CLANWILLIAM
Om jou kamp langs water op te slaan is soos roomys op ’n wafel met stroop – net sóveel lekkerder. Ons haak weerskante van Clanwilliam teen die Olifantsrivier af.
Die Bulshoek- en Clanwilliamdam het meer as een ding in gemeen: Eerstens skiet die besige N7 neffens hulle verby en tweedens vloei die Olifantsrivier deur albei tot dit uiteindelik by die Weskus in die see loop. Maar wat ons veral opgewonde maak, is die lieflike plekke teen albei damme waar ’n mens kan kamp opslaan. En elkeen het sy eie karakter. By die Rondeberg-vakansieoord, langs die kleiner Bulshoekdam, kamp jy met ’n klomp luukshede, terwyl jy by die Lebanon Citrus-vakansiesplaas op die oewer van die Clanwilliamdam rus vind tussen lemoenboorde en die waters aan die ander kant. >
RONDEBERG-VAKANSIEOORD Daal tot in die vrede
Die Rondeberg-oord lê langs die N7 – ’n mens sou dink ’n kampplek langs dié besige pad tussen Suid-Afrika en Namibië is nie ’n goeie ligging vir ’n woonwapark nie, maar dit is allermins die geval.
Wanneer jy van die N7 afdraai en by die hek inry, staan jong dadelbome weerskante van die reguit grondpad wat jou laat voel asof ’n erewag jou by die oord verwelkom. Verder, agter die bome, staan netjiese wingerde. Die paadjie van 400 m neem jou tot langs die ontvangskantoor waar ’n valhek jou keer.
Die oord lê in ’n kom en is ’n goeie 50 m laer as die grootpad. Die verkeer is nie steurend nie en jy word omring deur natuurskoon. Net agter die kantoor is die ronde koppie waar die oord sy naam kry, en die terrein loop van hier af tot by die Bulshoekdam. Die dam kry sy water van die Clanwilliamdam, met die rivier wat 20 km tot hier kronkel.
Die kantoor doen ook diens as ’n beskeie winkel en op die een rak staan onder meer ’n paar blikkies sousbone, sonneblomolie, ’n paar brode en ’n hopie servette. Op die rak regs is produkte wat Rondeberg se mense self maak. Op die etiket van die varkribbetjiemarinade (R26 per botteltjie) en op dié van die makataan-en-grenadellakonfyt (R45) staan “Dam lekker”.
Die ontvangsdame ken ’n staanplek aan jou toe en jy kry ook die kode vir die valhek langs die kantoor.
Die meeste van die staanplekke in die middel het ’n vierkantige geboude klipaltaar as braaiplek, maar jy moet jou eie rooster saambring.
Kry jou ‘sitplek’
By Rondeberg sien ’n mens omtrent al die soorte staanplekke wat jy moontlik by kampplekke sal teëkom – van gewone grasstaanplekke met min of meer geen koelte nie tot die heel luukse staanplekke waar jy jou eie badkamer het.
Die uitleg van die staanplekke laat ’n mens dink aan ’n musiekteater. Die dam is aan die een kant die verhoog met die middelste staanplekke wat die rye sitplekke vorm. Die ry van ses staanplekke heel regs is hoër, op ’n terras, en vorm die goedkoper “losies”. Die “gesiene buurt” se 10 staanplekke is links en dis hier waar jy die gerief van jou eie badkamer het.
Die tuinier hou sy hand op die groen grasperk en die kinders kan maar plakkies uitskop, want hier is nie dorings nie.
Die grasperk is só dig dis nie eens nodig om jou grondseil uit te gooi nie.
Die meeste van die staanplekke in die middel het ’n vierkantige geboude klipaltaar as braaiplek, maar jy moet jou eie rooster saambring. Hier staan wel ’n paar los staalbraaiers ingeval jy vasbrand.
’n Mens sien oral waterkrane en driepuntkragpunte. (’n Verlengkoord van 10 m sal meer as voldoende wees.)
