Uitmekaartrekbrood
UITMEKAARTREKBROOD
Kom breek ’n broodjie
Hierdie brood het ’n kaserige vulsel en word só aanmekaargesit dat jy dit nie hoef te sny as dit gaar is nie. Jy trek dit bloot uitmekaar.
Jy benodig (genoeg vir 4)
2½ koppies koekmeel 2 teelepels suiker 1 teelepel sout ½ eetlepel kitsgis
1/3 koppie melk ½ koppie botter 3-4 eetlepels water 2 groot eiers
1/3 koppie rooisoetrissiepesto ½ koppie roomkaas 1 pakkie (200 g) spek, gebraai en in klein stukkies gesny 1 koppie gerasperde cheddarkaas
Só maak jy
1 Meng die meel, suiker, sout en gis saam in ’n groot mengbak.
2 Verhit die melk en botter saam tot warm sodat die botter kan smelt. Roer dan die water daarby en laat dit effens afkoel sodat dit louwarm is voordat jy dit by die meelmengsel gooi. Roer alles deeglik saam om ’n deeg te vorm. Voeg die eiers een-een by en knie die deeg goed ná elkeen.
3 Keer die deeg uit op ’n oppervlak waarop jy meel gesprinkel het, en knie dit vir ongeveer 10 minute tot die deeg sag en effens taai is. Voeg 1-2 eetlepels meel by as dit te taai is om te knie, maar moenie meer as dit byvoeg nie. Sit nou die deeg terug in die bak, bedek dit met kleefplastiek en laat dit op ’n warm plek rys tot dubbel die volume.
4 Lig die gerysde deeg versigtig uit die bak en sit dit terug op die meelbestrooide oppervlak. Klop en trek die deeg tot dit losweg ’n reghoek vorm, en rol dit dan uit tot ’n groot reghoek van 30 x 50 cm.
5 Meng die pesto en roomkaas en smeer die mengsel egalig oor die deeg. Sprinkel dan die spek en kaas oor – druk dit effens vas op die deeg. Sny die reghoek eers in die breedte in 4 eweredige stroke en dan ook in die lengte in 4 eweredige stroke. Jy sal nou 16 porsies hê. Maak nou 4 stapeltjies van 4 stukkie deeg elk.
6 Smeer ’n gietysterbroodpan met botter of voer dit uit met bakpapier. Pak die stapeltjies deeg in die broodpan sodat dit soos snye brood in die pan lyk. Sorg dat die eerste en laaste stapel se ongevulde kant na die broodpan se rand wys. Bedek die pan losweg en laat dit vir 30 minute op ’n warm plek staan om weer te rys.
7 Sit ’n stukkie bakpapier wat met botter gesmeer is losweg bo-oo die brood en sit dan die deksel op. Skep 4 kleinerige kole op die deksel en bak dan die broodjie op ’n rakkie of rooster oor matige kole vir 30-40 minute.
8 Keer die brood uit en laat elkeen vir hom- of haarself ’n stuk afskeur.
Weg Ry & Sleep sê Jy kan enige pesto gebruik – roketpesto en brie is ’n heerlike smaakkombinasie wat jy in die plek van die cheddar en soetrissiepesto kan gebruik.