit (R20 p.p.) hê.
As dit nóg nie genoeg is om die kinders besig te hou nie, kan hulle die slimfone en tablette uitpluk: die oord het gratis wifi.
Waarmee help ons?
Merry Pebbles se kampwinkel, drankwinkel en restaurant is in die hoofgebou by die ingang. Die kampwinkel is groot en spog met ’n groot verskeidenheid kruideniersware – die suikertande sal dolgelukkig wees met al die verskillende lekkernye. Jy gaan ook die drie dinge hier kry wat áltyd opraak oor ’n kampnaweek: hout, vuuraanstekers en ys. Binne die winkel is ’n kitsbank waar jy die meeste soorte bankkaarte kan gebruik.
Merry Pebbles se restaurant het à la carte-spyskaart met ’n verskeidenheid van geregte. Bevestig die tye wat hulle oop is by die kantoor.
Verken die Sabie-omgewing
As jy nie heeldag in die kamp wil rondhang nie, kan jy die dorp en omgewing >
gaan verken. Die Sabie Brewing Company in Hoofstraat brou bier op die perseel en jy kan biere met interessante name soos Glynn’s Gold, Cockney Liz en Wheelbarrow Weiss proe teen R70 vir sewe biere (100 ml elk). Jy kan hier ook iets bestel om die honger te stil.
In die omgewing rondom Sabie, minder as ’n uur se ry uit die dorp, kan jy jou lyf gouddelwer gaan hou in die geskiedkundige dorpie Pelgrimsrus (36 km), grotverkenning doen by die Sudwalagrotte (49 km), in verwondering staan oor die praguitsig by God’s Window (39 km) of met die Graskop Gorge Lift Co se hysbak 51 m afsak en oor hangbrûe en houtpaadjies die woud onder jou verken.
Vir meer inligting oor dié en ander besienswaardighede en doendinge kan jy gaan aanklop by die Sabie-inligtingskantoor waar Heather Berry jou vinnig in die regte rigting sal stuur. 013 590 5452
tourism@sabie-info.com
Laatmiddag begin dinge in die kampplek weer roer... dan begin rook bo die woonwaens uitstyg soos wat die kampvure aangesteek word.