Hier is bome, maar hulle gooi nie watwonderse koelte nie. As jy die son op jou staanplek wil keer, bring veiligheidshalwe jou eie koeltemaakding saam.
Die terras met sy ses staanplekke langs mekaar het soortgelyke koelte, maar die braaiplekke is beter ingerig. Op die geboude braaiplek staan ’n staalraam waarin die rooster pas – dit is só gemaak dat die rooster se hoogte verstel kan word. Die kragpunt is teen ’n paaltjie langs die braai vasgesit en die lig wat jy self kan aan- en afskakel, bo-op die paaltjie. Hierdie staanplekke is wel effens beknop, want dit is afgemerk in blokke wat ongeveer 7 x 7 m groot is. Ons middelslag- Quantum Comfort-woonwa het die een hele kant van die staanplek volgestaan en ons moes ons sleepvoertuig aan die oorkant van die staanplek gaan parkeer.
Ons hou van die stilte. Die mense agter ons het ’n bietjie geraas, maar dis eerder ’n geval van ons ouer mense wat meer geduld met die jong klomp moet hê. Ons hou van die ses staanplekke langs mekaar, want dis die plekke waar die meeste kampeerders kom en gaan. Oor die laaste 35-40 jaar het ons al baie goeie vriende gemaak met mense wat ons by kampplekke ontmoet het.
Badkamer uit die boeke
Die badkamer vir die onderste en terrasstaanplekke is op die punt van die terras die verste van die kantoor af. Tussen die mans- en vrouegeriewe is ’n waskamer vir wasgoed én skottelgoed. Die tuimeldroër en wasmasjien werk met ruilmunte wat ’n mens by die kantoor kry. Dit kos R10.
Ons kan nie genoeg beklemtoon hoe skoon die ablusiegeriewe is nie. Dis nou nie die toonbeeld van modieuse ontwerp nie en jy kry nie marmerblaaie nie, maar dit is doodeenvoudig en skoner as skoon. Die drie wasbakke staan eenkant en dinge kan beknop raak as jy en albei jou buurmanne gelyk staan en tande borsel. Die twee storthokkies het elkeen ’n droë kant met ’n houtbankie, maar dis die matjie voor die stortgedeelte wat ’n mens se oog tref. Wanneer jy uit die stort klim, is dit nie nodig om met jou warm voete op die koue vloerteëls te trap nie. ’n Mens sou dink ná ’n dag of wat gaan die matjie nat wees van al die verkeer, maar hy was deurentyd droog.
’n Mens se moed sak in jou skoene as jy sien ’n stortgordyn moet die water binne die stortgedeelte hou. Maar die stort is só ruim dat jy ver genoeg van die gordyn af staan – hy pla jou glad nie. >
Die staanplekke met hulle eie badkamers is in twee verdeel. Die eerste ses is drie geboue waarvan die badkamer en oop kombuisgedeelte aan mekaar grens. Voor die kombuis is ’n onderdakstoepgedeelte met plaveisel en die braaiplek, en jy het ’n groot staanyskas en mikrogolfoond in die kombuis. Die badkamer is ’n vertrek met sy eie deur.
Die tweede stel staanplekke – vier van hulle – is staanplekke wat jy nie sommer by enige kampplek sien nie. Dié vier deel twee huisies en het ook die geriewe van die eerste lot, maar met ’n ekstra bonus: Elkeen het ook ’n vertrek met vier beddens waarvan die beddegoed ingesluit is. ’n Mens kamp omtrent langs jou eie woonstelgebou.
As uitsig die maatstaf is vir jou staanplek, is hier twee langs mekaar digby die water. Jy kyk uit oor die dam en hulle is heel links voor teen die water. Skuins agter hulle is ’n klipbadkamergebou met vier vertrekke. Twee van die vertrekke word elkeen aan die spesifieke staanplek toegewys; jy kry ook ’n sleutel om die deur gesluit te hou. Hierbinne is ’n wasbak en toilet, en die stort is oop.
