REDAKTEURSBRIEF
Spieëltjie, blindekol, flikker. Spieëltjies, rem, hande bly op die stuurwiel, stop. Handrem, clutch, tweede rat, balanseer die clutch, observeer reg rondom, handrem sak, ry. Blindekol, draai – push en pull! Jou hande mag nie kruis nie, hou die wa in die spieël dop terwyl jy draai, derde rat. En daar gaan jy…
Hierdie innerlike monoloog speel die laaste klompie weke telkens in my kop af wanneer ek ’n vierrigtingst opteken nader. Ek jok; dis minder van ’n monoloog en meer asof ek ’n ingeboude opname in my oor het van Retha, die bestuur skoolinstr ukteur, wat bevele voordra.
Ek is al anderkant 40 en het meer as 20 jaar terug my rybewys gekry nadat ek vir my bestuurstoets net langer as 20 minute saam met Baber Botha, die plaaslike verkeersbeampte, deur die strate van Parys in die Vrystaat gery het. Vooraf het ek die werftoets moeiteloos in my silwer Mazda 323 geslaag. Dit was eerlikwaar nie moeilik om met die “Silwer Vlam” parallel te parkeer nie.
Van daardie dag af was ek wettig op die pad met my kode 8. En ek kon boonop met hom sleep. Met die oorskakeling na die kaartrybewyse en nuwe kodes voor die aanbreek van die nuwe eeu, het ek outomaties ’n kode EB-rybewys gekry, wat beteken ek mag steeds sleep. En omdat ek by hierdie tydskrif werk, kom dit heel handig te pas.
Kyle is egter ’n ander storie. Hy is heelwat jonger en kyk jou met vraagtekens in die oë aan as jy praat van ’n kode 8, 10 of 14. Hy het ná 1998 sy kode B-rybewys gekry. Uit die aard van ons werk wil ons egter hê die man moet waens swaarder as 750kg kan sleep. Hy is aangesê om sy sleeprybewys te kry. Dit sou sommer ook ’n insiggewende storie maak oor ’n warm onderwerp.
Maar toe kry een of ander Slimjan die idee dat ons sommer twee soorte rybewystoetse met mekaar moet vergelyk. “Dan kan ons lesers beter ingelig word oor hulle opsies.” En só is ek afgevaardig om my in die wêreld van kode EC1 te begewe. En wat ’n interessante wêreld is dít nie.
Die resultaat van my en Kyle se avontuur begin op bl. 102 en ons gesels oor die leerlingli sensietoets en ons wedervaringe by ons onderskeie bestuurskole, waar Retha my onder hande geneem het. Omdat dit so ’n omvattende artikel is, publiseer ons volgende maand deel twee. En dís wanneer ek die strate van Parow invaar in ’n Nissan UD-lorrietjie met ’n wa op die haak en ’n toetsbeampte links voor.
Veilig reis!