Die baanbreker kom weer
Isuzu se mededingers het van krag tot krag gegaan in die sportnutsvoertuigmarksegment, maar met die nuwe mu-X het Isuzu sy moue opgerol en tot die geveg toegetree. Kyle Kock neem hom onder hande.
Onthou jy nog die ou Isuzu Frontier, daardie klein sportnuts uit die jare negentig wat desjare nogal as ’n groot motor geag is? Wat het van daardie pionier geword? Op sy tyd was hy een van die eerste sportnutse in die plaaslike mark wat op ’n bakkie gegrond is. Wel, hy en die Nissan Sani. En albei was aan die voorpunt van ’n nuwe era waarin ’n spoggerige voorkoms gekombineer is met betroubare vermoë.
Dit was ’n dekade voor ander vervaardigers meer aandag aan sportnutse begin gee het, en sedertdien het dié soort rygoed ongelooflik gewild geraak. Ongelukkig vir Isuzu is die Frontier soos ’n stiefkind behandel toe General Motors SA besluit het om Chevrolet se Trailblazer as hoofseun aan te wys.
’n Goeie plek om te begin
GMSA het hom egter uit die land onttrek en Isuzu Japan het tot die redding gekom deur in die Struandale-aanleg in die Oos-Kaap te belê en plaaslike bedrywighede oor te neem. Die mu-X is die jongste toevoeging tot Isuzu se “passasiersvoertuig”-aanbod, wat voorheen net uit die KB-dubbelkajuitbakkies bestaan het. Hy is basies ’n varser weergawe van die Trailblazer.
Die ooreenkomste is die duidelikste wanneer jy die mu-X van die kant af bekyk, maar hy word met unieke allooiwiele toegerus om hom verder van die Trailblazer te onderskei. Dan is daar ’n hele nuwe neus met groot hoofligte en ingeboude dagryligte wat ’n unieke patroon vorm en sterk aan ’n omgekrapte bul herinner. Die sierrooster kry ’n stewige dosis chroom, wat sorg vir ’n treffende kontras met die swart bakverf van die toetsvoertuig. Jy kan ’n gepoleerde bufferstaaf van vlekrye staal as ’n opsionele ekstra bestel, maar dit voel effens oorbodig.
Die agterkant is op soortgelyke wyse herontwerp, met meer detail op die agter- en misligte, wat nou ook hoër op die agterbuffer geplaas is.
Bekende binneruim
Isuzu het wat die binneruim betref, die dinge van die verlede agtergelaat. Die instrumentepaneel is basies presies wat jy in die KB sal aantref, maar dit lyk of Isuzu moeite gedoen het om die passasiers geriefliker te laat ry. Die binneruim is oortrek met sagte oppervlakke en leerbekleedsel. Die sitplekke is sag dog
ferm en die armpies agter die stuurwiel het ’n soliede en gerusstellende gevoel.
Die opmerklikste nuwe toevoeging is die raakskerm in die middelkonsole wat die inligtingen vermaakstelsel huisves. Hier kies jy onder meer van watter platform jy jou musieklys vir die langpad wil speel. Jou opsies sluit in ’n CD-speler, USB-sok, ’n sok vir ’n eksterne bron (auxiliary) en selfs HDMI. Die passasiers in die tweede ry sitplekke het ook ’n sê en kan hulle toestelle by die USB-sok tussen die twee voorsitplekke inprop.
Die tweede ry sitplekke kantel terug en vorentoe in ’n 70:30-verhouding, en wanneer jy die hefboom teen die sitplek trek, vou dit plat en skuif tot teen die voorsitplekke. Dit maak toegang tot die derde ry sitplekke soveel makliker. In dié ry is twee individuele sitplekke met sitplekgordels. Hier agter is genoeg plek vir ouer kinders, maar daardie tiener met mis in sy skoene gaan kla oor die beenruimte, selfs met die tweede ry sitplekke vorentoe geskuif. Die tweede en derde ry sitplekke het egter hulle eie lugreëlinggate in die dak.
Beproefde betroubaarheid
Die 3 ℓ-turbodiesel is effens groter as die Traiblazer se 2,8 ℓ-weergawe, en die groter enjin hoef nie so hard te werk om sy 130 kW en 380 Nm wringkrag uit te skop nie. Dié enjin doen reeds diens in die KB; dus was dit nie vir Isuzu nodig om ’n nuwe enjin van voor af te ontwikkel nie.
Die mu-X gebruik ’n opgegradeerde sesspoedoutomatiese ratkas, waar die vroeëre >
weergawes van die KB ’n vyfspoed- outomatiese ratkas gehad het.
Wat modelle betref, kan jy kies tussen ’n 4x4 en ’n 4x2 – verder lyk die motors presies dieselfde. Daar is nie intreevlakof premiummodelle om van te kies nie. Die 4x4 is R50 000 duurder.
Ons toetsmodel was ’n 4x2 met ’n goeie grondvryhoogte vir wanneer die pad effens meer ongeskik raak.
Ons het die mu-X met sy agterwielaandrywing vol passasiers by Dirt & Dust buite Durbanville op die proef gaan stel en hy het hom heel goed van sy taak gekwyt. Natuurlik raai ons jou nie aan om in kniediep modder met hom te ry nie, maar sy 600 mm waaddiepte is heel skaflik vir ’n waterkruising.
Ten spyte van sy Bridgestone Dueler-bande – wat meer geskik is vir teer – en treeplanke het die mu-X heel vernuftig oor die rantjies en heuwels van die hindernisbaan klaargekom op plekke waar jy nie laestrek of vierwielaandrywing nodig het nie.
Padlangs
Wat die jongste tegnologie betref, is sy mededingers die mu-X dalk ’n bietjie voor, maar dit beteken nie die Isuzu is ver agter nie. Die enjin klink effens grof wanneer jy hom in die koue aanskakel, maar die gekletter raak sagter namate die ratkas die wringkrag na die agterwiele stuur en die mu-X begin ry. En hoewel die enjin meer ouskool is, is hy allermins lui as jy die wringkragkurwe net onder 3 000 r.p.m. hou. As jy in ag neem dat ons week met die Isuzu elke dag 36 km in swaar verkeer ingesluit het, is die gemiddelde brandstofverbruik van 9,1 ℓ/100 km prysenswaardig, veral as jy in ag neem dat die kar meer as 2 t weeg.
Moet jy hom koop?
Ons gaan nie probeer voorgee dat handelsnaamlojaliteit nié ’n groot rol speel wanneer Suid-Afrikaners nuwe motors koop nie, want dit is inderdaad die geval. Isuzu se aansien hier op eie bodem én internasionaal is baie sterk. Dalk moes die mu-X ’n paar jaar vroeër sy buiging gemaak het, want sy mededingers soos die Toyota Fortuner en Ford Everest het intussen die grootste deel van die marksegment vir hulle gevat. Moet egter nie verbaas wees om binnekort ’n hele klomp van die mu-X’e op ons paaie te sien nie. Dit is ’n stewige en bekostigbare sportnuts wat aanklank sal vind by baie voornemende kopers.
Dit is ’n stewige en bekostigbare sportnuts wat aanklank sal vind by baie voornemende kopers.