Voor die kombuis is ’n onderdakstoepgedeelte met plaveisel en die braaiplek, en jy het ’n groot staanyskas en mikrogolfoond in die kombuis. Die badkamer is ’n vertrek met sy eie deur.
Ontspan die vere
Die klimraam met swaaie is tussen die middelste staanplekke en die dam, en toevallig op ’n baie praktiese plek gebou. ’n Mens kan naamlik die speelplek van die meeste staanplekke af sien. Jy hoef dus nie kort-kort te gaan loer of die kinders nog soet speel nie. Die sandput is langs die klimraam en die pypbuiteraam van ’n ou trampolien hou die sand binne.
Die swembad is skuins agter dit, in die rigting van die berg.
Jy mag in die dam hengel en jy kan verwag om baars en karp te vang. Die vis moet wel terug water toe nadat jy hom uitgetrek het. Rondeberg het ’n ordentlike boothelling waar jy jou boot te water laat, maar jy moet al jou lisensies vir jou en die boot saambring – dit kos R100 ekstra.
Die sirkelwandelroete om die kop is ’n moet. Dit is 4,6 km lank en hier is geen sprake van op- of afklouter nie. Die voetpaadjie volg merendeels die kontoer van die kop wat dit eerder ’n rustige uitstap-
pie maak. Die paadjie begin skuins agter die kantoor – dit is behoorlik gemerk. Eers stap ’n mens deur ’n jong olyfboord waarna jy stelselmatig die eerste gedeelte begin klim. Dis ’n lieflike uitsig van hier af oor die oord en ’n mens sien die kilometers wat die Bulshoekdam die verte in strek. Soos ’n mens om die kop vorder, sien jy naderhand die Olifantsrivier doer onder in die vallei – nou loop jy op die rand van ’n rotsbank. Hier iewers is glo ’n afdraai na ’n grot, maar ons het nie die afdraaipyltjie gesien nie. Soos die roete sy laaste draai maak, sien ’n mens die dam se wal waar dit ’n breë stroom water deur een van die sluise spoeg. Die voetpaadjie loop hier teen ’n grondpad vas en neem jou terug tot by die kantoor. As jy dit rustig vat, is dit twee uur se stap – dis selfs maklik genoeg vir jong kinders. >
Net soos by Rondeberg draai ’n mens van die N7 af na Lebanon Citrus, maar die sinkplaatgeryde klippaadjie is eerder ’n teken van wat voorlê as jy verder die Sederberg inry. Dis die afdraai ná Algeria, 25 km anderkant die Clanwilliam-afdraai.
Algeria is reguitaan met die pad, maar 1,6 km verder, oor ’n betonlaagwaterbrug, draai ’n mens links af na die vakansieplaas. Dié brug is meer as net ’n manier om oor die breë Olifantsrivier te ry; links van die brug lê kubieke meters skoongespoelde riviersand amper gelyk met die brug. Die sand is aanloklik en ’n mens kan nie anders nie as om eers gou skoene uit te trek om die sand tussen jou tone te voel. Die sand lyk soos die brug se eie strand, en ’n groter sandput vir die kinders gaan ’n mens nie hier langs die pad raakloop nie. Die skoon waters van die Olifants los jou ook nie hier nie, want vir die volgende paar kilometer bly die rivier aan jou linkerkant tot by Lebanon Citrus.
Nadat die kinders die sand van hulle lywe afskud, lê die tweede aangename verrassing voor: Die pad al langs die rivier, saam met die mooi omgewing, maak selfs net die rit die moeite werd. Die gladde grondpad klim naderhand hoog op teen die rante van waar ’n mens omtrent die rivier se kronkels uit die lug kan sien. Waar die netjiese pad plek-plek nie ’n enkelbaan is nie, loop die grondpad in drie rye spore en ’n mens moet hoop niemand kom van voor af met nog ’n breë woonwa nie. Iemand sal ’n ver ent moet terugstoot. Op dele skuur ’n mens omtrent letterlik skouers met groot rotsbanke teenaan die pad wat jou behoorlik verdwerg. Die pad het hier en daar slegte kolle, maar teen 30 km/h sal ’n gewone woonwa in een stuk bly. Op die een punt sien ’n mens ’n holkrans regs van die pad; van nou af ry jy op Lebanon Citrus se grond (al is die plaashek nog ’n paar kilometer vorentoe). Die rivier het nou begin opdam om die Clanwilliamdam te vorm – die damwal is nog ’n goeie 14 km verder.
