Pieter sê
Wanneer jy wegtrek, kan jy die krag voel, maar dis asof die CVT-ratkas sy hand daaroor hou en nie alles eensklaps gee nie. Die kar trek lekker, maar dis nie daardie terugdruk-in-diesitplek-gevoel nie.
Al werk die ratkas spaarsaam met die krag, is die Outback wakker en reageer dadelik wanneer jy die versneller trap. Die oorskakeling van die ratte is net so glad soos die dubbelkoppelaarratkaste wat ’n mens onder meer in Volkswagens sien. Trouens, hierdie ratkas voel selfs effens wakkerder – ek vermoed slim sagteware speel ’n groot rol agter die skerms. Al is die CVT-ratkas in sy outomatiese modus, kan jy steeds die ratte met die ratspane beheer. As jy dit dan ’n rukkie los, skakel dit weer terug na die outomatiese modus. Wanneer jy oorskakel na die Manualmodus, kan ’n mens uiteraard self die ratte kies, maar die rekenaar laat jou byvoorbeeld nie toe om ’n te hoë rat te gebruik as jy te stadig ry nie.
Die enjin is lag-lag sterk genoeg om van die grootste waens op ons paaie te sleep – iets wat ooreenstem met sy tarragewig van byna 1 700 kg. Ons het ’n Surfer-woonwa gesleep en nie van hom geweet nie.
Die sessilinder loop doodstil, en op ’n manier is Subaru in ’n klas van sy eie. Kyk byvoorbeeld na al die inligting wat ’n mens in die instrumentepaneel sien. Op die navigasieskerm kan jy met die hulp van ’n grafiek selfs sien hoe diep jy die versneller wegtrap. Dit lees in persentasie-intervalle
– dit is die eerste keer dat ek so ’n lesing in ’n voertuig sien. Tussen die twee analoë meters voor jou in die instrumentepaneel is ’n elektroniese skermpie waar jy kan kies om die spoedlesing digitaal te sien. Wat dit nóg meer prakties maak, is dat die spoedperk van die spesifieke pad waarop jy ry, langsaan vertoon word.
Die digitale horlosie sit op ’n vreemde plek: onder in die middelste paneel – dit lyk of dit deel vorm van die lugreëlingstelsel.
Die handrem is die elektriese soort, maar hy gee nie outomaties bes as jy wil wegtrek nie – nie voor die bestuurder se sitplekgordel ingeklik is nie. Dis ’n eerste vir my en ’n slim veiligheidskenmerk.
Die Outback het ’n lang bak, en soos die wa se neus op die haak druk, voel ’n mens dit – iets wat op sy beurt die rit ook stamperiger maak.
Die Outback is eerlikwaar die perfekte sleepvoertuig, veral met dié lieflike ratkas. Hoe langer ek agter die stuur sit, hoe meer raak ek verlief...