’n Skeppie slaai?
Goeie ou vrugterol sorg vir ’n ander dimensie in hierdie pastaslaai – aan dít wat oorbly, kan jy sommer op pad snoep.
Jy benodig
(genoeg vir 4) 250 g pasta van jou keuse sout en swartpeper na smaak 1 pakkie (100 g) amandelvlokkies 1 groenappel 2 selderystokkies 1 groen soetrissie 40 g mango- of perskevrugterol
VIR DIE KERRIESOUS ½ koppie mayonnaise ½ koppie Griekse jogurt 2 eetlepels heuning 1½ eetlepels kerriepoeier ½ teelepel borrie 2 eetlepels perskeblatjang 1 eetlepel vars suurlemoensap
Só maak jy
1 Kook die pasta volgens die instruksies op die pakkie tot gaar. Dreineer en hou dit eenkant.
2 Meng al die bestanddele vir die sous goed saam en roer dit deur die pasta terwyl dit nog warm is. Proe en geur na smaak met sout en swartpeper. Laat dit eenkant afkoel.
3 Rooster die amandels in ’n droë pan tot dit ’n liggoue kleur kry – hou maar jou oog daarop, want neute verbrand baie vinnig en word dan bitter. Hou die geroosterde neute eenkant.
4 Sny die appel, seldery, soetrissie en vrugterol in blokkies van 5 mm en roer dit deur die pasta. Sprinkel laastens die geroosterde amandels bo-oor.
Weg Ry & Sleep sê Om te keer dat die appelblokkies bruin verkleur, druk die sap van ’n suurlemoen daaroor uit voor jy dit deur die slaai meng.