Draai af en draai om
Die afdraai na die kantoor is regs van die mooi grondpad en ’n mens moet ’n steil entjie tussen lemoenboorde en palmbome – met net sulke mooi roosbome – opry. Regs van die pad staan ’n stokou woonwa wat lyk of iemand besig is om dit te restoureer. Die plaashuis is nou links, met die kantoor by die eerste deur in.
Hier is genoeg plek om met jou woonwa om te draai. Jy moet weer uit by die hek, ’n paar treë regs af in die pad en dan links tussendeur nog boorde water se kant toe. Die lemoenbome lyk gesond en groei tot teenaan die pad. As jou woonwa enigsins breër is as jou sleepvoertuig,
gaan dit plek-plek teen van die bome se takke skuur.
’n Bordjie voor in die pad waarsku ’n mens teen vliegtuie, en ’n mens steek ’n landingstrook oor om tot by die kampplekke te ry. Trouens, dit is makliker om met die landingstrook links af te ry as jy op een van die ver staanplekke wil staan. Andersins kan jy reguit oor die strook ry waar die grondpad links gaan en die staanplekke begin. Kort houtpaaltjies is weerskante van die paadjie geplant. Met ’n lang sleepkombinasie sal ’n mens wyd moet draai en die linkerspieël fyn dophou om nie een van die paaltjies met die wa te tref nie.
Eendjies, eendjies staan in ’n ry
Die staanplekke is almal langs mekaar in ’n ry en pas tussen die landingstrook en die oewer van Clanwilliamdam in.
’n Mens kan die staanplekke in drie groepe verdeel waarvan die eerstes die ruimste is. Al Lebanon Citrus se staanplekke het lieflike gras, en jou driepuntkragprop en kraan is naby. Die meeste van die staanplekke het ’n heining van geplante boompies met ’n oop voorkant na die water toe.
’n Mens gaan ver soek vir groter staanplekke as die eerste ses. Hulle is ’n goeie 17 x 10 m, en buiten jou eie klein plasie is daar amper dubbel soveel ruimte voor jou tot teen die water. Jou braaiplek is van klip gebou en staan by die oewer, maar jy moet jou eie rooster saambring.
Die volgende staanplekke, nr. 7-15, is nader aan die standaardgrootte waaraan ’n mens gewoond is (7 x 9 m) en dis ook makliker om by hulle uit te kom as jy met die landingstrook langs ry. Die ingang is oorkant die verste badkamer, maar dubbelaswoonwaens gaan byvoorbeeld nie op hierdie staanplekke inpas nie. Die grasstrook voor hulle tot by die water is smaller en hier is meer koeltebome as by die eerste staanplekke. Buiten die gewone kragsok – en die volgende groep staanplekke – is hier plek vir jou blou Fredlinprop. Op jou staanplek is ’n gemesselde braaiplek (ook sonder ’n rooster). >
Die skoon waters van die Olifants los jou ook nie hier nie, want vir die volgende paar kilometer bly die rivier aan jou linkerkant tot by Lebanon Citrus.
Die volgende agt staanplekke is weer ’n aks groter en jou braaiplek is oorkant die inrypad. Hier staan plante teenaan die dam wat beteken jy het nie direkte toegang tot die water nie.
Die opwasplek is tussen die eerste twee groepe en is bloot twee wasbakke in die oopte waar jy met koue water gaan moet klaarkom.
As jy ’n boot saamgebring het, is die boothelling in die draai net voor die eerste staanplekke. Dis ’n mooi skoongemaakte kol op die wal waar jy jou bootsleepwa in die water kan trek sonder enige kante waarmee jy hoef rekening te hou.
Was agter hout en steen
Al drie die badkamergeboue is anderkant die landingstrook. Twee van hulle is bymekaar digby die eerste staanplekke, terwyl die derde een onder by die laaste staanplekke is.
Die eerste twee geboue is langs mekaar: die een is ’n steengebou en die ander van hout – amper soos ’n Wendyhuis. Dit lyk of die steengebou eerste gestaan het: Hierin is twee badkamers elk met ’n toilet, wasbak en stort. Die stort het ’n gordyn voor en die plek agter dit is ruim genoeg dat die gordyn nie aan jou lek nie.
In die houtgebou is drie afsonderlike badkamervertrekke met soortgelyke geriewe. Dis ruim genoeg dat meer as een mens dit gelyktydig kan gebruik. Al is die vertrek van hout, is die vloere eienaardig genoeg geteël.
Die verste badkamers is ook ’n houtgebou en lyk na die nuutste van die drie. Die gebou staan teenaan die landingstrook en het ook drie vertrekke. Anders as die ander houtgebou s’n is dié een se toilet oop en die vloer het ’n soort Novilon-afwerking. Die storthokkie het ’n glasdeur, maar wees versigtig voor jy die water oopmaak. Van die stortkoppe staan só dat wanneer jy die water oopmaak, spat jy jouself buite die stort nat. Draai die kop eers kant toe voor jy oopmaak. Al drie die badkamers se warm water kom van gasgeisers af.
Die grond in die vlak dele van die water is sanderig en sal nie in ’n modderspul ontaard as die jong klomp hier wil speel nie.
Water beteken voëls
Al is jy nie ’n voëlkyker nie, kan ’n mens nie anders as om jou te verkyk aan die geveerdes langs die water nie. Een van die spesiale ouens hier is die wildemakou, wat amper soos ’n swart swaan lyk as jy vinnig kyk. Maar anders as ’n swaan is dié swart voël omtrent mooi van lelikheid.
As hy sy vlerke sprei om te vlieg, sien jy eers hoe groot hy werklik is. Wildemakoue en kolganse kies soms ook eenderse weivelde, en dis ook die geval hier by Lebanon Citrus. Moenie verbaas wees as jy die kolganse twee-twee saam sien nie – ’n kolgans kies een maat in sy lewe.
Die tien stuks swart “eendjies” wat heen en weer voor die staanplekke in die water dryf, is in der waarheid allesbehalwe eendjies; hulle is bleshoenders.
G’n tande te tel
Hier is nie geriewe soos ’n parkie om die kinders besig te hou nie, en ook nie swembaddens of ’n trampolien nie. Die grond in die vlak dele van die water is sanderig en sal nie in ’n modderspul ontaard as die jong klomp hier wil speel nie. Maar dit is ’n plaas dié, en hier is meer as genoeg veilige oop ruimtes waar die kinders hulle kan besig hou. Fietse is sekerlik die beste antwoord, want die landingstrook is ’n lang oop stuk platgemaakte aarde van ongeveer 500 m waar hulle na hartelus kan trap.
Dit is ook nie lank nie voor ons jonges terug by die kamp kom met hulle fietse en ’n lemoen of twee in die plek waar die waterbottels op die fietse pas. Die oesseisoen is pas verby en die bome is weer vol bloeisels. Die kinders het met die inrypaadjie teen die kop uitgery en lemoene langs die pad opgetel. Van die vrugte lyk of hulle so groot soos ’n rolbal kan wees. Die eienaar, Paul Raad, verduidelik die beste grootte vir gehalte en smaak is ’n lemoen so groot soos ’n tennisbal. Paul sê vreemd genoeg verkies die Russe ekstraklein lemoene, want hulle wil hulle lemoen vir die dag in ’n kosblik kan pak.
Paul-hulle besit die meer as 600 ha al omtrent 30 jaar, en as ’n mens wonder waar die naam vandaan kom, lê die antwoord by Sue, Paul se vrou wat van Libanese afkoms is.